Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Swys in sy skik met 23 Leeus se spanpoging
Twee Highlanders-verdedigers hang soos vinke aan die fris Leeus-haker Malcolm Marx in die naweek se Superrugby-stryd op Ellispark.Foto: Gallo Images

Die wyse waarop Malcolm Marx Saterdagmiddag na die pale beduie het, was een van die uitstaande oomblikke in ’n baie opwindende Superwedstryd tussen die Leeus en die Highlanders op Ellispark.

Daardie gebaar was om die Leeus weer die voortou in hierdie wipplankstryd te laat neem met ’n Elton Jantjies-strafskop met 16 minute se speeltyd oor.

Al was hy so beslis in die wyse waarop hy gewys het wat gedoen moet word, het Marx, die Leeus-kaptein, agterna erken hy wou eintlik eers na die hoekvlag skop.

Die boodskap het egter van die hoofafrigter, Swys de Bruin, gekom dat die drie punte eerder gevat moes word.

“Hoekom ek eerder die drie punte wou vat, is omdat ons by twee geleenthede vroeër in die wedstryd lynstane naby hul doellyn nie kon benut nie en het ek net gevoel in hierdie geval moes ons eerder net die telbord aan die rol hou, selfs al is dit drie eerder as sewe punte” sê De Bruin.

In hierdie geval moes ons eerder net die telbord aan die rol hou, selfs al is dit drie eerder as sewe punte.
Swys de Bruin

“Onder die omstandighede was dit die beste ding om te doen,” sê De Bruin.

Die wedstryd was tot die einde in die weegskaal en De Bruin erken hy het met 20 minute se speeltyd oor gevoel dat selfs al sou sy span verloor, hy nie sleg daaroor sou voel nie.

“Die rede is dat die ouens so ’n fantastiese poging aangewend het. Daar was wel ’n paar dom foute en sagte oomblikke met die drieë wat weggegee is, maar my ouens het alles ingesit en daarmee kan jy nie fout vind nie. Ek is baie tevrede met hoe hulle gespeel het,” sê hy.

Volgens hom het die plaasvervangers in die laaste deel van die wedstryd ’n geweldige verskil gemaak.

Courtnall Skosan

“Hulle was deurslaggewend. Vincent (Tshitsuka) het ’n sterk lopie ingekry en Jan-Henning (Campher, wat Marx as haker vervang het) het twee wonderlike duikslae gedoen en het ook sterk gestaan met daardie laaste skrum. Dit wys jou dit gaan oor 23 spelers en nie net 15 nie,” sê hy.

Dit was ’n stryd waar enigiets nog moontlik was totdat Courtnall Skosan in die doodsnikke die Leeus se vyfde drie gedruk het ná daardie sterk skrum en met die bal wat seepglad deur die hande langs die agterlyn af is.

Marx was kolossaal, maar die agttal kan in dieselfde asem genoem word, veral die blondekop-flank, Marnus Schoeman, wat soos ’n besetene ingeklim en die Highlanders met alles in hom getakel het.

“Hierdie was omtrent die naaste wat ons die hele seisoen daaraan gekom het om te speel soos ons wou. Buiten een of twee maklike drieë wat ons weggegee het, is ek hoogs in my skik,” het De Bruin geblom.

Leeus 38 (14): Drieë: Andries Coetzee, Kwagga Smith (2), Shaun Reynolds, Courtnall Skosan. Doelskoppe: Elton Jantjies (5). Strafdoel: Jantjies.

Highlanders 29 (12): Drieë: Patelesio Tomkinson, Tom Franklin, Jordan Hyland, Josh Iaone, Matt Faddes. Doelskoppe: Ioane, Daniel Hollinshead.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Courtnall Skosan  |  Malcolm Marx  |  Johannesburg  |  Ellispark  |  Superrugby  |  Leeus  |  Highlanders  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.