Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid-19 is terug in Nieu-Seeland
Paniekbevange Nieu-Seelanders se trollies was tot oorlopens toe vol nadat die Covid-19-pandemie weer in dié land kop uitgesteek het. Foto: Twitter

Dis nog te vroeg om paniekbevange te raak oor ’n moontlike invloed op die Rugbykampioenskap, maar Covid-19 het ná 102 dae se afwesigheid weer in Nieu-Seeland kop uitgesteek.

Volgens stuff.co.nz sal vlak-3-inperkingsmaatreëls in Auckland – waar al vier die nuwe gevalle aangemeld is – tot Vrydagaand om middernag van krag wees. Sondag se Aotearoa-wedstryd tussen die Blues en Crusaders op Eden Park sal dus nog kan plaasvind, maar gebeure oor die volgende paar dae kan dit in die gedrang bring. Volgens Nieu-Seeland se vlak-3-regulasies mag daar nie meer as tien mense saamtrek nie.

Daar kan ook besluit word dat geen toeskouers by dié wedstryd toegelaat sal word nie, wat ’n groot terugslag vir die Blues-franchise sal wees, want al 43 236 kaartjies is reeds uitverkoop.

Die res van Nieu-Seeland is tans op vlak 2.

Is rugby op Eden Park Nieu-Seelanders dié naweek beskore nadat vier nuwe Covid-19-gevalle in Auckland aangemeld is? Foto: Getty Images

Sanzaar, die beheerliggaam van die Rugbykampioenskap, se hoop is op Nieu-Seeland gevestig om in November en Desember ’n toernooi aan te bied, wat van kritieke belang is vir die ekonomiese welstand van die Suidelike Halfrond se rugbyreuse.

Volgens die oorspronklike plan vir vanjaar se toernooi, was die All Blacks en Springbokke veronderstel om mekaar in Auckland die stryd aan te sê.

Nieu-Seeland se groot probleem met die nuwe Covid-19-infeksies, is dat niemand ’n benul het waar dit vandaan gekom het nie. Al die siekes woon onder een dak, maar geeneen van hulle het onlangs Nieu-Seeland se grense oorgesteek nie.

Dit is dus heel moontlik dat daar nóg mense met die virus in Nieu-Seeland is en tienduisende toetse word oor die volgende drie dae beplan.

Wêreldrugby se nuwe venster vir die Rugbykampioenskap is 7 November tot 12 Desember, wat Nieu-Seeland straks genoeg tyd bied om dié probleem onder bedwang te kry.

Dieselfde kan egter nie gesê word van Nieu-Seeland se nasionale verkiesing op 19 September nie. Dis glo in die gedrang. Daar gaan onmiddellik meer deeltydse klinieke op die been gebring word en besoeke aan aftreeoorde is verbode.

Phil Goff, burgemeester van Auckland, sê dat ’n hernude staat van inperking altyd ’n moontlikheid was.

“Ek begryp dat mense waarskynlik ’n bietjie vreesbevange voel, ’n bietjie kwaad en ’n bietjie verward is. Niemand van ons wou terugkeer na ’n staat van inperking toe nie, maar ons het altyd geweet dis ’n moontlikheid,” het hy luidens die berig op stuff.co.nz gesê.

Nóg gevalle word verwag omdat twee lede van die huisgesin onlangs op kantoor in Auckland was. Dáárom is besluit om Nieu-Seeland se grootste stad onder ’n staat van inperking te plaas.

’n Pleidooi om nie paniekinkopies te doen nie het min uitgerig, met Nieu-Seelanders wat na supermarkte gestroom het. Trollies het veral van blikkieskos en toiletpapier oorgeloop.

Oorspronklike berig: https://www.stuff.co.nz/national/health/coronavirus/300079882/coronavirus-four-cases-of-covid19-community-transmission-confirmed-in-auckland

Meer oor:  Nieu-Seeland  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.