Die Springbok-senter Francois Venter het sy kontrak met die Worcester Warriors met nog twee jaar verleng.

Francois Venter. Foto: Getty Images
Die 28-jarige Venter sal tot die einde van die 2021-’22-seisoen nog vir die Warriors beskikbaar wees.
Venter sê hy geniet alles van die klub.
“Ek hou ook van sekuriteit. Dit is iets wat die verlenging van my kontrak my hier bied,” het hy aan warriors.co.uk gesê.
Dis goed om weer te kan speel nadat ek aan die begin van die seisoen ’n bietjie met beserings gesukkel het.
Venter het Saterdag sy enkel beseer in die span se oorwinning met 20-13 oor die Sale Sharks in Worcester.
Hy het aan die begin van die seisoen ook las gehad van ’n kuitbesering, wat herhaaldelik opgevlam het.
“Dis goed om weer te kan speel nadat ek aan die begin van die seisoen ’n bietjie met beserings gesukkel het,” het hy gesê.

Francois Venter. Foto: Getty Images
Die wedstryd teen die Sharks, waarin Jean-Luc du Preez net voor rustyd met ’n rooikaart afgestuur is, was Venter se 29ste vir die Warriors nadat hy hom in 2018 van die Cheetahs af by die Britse klub aangesluit het.
Venter het reeds tien drieë vir die Warriors gedruk en is volgens Alan Solomons, die direkteur van rugby, ’n groot bate vir die span.
“Dis goeie nuus vir ons dat hy hom weer tot die klub verbind het,” sê Solomons, 'n voormalige Stormers-afrigter.
“Hy is ’n speler van gehalte met internasionale ervaring wat met sy fisieke styl en vaardighede groot waarde tot die span toevoeg. Hy is daarby ’n eersteklas ou en ’n uitstekende spanman.
Venter het in 2016 en 2017 sewe toetse vir die Springbokke gespeel en was kaptein van die Vrystaat-Cheetahs wat in 2016 die Curriebeker gewen het.