Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Swak rand keer dat Bulle vir Lood kan behou

Die Bulle het alles moontlik gedoen om die Springbok Lood de Jager in Pretoria te hou. Ongelukkig vergeefs, sê Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy.

Die Sale Sharks het Woensdag bevestig dat De Jager, wat vroeër die seisoen die Bulle in die Superreeks aangevoer het, ’n kontrak van drie jaar met dié klub in Manchester, Engeland, gesluit het.

Lood de Jager is verlore vir die Bulle. Foto: Gallo Images

Hy is die eerste van die Bulle se senior Bokke om aan te kondig hy kies koers oorsee.

Dit kom nadat dit onlangs aan die lig gekom het dat die Franse klub Montpellier die Bok-losskakel Handré Pollard met ’n reuse-vergoedingspakket van sowat R20 miljoen per seisoen wil lok.

Die 26-jarige De Jager sal voor die begin van die Engelse Premierliga se 2019-’20-seisoen of ná afloop van die Wêreldbeker-toernooi (sou hy gekies word) by die Sharks aanmeld.

Meyer sê dit is ’n gevoelige slag vir die Bulle.

“Dit is jammer ons kon Lood nie oorreed om aan te bly nie. Ons het werklik ons bes probeer.

“Daar is vanjaar so ’n sterk en gebalanseerde span by Loftus met Springbokke soos Jesse Kriel, Handré Pollard, twee goeie skrumskakels (Ivan van Zyl en Embrose Papier), Duane Vermeulen, RG Snyman, Lood, Schalk Brits, Trevor Nyakane en Lizo Gqoboka.

“Ons sou so graag die groep vir nog ’n seisoen bymekaar wou hou, want daar is geen twyfel dat die span in die afsienbare toekoms groot welslae sou kon behaal nie.”

Steve Diamond, die Sharks se direkteur van rugby, is in sy noppies met dié kopie.

“Lood is van wêreldgehalte in die lynstane en hy het baie ervaring op die hoogste vlak. Hy bied ons ook ’n groot fisieke teenwoordigheid op die veld,” sê Diamond in ’n verklaring.

Meyer sê intussen Pollard het, volgens die Bulle se kennis, nog nie ’n kontrak met Montpellier onderteken nie.

Hy lei die Bulle Saterdag op Nuweland teen die Stormers in die Superreeks.

“Soos met Lood, doen ons alles wat ons kan met Handré. “Maar ons is terselfdertyd bewus van wat op die tafel is (Montpellier se aanbod).

“Ons probeer om ons spelers te laat inkoop in die vooruitsig om deel te wees van die Bulle se opwaartse fase. Die swak rand maak dit egter bitter moeilik.”

Daar word verneem dat nog ’n Springbok-slot van die Bulle, RG Snyman, ook eersdaags by Loftus sal kennis gee dat hy op pad is Japan toe.

Meer oor:  Bokke  |  Lood De Jager  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Bulle  |  Superrugby  |  Sale Sharks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.