Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Te vroulik vir têkkel? Dink weer!
Die vroue van die Pirates-rugbyklub ’n paar weke gelede saam met Bryan Habana, Dan Carter en die Wêreldbeker-trofee. Hul afrigter, Chanel Alberts (heel regs) sê hul tyd saam met dié legendes het die wêreld vir haar span beteken. Foto: Verskaf

Vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse rugbyfên is die nasionale vrouespan iets waaraan hulle nóóit dink nie.

Hier en daar sal jy boonop nog iemand kry wat langs die braaivleisvuur brul dat vroue nie veronderstel is om rugby te speel nie.

Gelukkig, sê Chanel Alberts, die afrigter van Pirates se suksesvolle vrouerugby-klub, is daardie siening besig om te verander. Sy sien dit in die groei van die skares wat opdaag om haar span se ligawedstryde te kyk. Sy hoor dit in die woorde van mans wat haar vra hoe hulle ’n bydrae tot vrouerugby kan maak.

Sy ervaar dit in die hordes navrae wat sy kry van vroue wat ook graag die ovaalbal wil begin rondgooi.

En sy het dit ’n paar weke gelede self beleef ook, toe twee van die grootste legendes wat ooit op ’n rugbyveld gestap het, by die Pirates-klub opgedaag het nét om haar spelers te sien.

Alberts se Pirates-span het in Junie ’n paar uur saam met die oud-Bok Bryan Habana en voormalige All Black Dan Carter deurgebring nadat hulle die vroue in hul hoedanigheid as Mastercard-ambassadeurs gaan verras het.

“Dit het seker ’n goeie ses minute geneem vir almal om rustig te raak,” sê Habana blinkoog oor die pandemonium wat losgebars het toe die vroue hulle opmerk.

’n Video wat van dié ontmoeting gemaak is, is sedertdien die wêreld ingestuur. Mastercard en Habana hoop dit sal sorg vir groter bewustheid van vrouerugby en van die verskil wat dit maak aan vroue wat in staat is om hul liefde vir die spel uit te leef.

Die idee dat rugby te fisiek vir vroue is, is ’n persepsie wat Habana graag wil sien verdamp.

“Ek was verlede jaar by die sewes-Wêreldbeker in San Francisco, en laat ek jou sê, daar was vroue wat my dalk sou kon weggehardloop het teen die einde van my loopbaan,” sê Habana met ’n skewe glimlag.

“Daar is vooropgestelde idees oor vroue en hoe hulle nie blootgestel moet word aan die fisiekheid van rugby nie. Hoe kan ons van hulle verwag om te têkkel of te skrum – idees soos daardie.

“Maar mense wat so dink kan gerus gaan kyk hoe hierdie vroue speel – hul oë sal oopgaan. Hul vaardighede is ongelooflik en ja, hulle is fisiek. Die wonderlike ding van rugby is mos dat dit ’n sportsoort vir almal is. Vir ’n relatief klein outjie soos ek én vir ’n reus soos Bakkies (Botha). Vir mans én vir vroue.”

Habana en Carter het nie gehuiwer om die ovaalbal saam met die vroue rond te gooi nie. Foto: Verskaf

Alberts, ’n voormalige kaptein van die Leeus, het Pirates se vrouespan drie jaar gelede op die been gebring, ná ’n versoek van die klub se voorsitter.

“Ek was besig met rehabilitasie ná ek ’n ligament geskeur het en het by Pirates gaan aanklop om te hoor of hulle dalk iewers ’n kondisioneringsafrigter nodig het. Toe boul hy my uit met ’n teenvraag: is ek nie dalk lus om eerder ’n vrouespan te begin nie,” vertel Alberts.

Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

Vanjaar is die span gekroon as kampioen van die Jozi-liga, waarin daar hierdie seisoen tien spanne was en aanstaande jaar waarskynlik meer.

Hulle is ook genooi om in Desember aan die 50ste Dubai- sewes-uitnodigingstoernooi deel te neem. Alberts sê dis vir haar duidelik hoeveel dit vir elke spanlid beteken om haar liefde vir rugby te kan uitleef.

“Rugby is ’n sport wat ontsettend bemagtigend en bevrydend vir vroue is, want dit gee jou die vryheid om jouself uit te leef, dit vereis sielkundige taaiheid, moed en spangees. Ons is bevoorreg dat ons ’n baie diverse groep is, met spelers vanoor die hele Johannesburg en selfs so ver as Fochville,” sê Alberts.

Volgens statistieke van Wêreldrugby is vrouerugby een van die sportsoorte wat tans die vinnigste groei, met sowat 2,7 miljoen deelnemers wêreldwyd.

In Suid-Afrika is dit nog nie op dieselfde vlak as in ’n Nieu-Seeland of ’n Engeland – waar dit ’n beroepsport is – nie, maar Alberts glo dit is op koers daarheen.

Haar wens dat dit in die toekoms ’n loopbaan-opsie vir jong meisies kan word, kan dalk net hierdie naweek ’n welkome hupstoot kry.

Die Springbok-vroue pak Kenia Saterdag in Brakpan se Bosman-stadion, en sal vir 2021 se Wêreldbeker-toernooi kwalifiseer as hulle die wedstryd wen.

Hulle kan maar begin droom – die Bokke het reeds die afgelope week seges van 89-5 en 73-0 oor onderskeidelik Madagaskar en Uganda behaal.

“Dit sal absoluut fantasties wees vir vroue om te sien hulle kan ook by ’n Wêreldbeker uitkom,” sê Alberts. “Dis wonderlik om manlike rolmodelle soos Bryan en Dan te hê, maar dis tyd dat daar ook vroulike rolmodelle na vore tree. Ons is op koers na dit – hopelik gebeur dit vroeër eerder as later.”

Link na video: https://web.facebook.com/watch/?v=637885183398661

Meer oor:  Pirates  |  Vrouesport  |  Vrouerugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.