Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sy het die beste werk by die VS Rugbyunie

Wanneer jy by haar kantoor in die Toyota-stadion in Bloemfontein instap, is dit moeilik om tot verhaal te kom oor al die rugby-memorabilia wat Orna Prinsloo oor die jare versamel het.

Orna Prinsloo met die handgemaakte sweep uit Kasakstan. Foto: Mlungisi Louw

Sy het onder meer ’n handgemaakte sweep uit Kasakstan wat gebruik word om perde aan te hits en ook baboesjka-poppies uit Rusland. Dis egter net die begin van Prinsloo se skatte, skatte waaraan sy nie ’n prys kan koppel nie.

En as jy dink dis asemrowend, dan het jy nog nie haar versameling van 50 rugbytruie, waarvan 35 geteken is, gesien nie.

Elke item in haar versameling het ’n storie, sê Prinsloo, wat dien as skakelbeampte vir elke rugbyspan wat in Bloemfontein aandoen. Sy is waarskynlik die enigste mens in die wêreld wat ’n volledige stel getekende Pro14-truie het.

Sy het selfs tot drie truie van die spanne waarmee sy werk. Die getekende truie wat haar baie na aan die hart lê, is dié van Suid-Afrika en Engeland toe hulle in 2018 in Bloemfontein gespeel het, en ook die eerste oranje trui waarin die Jaguares, toe hulle deel van die Superrugby-reeks geword het, teen die Cheetahs gespeel het, wat in dié wedstryd eenmalig ’n swart trui gedra het.

“Sien jy die bottel wyn, dit het ek by Kieran Read (kaptein van die All Blacks en die Crusaders) gekry toe hy sy duim gebreek het teen die Cheetahs. Dis ’n Boschendal Merlot 2013,” sê sy trots.

Orna Prinsloo by haar volledige stel getekende Pro14-truie. Foto: Mlungisi Louw

Dan pluk sy haar foon uit en wys ’n foto waar Read in sy hospitaalbed lê voordat hy teater toe is vir ’n operasie. Niemand anders het so ’n foto nie.

Dan moes sy op ’n slag ook tjoepstil gebly het toe die Ospreys en Wallis se haker, Scott Baldwin, se hand deur ’n leeu gebyt is tydens ’n besoek in 2017 aan ’n wildreservaat.

Hy het die Ospreys se Pro14-wedstryd teen die Cheetahs misgeloop en dié storie het eers ná die wedstryd op die lappe gekom en sosiale media vir dae aan die gons gehad.

Prinsloo bly deesdae ook liefs weg van sosiale media af nadat sy ’n stelletjie afgetrap het.

Dit was die keer toe die Springbok-stut van die Goue Leeus Julian Redelinghuys sy nek ernstig beseer het in ’n Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs.

“Ek het die foto van Julian in sy nekstut op ons groep gedeel en iemand het dit aan ’n joernalis gestuur wat dit toe getwiet het. Julian se ma het die twiet gesien en haar oë uitgehuil, want sy het toe nog niks van die voorval geweet nie. Dit was nogal sleg. Nou is ek maar versigtig.”

Ek het die foto van Julian in sy nekstut op ons groep gedeel en iemand het dit aan ’n joernalis gestuur wat dit toe getwiet het. Julian se ma het die twiet gesien en haar oë uitgehuil, want sy het toe nog niks van die voorval geweet nie. Dit was nogal sleg. Nou is ek maar versigtig.
Orna Prinsloo

Voordat daar oor haar versameling truie gesels word, vertel Prinsloo waar haar liefde vir rugby vandaan kom.

“Ek was vir agt jaar lank die spanbestuurder van die Springbok-vrouespan en ook die Springbok-vroue-sewes-span. Dit was tussen 2006 en 2013. In 2006 en 2007 was ons destyds die ontwikkelingspan voordat ons ’n volwaardige span geword het.”

Dan spog sy ewe trots met haar medaljes van deelname aan die Wêreldbekertoernooi. In 2010 het die 15’s in Engeland gespeel en die Sewes in 2009 in Doebai en 2013 in Rusland.

Terloops… Prinsloo het in 2010 haar werk by haar vorige werkgewer prysgegee oor haar liefde vir rugby. Hulle wou haar nie onbetaalde verlof gee nie, toe bedank sy om die Wêreldbekertoernooi by te woon. Sy was daarna vir drie maande werkloos.

