Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tennislegende Margaret Court steun Folau

Die beleërde Wallaby-rugbyster Israel Folau word veroordeel vir sy Christelike beginsels, sê die Australiese tennislegende Margaret Court.

Die 76-jarige Court, Australië se suksesvolste tennisspeler van alle tye, is deesdae ’n dominee en is nes Folau, dikwels in die nuus weens haar omstrede veroordeling van huwelike tussen mense van dieselfde geslag.

Sy het Donderdag haar steun aan Folau openbaar.

Die tennislegende Margaret Court het haar steun aan die beleërde Wallaby-rugbyspeler Israel Folau gegee. Foto: Getty Images

’n Verhoor waarin sy verontagsaming van Rugby Australië (RA) se gedragskode ter sprake gaan kom, staar die speler in die gesig ná boodskappe op sosiale media waar hy teen gays uitgevaar het.

Folau het op Instagram en Twitter gesê die hel is onder meer gays se voorland tensy hulle tot bekering kom en hul sondes bely.

Al wat hy wil doen, is om mense na Christus te lei. Ek dink nie mense verstaan werklik sy boodskap nie.
Margaret Court

RA het sedertdien aangedui hy gaan die speler weens sy uitsprake van sy kontrak onthef. Hy is ook in die spervuur by sy Superrugby-franchise, die Waratahs.

Folau het vandeesweek aangedui dat hy RA se kontrakbeslissing in ’n verhoor gaan betwis.

Court het Donderdag gesê dit is “onregverdig” dat die speler “vervolg” word bloot omdat hy volgens sy geloofsoortuigings sterk standpunt inneem.

YOKOHAMA, JAPAN - OCTOBER 26: Israel Folau during
Israel Folau. Foto: Getty Images

“Ek verstaan hoekom Israel dit doen. Hy wil hê almal moet van Christus weet. Hy is ’n Australiër in murg en been, hy het sterk beginsels en dit verdien respek.

“Wat hy gesê het oor sondaars wat hul sondes moet bely, staan net so in die Bybel. Ek voel regtig jammer vir hom. Hy word nou veroordeel en vervolg omdat hy beginselvas is,” het Court aan die dagblad The Australian gesê.

“Al wat hy wil doen, is om mense na Christus te lei. Ek dink nie mense verstaan werklik sy boodskap nie.”

Court, wat 24 Grand Slam-enkelspeltitels in die 1960’s en 1970’s gewen het, is self een wat al weens haar omstrede uitsprake in die spervuur was.

Sy het onder meer sterk te velde getrek teen huwelike tussen mense van dieselfde geslag en gesê homoseksualiteit is “die werk van die duiwel”.

Sy het verlede jaar haar ook agter Folau geskaar toe hy soortgelyke uitsprake op sosiale media gemaak het.

In 2007 het sy ’n groot opskudding veroorsaak toe sy gesê het sy vermy vlugte met Quantas omdat dié lugredery huwelike tussen gays ondersteun. Hierna het sy ook gesê vrouetennis is “besaai met lesbiërs”.

Dit het ’n ander vrouelegende in tennisgeledere, Martina Navratilova, genoop om Court “homofobies” te noem. Billy Jean King, nog ’n tennisgrote en Court se tydgenoot, het ook ’n beroep gedoen dat Melbourne se Margaret Court-arena hernoem moet word.

Court se onlangse steun vir Folau is in skrille kontras met die speler se Wallaby-spanmaat Will Genia, wat die agterspeler “selfsugtig” genoem het en gesê het sy “homofobiese boodskappe is verbluffend kortsigtig”.

Ek dink Michael Cheika het te vinnig gereageer met so ’n sterk opmerking oor een van die sterre in sy span.
Nick Farr-Jones

Die Wallaby-breier, Michael Cheika, het net nadat die bom gebars het gesê die speler se uitlatings gaan hom sy plek in Australië se Wêreldbekerspan kos.

Dit het weer gelei tot kritiek van die voormalige Wallaby-skrumskakel Nick Farr-Jones – in sy eie woorde ’n “belydende Christen” – wat gesê het Cheika se opmerking was oorhaastig.

“Ek dink Michael Cheika het te vinnig gereageer met so ’n sterk opmerking oor een van die sterre in sy span. As ek Raelene Castle (RA se uitvoerende hoof) was, sou ek hom gevra het hoe hy so ’n wilde stelling kon maak.”

Folau se soortgelyke omstrede opmerkings verlede jaar het hom juis op die rooi tapyt voor Castle laat beland. Hy het haar toe glo die versekering gegee dat hy nie weer sulke uitsprake op sosiale media sal maak nie. – stuff.nz

Meer oor:  Israel Folau  |  Wallabies  |  Michael Cheika  |  Margaret Court
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.