Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Swys: ‘Bulle is reg, dís wat ons gaan doen’
Handré Pollard lé; aan pale toe in die Bulle se kragmeting met die Jaguares. Foto: Getty Images

Die Bulle sê hulle weet wat om van die Leeus te verwag. Hulle is honderd persent reg, sê Swys de Bruin, die Leeus se breier.

Ondersteuners wat Saterdag na Ellispark opruk vir die Jukskei-derby weet waarskynlik ook wat voorlê.

“Ons wil drieë druk op Ellispark,” sê De Bruin.

Pote Human, die Bulle se breier, het in die aanloop tot Saterdag se Superrugby-kragmeting gesê hy verwag nie dat die Leeus van hul bloudruk van die afgelope paar jaar gaan afwyk nie.

“Ons weet wat om te verwag, ja. Maar dit gaan nie maklik wees nie, hulle is steeds die beste span in die land,” sê Human.

Ons weet wat om te verwag, ja. Maar dit gaan nie maklik wees nie, hulle is steeds die beste span in die land.
Pote Human

De Bruin het Human se vermoedens bevestig.

“Ons gaan net doen wat ons altyd op Ellispark doen, ons gaan hou by ons DNS. Ek hoor Pote en Pollie (Handré Pollard) sê hulle weet wat ons gaan doen.

“Hulle is heeltemal reg, dít is wat ons gaan doen. Ons gaan ons tipe rugby speel.”

Verlede jaar het die Leeus die Bulle met rolmaalbewegings tot oorgawe gedwing in albei die wedstryde wat dié spanne teen mekaar gespeel het. Gaan die Leeus dit weer doen?

“Nee, ons gaan net hoë hangskoppe loods,” skerts De Bruin.

Duane Vermeulen in die Bulle se Captain America-gewaad.

“Nee, kyk, ons het hulle verlede jaar gerolmaal. Hulle gaan voorberei om dit te stop. Pote is ’n baie goeie afrigter en hy sal hulle voorberei voorlangs.

“Hulle het ’n uitstekende span – hul ruggraat is puik met Schalk Brits, Duane Vermeulen, twee Springbok-skrumskakels, Pollard (losskakel) en Warrick Gelant (heelagter) daar.”

Die Bulle het gewis vanjaar ’n puik groep byeen en dit het duidelik geblyk uit die wyse waarop hulle die Stormers in die eerste ronde met minagting uit hul pad gevee het. Die Pretorianers sal nou wil wys daardie sege van 40-3 was nie ’n vloekskoot nie en dat hul nederlaag teen die Jaguares in Argentinië net ’n tydelike glipsie was en nie die begin van nóg ’n donker seisoen op Loftus Versfeld nie.

Die Leeus se vermoë om drieë te druk is al oor en oor bewys, maar in Embrose Papier, Pollard, Rosko Specman, Jesse Kriel, Cornal Hendricks en Gelant, onder andere, beskik die Bulle ook oor meer as genoeg flair agterlangs.

Harold Vorster, die Leeus se binnesenter, is dit eens.

“Hulle het skitterende spelers, veral agterlangs,” het Vorster vroeër vandeesweek gesê.

Pollard, wat die Bulle in die afwesigheid van Lood de Jager aanvoer, sê sy troepe is meer as gereed.

“Ons sal nie die ouens hoef op te sweep voor die wedstryd nie, dit sal vanself gebeur. Dit gaan meer daaroor om die ouens kalm te hou,” sê Pollard.

Elton Jantjies verlede week teen die Stormers in aksie. Foto: Gallo Images

Pollard se tweestryd met Elton Jantjies kan deurslaggewend wees.

Nóg veldslae wat die uitslag van die oorlog kan bepaal, sluit die skrums, lynstane en afbreekpunte in.

Die Leeus het in Carlu Sadie ’n uitstekende skrumwerker gekry. Hy kom teen die indrukwekkende loskop Lizo Gqoboka te staan.

By die lynstane kan die verlies van Warren Whiteley die Leeus kwel, veral wat lengte betref. Hacjivah Dayimani, wat Whiteley op agtsteman vervang, is lief daarvoor om met die bal te hardloop, maar is nog ongetoets in die lynstane.

Die Leeus het een van die kortste agttalle in die reeks.

By die afbreekpunte kom die Leeus se drie baljagters, Marnus Schoeman, Smith en die kaptein, Malcolm Marx, teen Duane Vermeulen en Ruan Steenkamp te staan.

Ja, die Bulle weet wat om te verwag. En hulle het boonop die personeel om hul ellelange wendroogte teen die Leeus te verbreek.

Maar die Leeus het nog ver van hul beste rugby in 2019 opgedis. As dít Saterdag gebeur, kan die Bulle dit liederlik ontgeld.

Die spanne is:

Leeus: Andries Coetzee, Ruan Combrinck, Lionel Mapoe, Harold Vorster, Aphiwe Dyantyi, Elton Jantjies, Nic Groom, Hacjivah Dayimani, Marnus Schoeman, Kwagga Smith, Stephan Lewies, Rhyno Herbst, Carlu Sadie, Malcolm Marx (k), Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Pieter Jansen, Sti Sithole, Frans van Wyk, Robert Kruger, Vincent Tshituka, Ross Cronjé, Franco Naudé, Courtnall Skosan.

Bulle: Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Jesse Kriel, Dylan Sage, Rosko Specman, Handré Pollard (k), Embrose Papier, Duane Vermeulen, Hanro Liebenberg, Ruan Steenkamp, Eli Snyman, Jason Jenkins, Trevor Nyakane, Schalk Brits, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Simphiwe Matanzima, Dayan van der Westhuizen, Jannes Kirsten, Tim Agaba, Ivan van Zyl, Manie Libbok, Divan Rossouw.

Skeidsregter: Paul Williams.

Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni en Griffon Colby.

TV-skeidsregter: Marius Jonker.

Afskop: 15:05 op SS 1.

Meer oor:  Pote Human  |  Swys De Bruin  |  Elton Jantjies  |  Handre Pollard  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Derby  |  Rugby  |  Bulle  |  Superrugby  |  Ellispark  |  Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.