Wanneer ’n man laas in 2014 iets gewen het, is die bevrediging van ’n trofee nog groter, oortuig die Bulle-senter Cornal Hendricks jou met ’n lekker glimlag.

Cornal Hendricks sny deur ’n gaping in die Bulle se onlangse kragmeting met die Stormers op Loftus Versfeld in die plaaslike Superreeks. Foto: Gallo Images
Dié gewese Bolander was ses jaar gelede ’n lid van die Blitsbok-span, wat goud by die Statebondspele in Glasgow gewen het.
Hendricks was die laaste paar weke een van die sleutelspelers vir die Bulle, wat Saterdag op Loftus Versfeld as die Superrugby Unlocked-kampioen gekroon is.
“Dit is ’n wonderlike gevoel om weer iets te wen. Veral hier by die Bulle, wat in die afgelope tien jaar niks gewen het nie.
“Ons het dit Saterdag gevier, maar ons het nou ’n nuwe fokus op die Curriebeker-kompetisie.”
Hy is van mening die afrigtingspan wat Jake White, die Bulle se direkteur van rugby, die seisoen byeen gebring het, het die span weer op wenpad gekry.
“Ek dink ons afrigtingspan is ongelooflik. Ons het ’n duidelike plan en die ouens se uitvoering was goed.
“Coach Jake het dit ook reggekry om ’n goeie mengsel van ervaring en jong talent in die span te vestig.”
Hendricks, wat in 2014 en 2015 in 12 toetse vir die Springbokke gespeel het, het White beloon met ’n rits sterk vertonings sedert hy hom vanjaar as ’n binnesenter versool het.
“Ek is tevrede met my spel, maar ek leer nog baie. As jy iemand met Morné (Steyn) se ervaring langs jou het, is dit darem makliker.
“Hy is die gom wat ons agterlyn bymekaar hou. Hy maak my kalm met sy goeie besluitneming.”
Vir sy sentermaat, Stedman Gans, het hy die grootste lof.

Stedman Gans druk ’n drie teen die Stormers in die Superrugby Unlocked-stryd tussen dié spanne op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images
Trouens, as hy die nasionale afrigter was, sou hy Gans as die Springbokke se buitesenter gekies het.
“Ek doen maar die vuilwerk en hy druk al die drieë. Nee, hy is baie opwindend en druk nou sy stempel af in vyftienmanrugby.
“Jy wil nie hê mense moet jou brandmerk as net ’n sewesspeler nie. Stedman is ’n superster en ek sou hom beslis op nr. 13 kies vir die Bokke.”
En het hy self nog ’n begeerte om weer op toetsvlak te speel?
“Ek wil nie eintlik oor myself praat nie. Almal wil graag daar speel, maar ek wil net my kant vir die Bulle bring.
“Ek dink nie verder as dit nie.”
Hendricks sê hulle verwag dat daar Saterdag op Nuweland baie emosie sal wees wanneer hulle hul veldtog in die Curriebekerreeks teen die Westelike Provinsie begin.
Die WP sal dit ten alle koste wil vermy om – in wat moontlik die laaste stryd teen die ou vyand op Nuweland kan wees – aan die verloorkant te wees.
“Ons weet wat Nuweland vir hulle beteken en ’n ou moet daardie emosie omarm.
“Dit gebeur soms dat die emosie die oorhand kry en jy moet dit kan hanteer.”