Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Swys oor skok-bedanking: ‘My tenk is dolleeg’

“My tenk is leeg en jy kan nie só ’n groot wedloop met ’n leë tenk aanpak nie.”

Dít is hoe Swys de Bruin Woensdag die situasie beskryf het wat hom laat besluit het om as aanvalskonsultant van die Springbokke te bedank aan die vooraand van die Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Swys de Bruin sal nie meer aan die stuur van die Springbokke se aanvallende spel wees nie. Foto: Getty Images

Volgens De Bruin is hy op mediese advies aangeraai om vir drie maande weg te kom van rugby en te rus.

Op die vraag of dit sy kontrak as hoofafrigter van die Leeus in Superrugby gaan raak, het hy gesê: “Nee, dit sal nie. My en jou lewe is egter in die hande van die Here en nie een van ons kan sê of ons nog môre hier gaan wees nie.”

De Bruin het die Springbok-bestuur Dinsdag ingelig dat hy versoek om van sy rol as aanvalskonsultant onthef te word.

Volgens ’n verklaring wat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) uitgereik het, is dit gedoen weens persoonlike en mediese redes.

“Ek is deur my professor (wat hom medies versorg) aangeraai om nie juis oor die situasie te praat nie, maar ek kan wel sê dat my tenk leeg is.

“My prioriteit gaan nou wees om weer my tenk vol te maak voor ek aangaan,” het De Bruin gesê.

Hy was die afgelope jaar deel van die Bokke se opset as aanvalskonsultant betrokke en in dié tyd het Suid-Afrika onder meer ’n skoksege oor die All Blacks in Wellington behaal en dit vanjaar opgevolg met ’n gelykop-uitslag in dieselfde stad.

Trouens, met die toetse teen die All Blacks waar De Bruin teenwoordig was, staan die telling op 82-elk. Hy het sy tydperk by die Springbokke begin met die wenreeks teen Engeland verlede jaar en nou afgesluit met die Rugbykampioenskapstitel.

Rassie Erasmus, die Springbokke se direkteur van afrigting en ook hoofafrigter, het gesê De Bruin het ’n groot bydrae gelewer en “ek wil hom namens die bestuur en ook al die spelers waarmee hy oor die laaste jaar gewerk het, bedank vir die rol wat hy in ons sukses gespeel het.

“Hy het ’n vars perspektief gebring aan die aanvals-aspek en hy sal moeilik wees om te vervang. Ek wil ook die Leeus bedank dat hulle hom vrygestel het en ook aan Saru dat hulle sy aanstelling goedgekeur het.”

De Bruin se laaste bydrae was met die gelykop-toets teen die All Blacks in Wellington enkele weke gelede en terwyl die Bokke se toets in Salta teen Argentinië aan die gang was, was hy op ’n vliegtuig terug na Suid-Afrika.

Hy het vroeër vanjaar ook weens stresverwante redes uit Nieu-Seeland teruggekeer tydens die Leeus se oorsese Superrugby-toer.

Hierdie gaan nie oor depressie of enige so iets nie, maar dit is net dat my tenk dolleeg is en ek moet rus. Die Wêreldbeker lê voor en ek wens die Springbokke alles van die beste toe.

“Hierdie gaan nie oor depressie of enige so iets nie, maar dit is net dat my tenk dolleeg is en ek moet rus. Die Wêreldbeker lê voor en ek wens die Springbokke alles van die beste toe.

“Ek weet hulle gaan ’n sukses daarvan maak,” sê De Bruin.

Volgens Erasmus gaan hy aandag daaraan skenk om ’n spesialis-plaasvervanger vir De Bruin op ’n korttermyn-grondslag aan te stel.

“Dit is nie iets wat ons verwag het nie, maar ons sal dit verwerk en aangaan,” sê hy.

Die Springbokke kom Saterdag op Loftus Versfeld in ’n WB-slyptoets teen Argentinië te staan en sal volgende maand vir oulaas teen Japan opwarm voordat hul WB-veldtog op 21 September teen Nieu-Seeland begin.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.