Terug na die truie in haar versameling.

Sy het in 2014 as skakelbeampte vir spanne wat in Bloemfontein aankom vir die unie begin werk, nadat haar voorganger spoorloos verdwyn het voor die Curriebeker-wedstryd tussen die Vrystaat-Cheetahs en Griekwas.

“Sodra ek kontak maak met die span wat Bloemfontein toe kom, is my versoek ’n getekende trui. Nie een van die spanne het die versoek al geweier nie.”

Dan is daar nog haar versameling foto’s ook. Sy laat ’n foto saam met elke span se kaptein en afrigter neem, en ook met elke Suid-Afrikaner wat vir besoekende spanne van oorsee speel.

Orna Prinsloo kan nie uitgepraat raak oor betrokkenheid by rugby nie. Foto: Mlungisi Louw

Omdat dit so ’n duur storie is om truie te laat raam, is die meeste van Prinsloo truie nog op hangers, en wanneer haar geld dit toelaat, laat sy dit in netjiese rame agter glas plaas. Dit kos tot soveel as R1 600.

“Met die truie kom natuurlik vriendskappe. Ek het byvoorbeeld Ruben de Haas (20-jarige skrumskakel van die Vrystaat XV-tal) se trui van sy tweede van sy 11 toetse wat hy vir Amerika gespeel het. Dit is vir my ongelooflik spesiaal, net soos die Engeland/Suid-Afrika en Jaguares/Cheetahs-truie.

“Ek sê altyd ek het die beste werk by die rugbyunie en daarby maak ek lewenslange vriendskappe. Ek het al gewerk met sir John Kirwin, Eddie Jones, Michael Cheika en baie ander bekende afrigters; dit kan mos nie anders as om ’n lekker werk te wees nie.”

Prinsloo kom uit ’n rugby-familie. Haar ouers, Ben en Judith Labuschagne, was lank by die Rovers-rugbyklub in Welkom betrokke. Dit is waar sy grootgeword het, langs die rugbyveld.

“My pa het vir Rovers gespeel en hulle later afgerig, terwyl my ma die voorsitter van die sosiale klub was. Sy het ná wedstryde vleis gebraai en pap gemaak.

“Ek sal nooit vergeet nie, toe ek in standerd drie was, was ek die DJ vir die dans ná ’n wedstryd, met my 7-singles en plate,” lag Prinsloo.

Dit was eintlik haar pa wat gemaak het dat sy ’n versamelaar word. Hy het na elke rugbytoets of belangrike wedstryd met ’n das gegaan en dit dan daar geruil.

“Ek sit juis met 150 dasse in my versameling, wat ek nog moet laat hang en kantoor toe bring. Daar is nie plek by die huis nie.

Orna Prinsloo wys trots van haar versameling rugbytruie. Foto: Mlungisi Louw

“Een van die dasse wat ek het, is een van Frik du Preez toe hy vir Noord-Transvaal gespeel het; dit was my pa s’n. Dan het my pa my ook ’n das gegee van Wilson Whineray, wat tussen 1957 en 1965 vir Nieu-Seeland gespeel het, maar hom moet ek gaan soek.”

Prinsloo is ook die laaste nege jaar verantwoordelik om die spanne van die provinsie te klee. Van die o.13’s tot die Pro14-span maak tydens hulle rugbyloopbane ’n draai by haar om klere aan te pas of om dit af te haal.

Daar het by die Vrystaat Rugbyunie ’n behoefte ontstaan dat iemand beheer neem oor die klere van die spelers en dis hoe sy by die unie betrokke geraak het.

Van klere wat in hopies op die vloer uiteengesit is tot ’n stelsel waar sy net kan instap en oombliklik kan help om seker te maak spanne wat aan die verskillende toernooie deelneem, is ordentlik geklee.

Dit is Orna Prinsloo, of Orries, soos baie van haar kollegas by die rugbyunie haar noem.

Die vrou wat rugbyondersteuners saam met die spanne sien as hulle by die tonnels uitloop voor wedstryde, die een met die bril en altyd netjies geklee in Cheetah-drag, dit is Orna Prinsloo.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.