Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Swys mis Bushy, Kby se rugby-romantiek

Kimberley is ’n ware rugbydorp, sê Swys de Bruin, die afrigter van die Leeus in die Superreeks.

Oom Bushy Olivier is sinoniem met Griekwas-rugby. Foto: Christiaan Cloete

“As jou span (Griekwas) wen, wil almal geselsies aanknoop wanneer hulle jou iewers in die dorp raakloop, maar as jy verloor het, wil selfs nie eens die karwagte vir jou kyk nie,” vertel De Bruin, wat van 1999 tot 2003 die breier van die Poubloues was.

“Dit is ’n spesiale rugbyplek, wat groot karakters oplewer,” sê hy toe hy aan die vooraand van Griekwas en die Goue Leeus se Curriebeker-stryd in die Diamantstad oor sy herinneringe aan die Diamantstad uitgevra is.

Wat De Bruin betref, is daar egter geen groter rugbygees in Kimberley as die 86-jarige oom Bushy Olivier nie. Oom Bushy is die jare lange gelukbringer van die Poubloues.

Hierdie oudbokser is al meer as 60 jaar lank ’n stoere Griekwas-ondersteuner en hy het met groot smaak van die staaltjies oor oom Bushy vertel.

“Vir my is oom Bushy een van my rugbyhelde. Ek is baie lief vir hom. Ek is 21 jaar gelede aan hom voorgestel en het ’n spesiale verhouding met hom opgebou.

Terwyl ek daar afrigter was, het die Haaie met al hul Springbokke daar aangekom toe Ian McIntosh nog die afrigter was.

“Ek het vir oom Bushy gesê hy moet my help, want ek ken Ian Mac en weet hy is ’n baie intense afrigter. Ek het vir hom gesê hy moet kyk waar Mac sit en dan so agter hom staan en hom ’n bietjie irriteer.

Vir my is oom Bushy een van my rugbyhelde.

“Hy het toe hard en aanhoudend die Griekwas aangemoedig en selfs sy arms so woes geswaai op ’n kol dat hy Mac agter die kop geklap het.

“Mac het omgedraai en gesê: “Who is this lunatic? Remove him immediately,” het De Bruin vertel.

’n Jong Swys de Bruin toe hy in 2000 nog Griekwas se afrigter was. Foto: Gallo Images

Op daai oomblik het ons toe nog boonop een van ons drieë gedruk, wat ons daardie dag laat wen het.

Nog ’n staaltjie van oom Bushy wat De Bruin sê hy altyd met groot smaak aan mense vertel het, is in die eertydse wilde weste dae van Kimberley, toe die manne met die diamant-prospekteerdery lekker in die kroeë gekuier het.

“Oom Bushy het vertel dan breek daar soms onderonsies uit en op ’n kol is ’n jong konstabeltjie daar uit Bloemfontein gestuur om te kyk wat aangaan. Oom Bushy het so voor hom gestaan en vir hom gevra of sy skoene so moet blink. Toe hy afkyk, pos oom Bushy hom onder die ken en hulle moes hom daar wegdra. Toe kon die partytjie weer aangaan.

“Oom Bushy se bekende sêding as jy hom vra hoe dit gaan, is altyd: ‘Op die tone, op die tone.’

“Hy het altyd ’n groot indruk op my gemaak en al is hy ’n platjie, straal hy Christenskap uit, wat my diep geraak het.

“Toe daar in 2003 aangekondig is dat ek nie meer Griekwas-afrigter is nie, het hy die volgende oggend aan my deur geklop en my moed ingepraat en sterkte toegewens.

“In ’n plek soos Kimberley is waar jy die rugbykarakters kry en daar heers ’n spesiale rugby-romantiek. Ek voel dit het tot ’n groot mate in die hedendaagse tye verdwyn en sal dit weer wil sien.

“Elke ou daar in my tyd het ook ’n bynaam gehad soos Ghriespomp, Bok, Tyre en die Kalahari Express.

“Vir my was Kimberley ’n uitstekende leerskool as afrigter, want jy werk nie altyd met groot name nie en dit is waar jy leer hoe om af te rig,” sê hy.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Leeus  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.