Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Telbord kwel o.19’s se Chean min

Al het dit in die Suid-Afrikaanse o.19-rugbyspan se laaste wedstryd teen Georgië by tye maar broekskeur gegaan, sê dié span se afrigter, Chean Roux, hy kyk nie na die telbord nie.

Suid-Afrika het Georgië Donderdag met 40-33 in Tbilisi geklop, maar hulle moes teen die einde verwoed walgooi.

Die heelagter van die Suid-Afrikaanse o.19-rugbyspan, Muzi Manyike, het twee keer agter die doellyn gaan kuier. Foto: Gallo Images

“Dit was ’n suksesvolle toer en ons het die geleentheid gekry om presies te sien wat ons wou – teen ’n goeie teenstander.

“Ek dink ons het die wedstryd baie beter begin as die eerste een (wat Suid-Afrika met 28-21 gewen het) en was ongelukkig om nie twee of drie meer drieë in die eerste helfte te druk nie,” sê Roux.

Met minder as tien minute se speeltyd oor, was die Suid-Afrikaners gerieflik met 40-19 voor. Toe leer die besoekers egter amper op die harde manier dat jy nie ’n uiltjie teen die woestaards van Georgië kan knip nie, met die tuisspan wat laat in die wedstryd twee keer agter die doellyn gaan kuier het en hard gedruk het vir ’n gelykmaker.

“Ons het ’n paar veranderinge deur die wedstryd gemaak om almal die geleentheid te gee om te speel en dit het ons ’n bietjie momentum laat verloor.

“Maar dit was die rede vir die toer, om almal ’n geleentheid te gee en om te sien hoe hulle in moeilike omstandighede vaar.

“Wat die telbord betref, is dit nie iets waarna ons kyk nie. Die hoofdoel van hierdie toer was om spelers te evalueer en ons is bly dat ons dit reggekry het,” sê Roux, wat ook die afrigter van die Junior Bokke is.

Suid-Afrika het altesaam ses drieë gedruk. Die vleuel Stravino Jacobs en die heelagter, Muzi Manyike, het elkeen twee keer oorgeduik.

Eintlik was Georgië elke keer wat die besoekers die bal wyd gespeel het, in die moeilikheid en het gesukkel om Jacobs-hulle te stop wanneer hulle op vaart was.

Maar dinge het effens anders voorlangs verloop, waar Suid-Afrika genadeloos by die afbreekpunte gestraf is en ook meer as een keer by die skrums.

Boonop het Suid-Afrika twee geelkaarte op die lyf geloop, met die agtsteman, Werner Gouws, en plaasvervanger-voorryman Hanro Jacobs wat ’n rukkie in die koelkas deurgebring het.

Gouws, wat een van die uitblinkers met die bal in die hand was, se geelkaart was dalk effens onregverdig. Hy is gestraf nadat hy met die bal onder die arm op ’n lopie afgesit het en ’n speler van Georgië wou afkeer en kontak met sy kop gemaak het.

Dit is jammer dat die Suid-Afrikaners met tye effens weggeraak het in die wedstryd. Tog was daar ’n paar spelers wat uitgeblink het.

Agterlangs het die kaptein en senter, Rynhardt Jonker, die bal goed versprei, en voorlangs het die flank Morné Brandon nie geskroom om sy hande vuil te maak nie.

Puntemakers:

Suid-Afrika o.19: 40 (26): Drieë: Muzi Manyike (2), Stravino Jacobs (2), Morné Brandon, Jaden Hendrikse. Doelskoppe: Ethan Wentzel (3), Juan Mostert (2).

Georgië o.19: 33 (12): Drieë: Luka Khekhelashvili (2), Levan Kushashvili, Giorgi Margalitadze, Temur Kokhodze. Doelskoppe: Sandro Margiani (2), Lasha Lomidze (2).

Meer oor:  Chean Roux  |  Sa O.19-Rugbyspan  |  Junior Bokke  |  Georgië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.