Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Leeus en Bulle kan mekaar dronk hardloop'

Terwyl Sean Everitt, Haai-afrigter, waarsku dat liefhebbers van hardlooprugby nie te veel van die naweek se Curriebeker-halfeindstryde moet verwag nie, dink die oud-Leeu-breier Swys de Bruin veral Loftus Versfeld kan ’n paar opwindende oomblikke verwag.

Die Leeu-vleuel Stean Pienaar en sy medeagterspelers kon nie in hul laaste wedstryd hul stempel afdruk nie, maar kry die naweek ’n geleentheid om daarvoor te vergoed. Foto: Gallo Images

Sowel die Leeus as die Bulle het immers die spelers om die bal lug te gee, sê De Bruin.

“As iemand wat lank by die Leeus betrokke was, sou ek natuurlik wou sien dat hulle hul DNS soveel moontlik uitleef,” het De Bruin Woensdag gesê.

“Maar die Bulle sal dit nie vir hulle maklik maak nie. Ouens soos Marco (van Staden) en Duane (Vermeulen) is op die verdediging altyd so vinnig op die bal dat net ’n oomblik se huiwering die aanvallende span baie momentum kan kos.”

Hy sê die Leeus sal dus moet wakker wees.

“As hulle egter druk op die Bulle se 9, 10 en 15 kan plaas en hulle tot swak skoppe dwing, kan hulle groot amok op die teenaanval maak, waarmee ons al gesien het hulle baie goed is.”

Alle aanduidings is dat die Leeus die konserwatiewe wedstrydplan waarmee hulle twee weke gelede Loftus toe is sedertdien by die venster uitgegooi het. Daar is in elk geval te veel vuurkrag in hul agterlyn om snellers soos Stean Pienaar, Courtnall Skosan en Wandisile Simelane weer vir 80 minute te laat koud raak.

De Bruin sê die sleutel tot sukses is afwisseling op die aanval – ’n ideaal wat Ivan van Rooyen, Leeu-afrigter, juis verlede week gesê het hulle op die oefenveld probeer inburger.

“ ’n Speler moet weet wanneer om aan te val en wanneer om te skop. En daar is net twee situasies waarin jy skop: om druk te verlig of om druk toe te pas,” sê De Bruin.

“Elton (Jantjies, die Leeus se losskakel) is iemand wat goed is daarmee om te besluit wanneer dit tyd is om te skop.”

Terwyl die Leeus natuurlik al jare lank die reputasie het van ’n span wat hou van hardloop, is die Bulle lankal nie meer ’n eenheid wat teenstanders net met tienmanrugby probeer knak nie.

Húlle, sê De Bruin, kan die Leeus maklik van hul voete hardloop.

“Jake (White, Bul-afrigter) se meesterskuif was in my opinie om Stedman Gans en Cornal Hendricks as senterpaar in te span. Hulle speel nog nie lank in daai posisie nie, maar hulle is so gevaarlik daar,” sê hy.

“Die twee senters is baie dinamies en dan is daar nog ’n Blitsbok in Kurt-Lee Arendse in die agterlyn. Die Bulle het ’n span wat baie lekker hardlooprugby kan speel.”

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Haaie  |  Leeus  |  Wp  |  Bulle  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.