Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tim Swiel se visier hoog gestel

Dis ’n sameloop van omstandighede eerder as die Westelike Provinsie se tjekboek wat hom terug na die Kaap gebring het, maar Tim Swiel hoop ’n pad wat by Manenberg Rangers begin gaan hom op ’n reistog neem wat hom mettertyd die Stormers se voorkeur-losskakel sal maak.

Tim Swiel duik oor vir ’n drie in die kleure van die Engelse klubspan Harlequins. Foto: Getty Images

“Natuurlik is ek hier om mee te ding om ’n plek in die beginspan. Ek is 26 en het groot ambisies, wat aangevuur word deur die Springbokke wat só goed vaar,” het Swiel Woensdag in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24 gesê.

Swiel het in 2013 nog in die kleure van die Westelike Provinsie opgedraf en destyds die omstrede besluit geneem om hom nie beskikbaar te stel vir die Junior Springbokke nie.

Hy het ’n Britse paspoort en het verkies om eers sy opsies oop te hou vir toetsrugby.

Swiel was in 2014 by die Haaie voordat hy na Engeland is om eers vir die Harlequins en daarna die Newcastle Falcons te speel.

Daar was ’n stewige aanbod uit Japan vir sy dienste, maar die noodlot en begeerte om vir die Stormers te speel het saamgespan om hom Kaap toe te bring.

Tim Swiel is nie in die Kaap om duiksakke te dra nie. Hy soek die nr.10-trui van die Stormers en Westelike Provinsie. Foto: Getty Images

“As ’n jong seun was dit my droom om eendag vir die Stormers te speel en ek is weg nog voordat ek dit kon vervul. Daardie vlammetjie is nooit ten volle geblus nie,” sê hy.

“My pa is in Februarie vanjaar skielik oorlede en alles het net só gebeur dat ek my nou op ’n plek bevind waar die droom nog ’n werklikheid kan word. Geld is nie die bepalende faktor in my lewe nie. Jy kry perspektief as jy só ’n tragedie beleef en besef hoe belangrik familie is.”

Ongeag of Swiel reg of verkeerd was met sy besluit in 2013, sal die WP en Stormers ongetwyfeld baat by die ses seisoene se ervaring wat hy in Engeland opgedoen het.

Maar, verklaar Swiel: “Hierdie is my land. Die SA o.20-ding was ’n bietjie omstrede, maar as ek nie Engeland gaan verken het nie, sou ek nie daardie hongerte opgebou het om terug te keer nie.”

Swiel het, voordat hy by die WP weg is, op o.21- en Vodacombeker-vlak onder John Dobson, die Stormers se huidige hoofafrigter, en Dawie Snyman, sy getroue regterhand, gespeel.

“My laaste herinnering van die WP was die oorwinning in die o.21-kampioenskap in 2013. Dít was onder Dobbo en Dawie en ons het ’n baie goeie span gehad,” sê hy.

“Ons het ’n goeie verhouding, maar ek soek nie gunste met my terugkeer nie. Ek wil op verdienste gekies word en emosie moet nie daarin ’n rol speel nie. Ek gaan hard werk en hopelik gebeur dinge van daar af.”

Swiel was in 2013 in die voorseisoen in die Stormers se groep, maar is weg voordat hy vir die Kapenaars kon speel. Foto: Getty Images

Dobson het dit al onomwonde gestel dat Damian Willemse die senior losskakel in die streek is, maar die beste sal slegs uit hom gehaal kan word as daar gesonde interne mededinging om die nr.10-trui is.

Daardie rol is deur Jean-Luc du Plessis vervul voordat hy sy kontrak opgesê het om by die Honda Heat in Japan aan te sluit.

Swiel, wat by Newcastle dikwels as ’n heelagter ingespan is, mik egter hoër as die plek op die plaasvervangersbank, wat Du Plessis meestal beskore was.

“Ek wil nou op losskakel fokus. Ek gaan die oudste losskakel by die Stormers wees en dit sal lekker wees om saam met die jonger ouens te werk. Dobbo en Dawie weet wat ek kan doen en hoe om die beste uit my te haal,” sê hy.

“Ek koester ook nog die ambisie om op die hoogste vlak te speel, maar wil klein treetjies neem en by die Stormers inskakel. Dan sal ek sien hoe dinge gaan.”

* Op klubvlak wil Swiel hom by Manenberg Rangers aansluit. Hy het as skoolseun saam Cheslin Kolbe en Marvin Orie feesrugby vir dié klub gespeel en hoop om daardeur ook ’n verskil in die gemeenskap te maak.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.