Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Talle van SA benoem vir droomspan

Die Cheetahs se drieëvraat Rabs Maxwane, Ulster se vuurvreter-agtsteman Marcell Coetzee en die Edinburgh-duo van Jaco van der Walt (losskakel) en Pierre Schoeman (stut), tel onder die Suid-Afrikaanse spelers wat benoem is vir die Pro14-droomspan wat Donderdagaand aangewys word.

Die Cheetahs se drieëvraat Rabs Maxwane. (Foto: Gallo Images)
Marcell Coetzee (Foto: Getty Images)
Jaco van der Walt (Foto: Getty Images)

Die stut WP Nel (Edinburgh), die agtsteman CJ Stander (Munster), flank Braam Steyn (Benetton) en haker Rob Herring (Ulster) is die ander Suid-Afrikaners van geboorte wat benoem is, maar speel onderskeidelik toetsrugby vir Skotland, Ierland en Italië.

Maxwane het vanjaar die rekord vir die meeste drieë in ’n seisoen (14) geëwenaar, terwyl Coetzee ’n barshou in sy eerste volledige Pro14-seisoen gespeel het.

Schoeman, ’n oud-Bul, het groot indruk in sy eerste seisoen by Edinburgh gemaak en is deur dié klub as sy Speler van die Jaar aangewys.

Van der Walt se loopbaan het ook nuwe lewe by Edinburgh gekry sedert hy die Leeus in 2017 verlaat het.

’n Paneel van meer 75 lede van die media is gevra om deel te neem aan die stemproses.

’n Groep van voormalige spelers en afrigters is ook gevra om saam met rugbyskrywers in die Verenigde Koninkryk, Ierland, Italië en Suid-Afrika deel van die stemproses te wees.

Nadat die proses voltooi is, is drie benoemdes in elke posisie geïdentifiseer vir die Pro14-droomspan, wat saamgestel sal word uit die spanne van die vyf deelnemende lande.

Pierre Schoeman (Foto: Getty Images)

Die 2018-’19-seisoen was ’n goeie een vir Italië, met Benetton wat die eerste Italiaanse span geword het om die uitkloprondes te haal en sy afrigter, Kieran Crowley, wat as Afrigter van die Seisoen deur sy eweknieë gekies is. Dié span het ook sewe benoemings ontvang.

Benetton het die meeste benoemdes, gevolg deur die Glasgow Warriors en Edinburgh (met ses), Ulster, Munster en Connacht (almal vyf).

Benoemdes (alfabetiese volgorde):
 Loskopstut: Dave Kilcoyne (Munster), Eric O’Sullivan (Ulster), Pierre Schoeman (Edinburgh). Haker: Epalahame Faiva (Benetton), Rob Herring (Ulster), Ken Owens (Scarlets). Vaskopstut: Zander Fagerson (Glasgow Warriors), WP Nel (Edinburgh), Marco Riccioni (Benetton). Vierslot: Tadhg Beirne (Munster), Scott Cummings (Glasgow Warriors), Federico Ruzza (Benetton). Vyfslot: Scott Fardy (Leinster), Jonny Gray (Glasgow Warriors), Alun Wyn Jones (Ospreys). Sesflank: Max Deegan (Leinster), Peter O’Mahony (Munster), Josh Turnbull (Cardiff Blues). Seweflank: Colby Fainga’a (Connacht), Braam Steyn (Benetton), Hamish Watson (Edinburgh). Agtsteman: Marcell Coetzee (Ulster), Bill Mata (Edinburgh), CJ Stander (Munster). Skrumskakel: Caolin Blade (Connacht), John Cooney (Ulster), Dewaldt Duvenage (Benetton). Losskakel: Jack Carty (Connacht), Adam Hastings (Glasgow Warriors), Jaco van der Walt (Edinburgh). Linkervleuel: Darcy Graham (Edinburgh), James Lowe (Leinster), Rabs Maxwane (Cheetahs). Binnesenter: Bundee Aki (Connacht), Willis Halaholo (Cardiff Blues), Stuart McCloskey (Ulster). Buitesenter: Tom Farrell (Connacht), Rey Lee-Lo (Cardiff Blues), Nick Grigg (Glasgow Warriors). Regtervleuel: Monty Ioane (Benetton), Johnny McNicholl (Scarlets), Ratuva Tavuyara (Benetton). Heelagter: Dan Evans (Ospreys), Mike Haley (Munster), Matthew Morgan (Cardiff Blues).

Meer oor:  Rabs Maxwane  |  Pierre Schoeman  |  Marcell Coetzee  |  Europa  |  Pro14  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.