Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Terugslae vir Cheetahs voor toer oorsee

Die Cheetahs kan sonder drie van hul staatmakers op hul Europese toer vertrek.

Die haker Joseph Dweba speel hierdie seisoen van die beste rugby van sy loopbaan. Hy sal egter weens ’n dyspierbesering nie Woensdag op die vliegtuig Europa toe kan klim vir die Cheetahs se Pro14-toer nie. Foto: Gallo Images

Die bonkige haker Joseph Dweba sal beslis nie Woensdag op die vliegtuig wees nie. Hy het nie genoegsaam van sy dyspierbesering herstel nie en sal nie in die eerste toerwedstryd teen Connacht Saterdag in Galway speel nie.

Hy kan moontlik later op die toer betrek word.

Dweba se plek in die beginspan vir dié Pro14-wedstryd sal in alle waarskynlikheid ingeneem word deur Jacques du Toit, wat van ’n kniebesering herstel het.

Dweba is dié seisoen in drie van die Cheetahs se 14 wedstryde – teen die Cardiff Blues, Treviso en die Southern Kings – as Speler van die Wedstryd vereer.

Du Toit het sy knie in Oktober verlede jaar beseer en het sedertdien nog nie weer gespeel nie.

“Joseph het nie heeltemal van sy besering herstel nie. Hoewel hy kon oefen, beteken dit nie noodwendig dat hy sou kon speel nie. Dit is beter om hom heeltemal fiks te kry en dan later ’n besluit te neem oor sy betrokkenheid,” sê Franco Smith, Cheetah-breier.

Die heelagter Malcolm Jaer kan weens ’n kniebesering ook in Bloemfontein agterbly.

“Mella (Jaer) het ’n harde stamp weg en daar bestaan ook kommer oor hom en of hy sal kan toer of nie. Soos sake nou staan, is daar heelwat spelers met stampe en stote en hoewel ek reeds ’n goeie idee het, sal ek teen môremiddag (Dinsdag) se oefening beter weet hoe die toergroep lyk.

“Die vlugplan is van so ’n aard dat dit op nommer 99 nog aangepas kan word, so ons hou duim vas vir dié met beserings,” sê die breier.

“Louis (Fouché) is pas terug van ’n besering so ons sal regtig tot op die laaste wag voor die toergroep aangekondig word.”

Na verneem word, sal die senter Benhard Janse van Rensburg ook vir eers met Jan Tuisbly se karretjie ry. Hy het harsingskudding in die vorige wedstryd teen die Southern Kings opgedoen. ’n Speler soos Dries Swanepoel, wat weens ’n skouerbesering nog net vyf minute Pro14-rugby (teen Zebre in Bloemfontein verlede maand) gespeel het, kan in Janse van Rensburg se plek betrek word.

Die Springbok-stut Ox Nche (knie) het nie Maandag saam met die vergrote groep geoefen nie en so ook nie die reeks se voorste driedrukker dié seisoen, die vleuel Rabs Maxwane (verkoue) nie. Hulle behoort egter steeds te gaan toer.

Meer oor:  Beserings  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.