Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tafel gedek vir Saterdag van SA derbies

Tot die rustydfluitjie het dinge tussen die Leeus en die Hurri­canes gister op Ellispark taamlik gelykop verloop, maar ná die draaislag was daar grotendeels net een span op die veld en dit was nie die Johannesburgers nie.

Vergeefs . . . Aphiwe Dyantyi duik oor vir sy drie teen die Hurricanes op Ellispark. TJ Perenara is te laat om te keer. Foto: Gordon Arons/Gallo

Die Hurricanes was welverdiend met 37-17 baas om ’n tuiswedstryd in Wellington vir die kwarteindronde te verseker en verdien lof, veral omdat hulle agterlangs kwaai ontwrig is met beserings aan eerstekeuse-spelers soos Beauden Barrett, Matt Proctor en Wes Goosen.

Die Leeus is ook ontwrig – Stephan Lewies moes op die laaste nippertjie onttrek, maar die grootste terugslag was sekerlik die verlies in die 25ste minuut van Kwagga Smith met ’n oënskynlik ernstige dyspierbesering.

Voor dit was die klein terriër sy gewoonlik bedrywige self. Hy was die laaste ruk ’n sleutelman om die Leeus terug in die prentjie te speel en is broodnodig in die pylvak.

Om die besoekers te stuit, sou jy hulle voorlangs moes oordonder. Dis altyd makliker gesê as gedaan teen Kiwi-spanne. Al het hul voorspelers nie altyd wêreldbekende name nie, is daar ’n yslike poel donkiewerkers wat amper altyd amper alles gee.

Die wedstryd is min of meer in die eerste tien minute ná rustyd beslis. Die besoekers het die gedugte All Blacks Dane Coles en Ardie Savea opgestuur en die Leeus het ’n volslae gemors van die eerste afskop gemaak om ’n amper totaal ongemerkte Ben Lam te sien deurnael.

Kwagga se besering in 25ste minuut ’n terugslag

Daarna moes hulle grotendeels keer vir wat hulle werd is, met die Hurricanes wat die fases skielik gemaklik begin opstapel het.

Savea was in sy 40 minute op die veld so woelig dat hy gemaklik my Speler van die Wedstryd was. Tussen hom en Coles het hulle ’n halfdosyn losballe by die tuisspan gegaps. Savea was in die ooptes net so dodelik as op die grond. Coles het, ná ’n lang besering, ’n stuk of tien minute nodig gehad om sy voete weer te vind en toe was dit asof hy nooit weg was nie.

Sy tweekuns in die laaste kwartier was die Leeus se amptelike doodskoot, maar teen daardie tyd sou min ondersteuners van die tuisspan veel hoop oorgehad het. Ná 50 minute was die Leeus diep genoeg in die pekel dat hulle eenvoudig moes aanval en derhalwe gate los. Teen ’n klomp losbaldiewe is jy per definisie dood in die meeste sulke omstandighede.

Aphiwe Dyantyi se puik tweede drie, ná goeie spel van die senters Elton Jantjies en Lionel Mapoe, kon darem onderstreep waarom die Leeus steeds in die prentjie bly. Beserings het die Bok-vleuel vroeër hierdie seisoen geteister, maar hy begin sy vorm van verlede jaar herwin.

Vaart, vernuf en werkywer bly maar ’n dodelike kombinasie en in dié stadium is daar min te kies tussen hom en Makazole Mapimpi, die Haaie se groot sneltrein.

  • Hul nederlaag was ’n nekslag, maar darem nie die doodskoot vir die Leeus nie. Super-Saterdag sal die deurslag gee.

Met drie onbestendige Nieu-Seelandse spanne en vier stelle sukkelaars uit die Australiese Konferensie, is daar inderdaad nog plek om te droom vir ieder en elke Suid-Afrikaanse span.

Die Jaguares is verseker van die boonste plek in die SA Konferensie, ongeag van wat hulle gisteraand in Buenos Aires teen die Haaie aangevang het.

Maar met die Rebels, die Chiefs, die Highlanders en die Waratahs nog in die prentjie, is dit Saterdag reg of weg vir al die SA streke as hulle mekaar pak. ’n Oorwinning vir die Haaie gisteraand in Buenos Aires sou hul plek in die kwarteindronde verseël het, terwyl die Bulle net ’n bonuspunt uit hul Jukskei-derby op Loftus teen die Bulle moet kry om hul vordering amptelik te maak.

Teen die tyd dat hulle afskop, is albei heel moontlik al deur, afhangend van wat in Australasië gebeur, maar daar is eweneens ’n kans dat albei om hul lewens sal speel.

Die Stormers se beteuterde poging gister op Nuweland was nietemin genoegsaam om hulle, minstens kortliks, in die sewende posisie te laat pryk, maar ’n oorwinning oor die Haaie is ononderhandelbaar as hulle langer as volgende week in die prentjie wil bly. Het die Haaie gisteraand verloor, ditto vir hulle, so dat die hare gaan waai, is feitlik gewaarborg.

  • Punte:

LEEUS 17: Drieë: Aphiwe  Dyantyi (2).  Doelskoppe: Shaun Renyolds (2).  Strafdoel:  Reynolds.

HURRICANES 37: Drieë: Ben Lam (2), Dane Coles (2), Ngani Laumape. Doelskoppe: Jordie Barrett (3).  Strafdoele:  Barrett (2).

Meer oor:  Leeus  |  Hurricanes  |  Ellispark  |  Kwarteindronde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.