Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Telbord sê 101-0, kom ons drink!
Die telbord Saterdag in Windhoek het nie goeie leesstof vir die tuisspan gemaak nie. In sosiale media is aangevoer die Welwitschias was selfs gelukkig om nul te kry. Foto: Republikein

Gelukkig was daar genoeg voggies om die smart en vernedering weg te drink.

Die nasionale rugbyspan van Namibië, wat in die Provinsiale Reeks onder die naam Welwitschias speel, sou Saterdag dankbaar gewees het vir hul naamborg, Windhoek Draught, se pasella biere.

Die Welwitschias het in die Hage Geingob-stadion in Windhoek ’n loesing van 0-101 by die Griffons gekry. Wat tot die Namibiërs se vernedering bygedra het, is die feit dat dit teen ’n Aspoestertjiespan van Suid-Afrikaanse rugby was wat in sy bestaan self al ’n paar 100-talle op die lyf geloop het.

Die Noord-Vrystaters het op hul beurt geskiedenis gemaak deur die eerste keer in die unie se 49ste bestaansjaar ’n 100-tal aan te teken. Trouens, voordat hulle in April teen die Luiperds 76 punte opgestapel het, was hul vorige hoogste telling 74 punte in 1988 teen die Oos-Vrystaat.

Niemand het vooraf verwag die tuisspan sou sy rieme só styfloop nie, aangesien sy vorige grootste nederlaag in die reeks op 16 April “net” met 54 punte teen die Leeus was.

Die 100-tal is eers verbygesteek toe die losskakel George Whitehead sy 13de doelskop van die wedstryd oorgeklits het. Die eindfluitjie het dadelik daarna geblaas.

“Ek het vir George gesê hy moet sy tyd neem met die skop, want dit sou die verskil tussen 99 en 101 punte beteken. Hy het ná die tyd vir my gesê dit was wel ’n maklike skop, maar dat hy ’n bietjie ge-nip het,” het die kaptein, Gavin Annandale, gesê.

Volgens hom het hulle ná die wedstryd eers verneem dit was ’n rekord vir die unie. Die Griffons se 15 drieë en 13 doelskoppe was ook die meeste tot nog toe in ’n wedstryd deur die Welkomiete.

“Die bestuur het my gelukgewens met die rekordtelling, maar ek het geen benul gehad waarvan hulle praat nie.

“Ons het op die plegtigheid ná die wedstryd ’n paar drankies saam met die Welwitschias geniet.”

* Namibië se skrobbering was darem nie van dieselfde omvang as die een in 2003 teen Australië nie.

Die Aussies het daardie dag in die Wêreldbekertoernooi tuis met 142-0 geseëvier.

Namibië was self al aan die uitdeelkant van ’n 100-tal in 2002 toe hulle Madagaskar in Windhoek met 112-0 oorrompel het.

Die grootste loesing wat nog in ’n toetswedstryd gely is, is Singapoer wat in 1994 met 0-164 deur Hongkong afgeransel is.

Meer oor:  Griffons
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.