Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tata Kolisi-hul, maar hoop dat PSDT sal bly

Die Westelike Provinsie is steeds hoopvol dat hy Pieter-Steph du Toit se kontrak sal kan verleng en só die Springbok-ster in die Kaap sal hou. Dit is egter ’n heel ander storie met Jaco Coetzee en Siya Kolisi, wat albei die pad kan vat.

Om te bly of om te ry. . . Pieter-Steph du Toit sal binnekort ’n besluit oor sy toekoms moet neem. Foto: Gallo Images

Volgens ’n onberispelike bron beplan die WP om teen Vrydag aanbiedinge aan minstens sy voorste tien spelers te maak. Die groep spelers is ook gevra om tot dan te wag alvorens hulle besluite oor hul toekoms neem.

Die 28-jarige Du Toit is in verskeie oorsese klubs se visier, met die Franse klubreuse Toulon en Lyon voor in die koor.

Toulouse se naam is ook aan Rapport genoem, maar ’n ingeligte het dit ontken.

Nog ’n Franse klubspan, Montpellier, is verlede jaar al as ’n moontlike nuwe tuiste genoem vir Du Toit, wat Wêreldrugby se Speler van die Jaar vir 2019 was.

Die Britse Mail on Sunday het intussen berig dat Mohed Altrad, die eienaar van dié Franse klubspan, die kontraktering van Zach Mercer bevestig het. Dit is straks ’n aanduiding of Du Toit in Montpellier se planne is.

Mercer se beplande skuif later vanjaar swaai boonop die deur vir die 24-jarige Coetzee oop om hom by sy Engelse klubspan Bath aan te sluit.

Dis onwaarskynlik dat die WP, wat Juarno Augustus as hul eerstekeuse-agtsteman beskou, in Coetzee se pad sal staan om na Bath te gaan. Coetzee is ewe gemaklik op flank.

Die WP het ook al begin vrede maak met die idee dat Kolisi vorentoe die meerderheid van sy rugby in Durban vir die Haaie sal speel. Sy skuif Durban toe word as 99% afgehandel beskou.

Jaco Coetzee kan die WP dalk verruil vir Bath. Foto: Gallo Images

Hy en Coetzee se trekplanne kan die WP se belangstelling in die Vrystaatse flank Junior Pokomela aanwakker. Pokomela het wel ’n waterdigte kontrak met die Cheetahs en sal die Vrystaters se goedkeuring moet kry as hy Kaap toe wil gaan.

Soos Kolisi sal Du Toit sy rugby minstens nog tot ná vanjaar se beplande toer van die Britse en Ierse Leeus vir die Kaapse franchise speel. Dis nou mits Du Toit se beenbesering dit toelaat, aangesien onsekerheid nog bestaan oor wanneer hy tot die speelveld sal terugkeer.

Du Toit-hulle se besluit oor hul loopbane word bemoeilik deur die hoofopskrifte oor die WP se geldsake, wat onsekerheid onder baie van die franchise se spelers skep.

’n Ingeligte het aan Rapport gesê dit maak dit vir spelers byna “onmoontlik” om nou oor hul loopbane in die Kaap te besluit.

Die WP self is nog hoopvol om van hul sterre soos Du Toit, Bongi Mbonambi, JD Schickerling, Damian Willemse, Steven Kitshoff en Frans Malherbe te behou.

Mbonambi en Willemse is op Jake White se Bulle-inkopielys. Ook die Haaie wil Mbonambi saam met Kitshoff en Malherbe in Durban hê.

Kitshoff se kontrak eindig wel eers in 2023 by die WP, maar hy het moontlik ’n klousule in sy kontrak wat hom toelaat om vroeër aan ’n plaaslike of oorsese span vrygestel te word.

Meer oor:  Siya Kolisi  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Jaco Coetzee  |  Wp Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.