Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Swot net so lekker en taai soos rugby'

Damian Willemse sê om te studeer gee vir hom net soveel plesier as om rugby te kan speel. En, voeg hy dan by, “dis ewe uitdagend”.

Damian Willemse jil van plesier terwyl hy verlede jaar by die WB-toernooi sy eerste Springbok-drie druk. Foto: Getty Images

Die Stormers se veelsydige Springbok het nie op sy hande gaan sit en tob toe die Covid-19-pandemie die Superrugby-seisoen vroeg in Maart tot ’n stilstand gedwing het nie.

Terwyl die Stormers-losskakel en Wêreldbeker-wenner nie op die veld sy korrelwerk pale toe kon opskerp nie, het hy ’n ander manier gevind om sy lewe buite rugby te verbreed.

Die 22-jarige veelsydige Springbok het besluit om te begin studeer. Hy is nou besig om deur die privaat instelling Millpark Education vir ’n BA-graad te studeer. Kans vir studeer was daar nie eintlik vroeër nie, want hy het enkele maande nadat hy by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch gematrikuleer het, op 18-jarige ouderdom al sy Superrugby-debuut vir die Stormers gemaak.

Sedertdien was studie nie rêrig op die voorgrond nie.

Weens die staat van inperking het hy egter nou die kans gekry om ook na sy loopbaan buite rugbyverband te kyk. “Ek is in my eerste jaar en studeer in ’n bemarkingsrigting,” sê hy.

“Die feit dat ek studeer het my baie gehelp, veral nou tydens die inperking. Ek stimuleer my brein aanhoudend en dit is werklik goed vir my. Sowat ’n maand gelede het ek ook eksamen geskryf en ek sal binnekort met my nuwe modules begin.”

Daardie eksamen, sê hy laggend, is iets totaal anders as die drukkoker-eksamens wat hy Saterdae as losskakel of heelagter voor ’n volgepakte stadion aflê. Maar op ’n manier is die voorbereiding min of meer dieselfde.

“Dis alles teoretiese goed wat jy moet leer en oor skryf. Tog moet jy nes in ’n wedstryd goed voorbereid wees om seker te maak jy is 100% reg wanneer jy skryf.”

Willemse sal straks in die toekoms, indien daar vanjaar nog rugby is, as die nommereen-losskakel die Stormers en Westelike Provinsie moet lei. Dít nadat Jean-Luc du Plessis die Kaap vir ’n kontrak in Japan verruil het.

Jong losskakels soos Kade Wolhuter, Sacha Mngomezulu en Abner van Reenen sal straks nou onder Willemse moet leer.

Van die uitdaging om die jongelinge onder sy vlerk te neem, skram Willemse nie weg nie.

“ ’n Paar jaar terug was ek die jongeling in die groep. Dis ’n bevoorregte posisie waarin ek my bevind. Dis ook aanduidend van die siklus, met ervare losskakels wat die unie verlaat en die jonger geslag soos ek wat nou weer leiding moet gee.

“Ek ken Kade al van skooldae af. Hy was in gr. 8 en ek in gr. 11, so ons skop al van daai tyd af saam balle. Ons gaan egter dinge stap vir stap neem om hulle in te lei in senior rugby.”

Ek wil net op die veld kom, maar ons inperking is die realiteit.

Die feit dat die Stormers-afrigter, John Dobson, hom genader en ingelig het oor Warrick Gelant se koms van die Bulle af, is aanduidend van die respek wat Willemse afdwing.

Vir dié vertroue wat Dobson in hom gestel het, is Willemse ewig dankbaar. “Ek het nie verwag coach Dobbo sou my laat weet nie. Dit wys net hoeveel hy omgee. Hy wou my insae hê en ek kon my gedagtes deel oor wat ek van Warrick ervaar het tydens die Wêreldbeker.”

Volgens Willemse is dit ook effe frustrerend dat hulle nie tans kan rugby speel nie, veral omdat dinge vanjaar so goed gegaan het tydens die Superrugby-reeks.

Hy glo Nieu-Seeland, wat binnekort hul rugby hervat, gaan ’n voordeel hê bo ander spanne.

“Ek wil net op die veld kom, maar ons inperking is die realiteit. Natuurlik sal daai manne op ’n meer gevorderde vlak as ons wees. Hulle kan weer buite hardloop en in groepe oefen. Hulle is een tree voor ons.

“Ons fokus is egter om onsself fiks te hou en regtig die geleentheid aan te gryp wanneer ons weer kan speel. En hopelik is dit oor maand.”

Meer oor:  Stormers  |  Studeer  |  Damian Willemse  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.