Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Talent by Loftus verras hom, sê Bulle-hoof
Edgar Rathbone, nuwe uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy.

Die Bulle is hoogs tevrede met die spelers wat vandeesweek vir die eerste keer in vier maande by Loftus Versfeld byeengekom het om in klein groepe te oefen.

“Ek is eintlik verras met die jong talent wat ons hier het.

“Ons gaan nie ons groep verder versterk nie (met die oog op vanjaar se Curriebeker-kompetisie),” sê Edgar Rathbone, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy.

Ek is eintlik verras met die jong talent wat ons hier het. Ons gaan nie ons groep verder versterk nie (met die oog op vanjaar se Curriebeker-kompetisie).
Edgar Rathbone

Die Bulle het Woensdag bevestig hulle het ’n kontrak met die voormalige stut van die Leeus Jacques van Rooyen gesluit.

Die veelsydige agterspeler Clinton Swart, wat vir Toyota Verblitz in Japan onder Jake White gespeel het, sal ook die volgende jaar vir die Bulle beskikbaar wees.

Die Bulle sal vir eers nie verder op die uitkyk vir kopies wees nie.

Nizaam Carr en Jason Jenkins is in Pretoria in kwarantyn en sal binnekort saam met die span begin oefen.

Rathbone sê Jenkins, wat verlede jaar vir die Bulle Superrugby gespeel het, word by sy Japannese klub geleen en sal tot in November vir die Bulle oorweeg kan word.

Die slot-aanwins Walt Steenkamp word op 1 November ’n Bul.

Dit beteken Steenkamp sal aanvanklik vir die Cheetahs in die Curriebeker-reeks speel en later ’n Ligbloue word.

Rathbone sê die Bulle het nie ’n versoek aan die Cheetahs gerig sodat Steenkamp vroeër van sy kontrak vrygestel kan word nie.

Die Springbokstut van die Bulle Trevor Nyakane sweet Donderdag in die gimnasium by Loftus Versfeld.

Twee jong Turke, Dawid Kellerman en David Kriel, het die week die beste gevaar met die sogenaamde Bronco-fiksheidstoets (wat onder meer ’n verskeidenheid naellope insluit).

“Ons is onder die omstandighede heel tevrede met die spelers se fiksheid en kondisionering.

“Daar is ’n paar ouens waaraan ons sal moet werk, maar dit is een van die voordele om in klein groepe te oefen; jy kan aan die individue aandag gee.

“Hoewel ons nie kontak maak nie, is André Volsteedt (die Bulle se krag- en kondisioneringshoof) baie innoverend om kontaksituasies na te boots.”

Rathbone sê hulle gaan ook individue na die oud-Bul en bekende Pretoriase biokinetikus Jannie Brooks stuur.

“As daar byvoorbeeld ’n speler is wat sy bene sterker moet kry of sy hardloopstyl moet verander, gaan Jannie ons daarmee bystaan.”

19 spelers wat aan die begin van die jaar in die Bulle se aanvanklike Superrugby-groep van 41 spelers was, het sedertdien hulle loopbane elders gaan voortsit.

Onder die 18 agterspelers wat in die aanvanklike groep was, is tien – Warrick Gelant, Marco Jansen van Vuren, Johnny Kotze, Manie Libbok, Franco Naudé, Burger Odendaal, Divan Rossouw, Dylan Sage, Rosko Specman en Nafi Tuitavake – nie meer Bulle nie.

Meer oor:  Pretoria  |  Bbm  |  Rugby  |  Uitvoerende Hoof  |  Talent  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.