Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Swys se ‘gekerm’ maak van Beast stut

Dankie Swys.

Dit is van alle mense aan Swys de Bruin, voormalige afrigter van die Leeus se rugbyspan en ook ’n aanvalskonsultant van die Springbokke, te danke dat Tendai “Beast” Mtawarira op stut beland het.

Mtawarira, wat vandeesweek aangekondig het dat die gordyn sak oor sy roemryke toetsloopbaan as Springbok, het in 2004 by die Haaie-akademie opgedaag as ’n agtsteman van die seunskool Peterhouse in Zimbabwe.

Die eertydse agtsteman, Beast Mtawarira, nou ’n wêreldberoemde stut. Foto: Getty Images

“Ek het hom die eerste keer die vorige jaar gesien toe hy vir Peterhouse in ’n rugbytoernooi by Glenwood in Durban gaan speel het en Gavin Melville (die werwingsagent) het hom gekontrakteer om Haaie toe te kom,” vertel De Bruin, wat toe by die Haaie se Akademie betrokke was.

“Ek het egter gou gesien hy is net te stadig om ’n goeie agtsteman te wees. Hy het wel die bal goed opgetel agter die skrums en kon met krag vorentoe beur, maar die spoed was nie daar nie,” vertel De Bruin.

Tendai Mtawarira en Swys de Bruin voor ’n Barbarians-wedstryd in Londen in 2018. Foto: Getty Images

“Ek het toe die voorstel gemaak dat ons dit moet oorweeg om hom stut toe te skuif. Dit is eers nie goed ontvang nie. Beast het net vir my gesê: ‘No, no coach’.

“Balie Swart, die skrumafrigter wat ons bygestaan het, het op ’n mooi manier in ’n grap vir my gesê ek moet onthou ek is ’n agterlyn-afrigter en moet maar my neus uit die sake in die skrums hou.

“Ek het egter bly karring en ons het hom so een of twee wedstryde gekry om slot te speel by die Wildebeeste. In die lynstane is hy heeltyd opgetel, want hy kon nie lekker spring nie.

“Hy was ook maar swaar om op te tel in die lynstane. Verder het hy gekla sy ore kry seer op slot.

“Toe besluit hy maar om in te stem om stut te probeer en Balie het hard aan sy tegniek en vaardighede gewerk. Dick Muir was toe die Haaie-afrigter, wat hom sy eerste kans op stut in die senior span gegee het,” vertel De Bruin.

“Beast het eintlik niks gehad toe hy daar in Durban by ons aangekom het nie. Hy het ook gevra of ons hom kan help met wiele. Daar is eers gedink hy praat van ’n kar om mee rond te ry, maar hy het eintlik ’n fiets bedoel.

’n Jong Tendai Mtawarira toe hy in 2006 vir die Haaie se o.21-span gespeel het. Foto: Gallo Images

“Gavin Melville het hom gehelp om ’n dikwielfiets te kry en hy het elke oefening met ’n groot glimlag op sy gesig daar opgedaag op sy fiets.

“Beast is so ’n nederige mens en hy is oral uitgeken aan sy breë glimlag. Om van daardie baie nederige begin te vorder tot waar hy nou op die kruin van die golf kon uittree, is net eenvoudig ongelooflik,” sê De Bruin.

Volgens hom is dit altyd baie belangrik om vroeg te identifiseer wat ’n speler se beste posisie sal wees.

“Ek glo Hacjivah Dayimani (agtsteman van die Leeus) kan een van die beste senters in wêreldrugby word. By die Haaie het ek ook gehelp om twee Springbokke (Craig Davidson en Trevor Halstead) in hul beste posisies te kry.

“Davidson was eers ’n heelagter en toe losskakel voordat ons hom skrumskakel toe geskuif het en Halstead was ’n stadige heelagter met ’n groot voet, voordat hy senter toe is, waar hy gedy het,” vertel De Bruin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.