Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Thomas oor vaskop: Gee my 2 jaar
Thomas du Toit by ’n Haaie-oefening in Durban. Foto: Gallo Images

Thomas du Toit glo dit sal hom nog twee jaar neem om in ’n vaskopstut te ontwikkel wat teenstanders werklik sal vrees.

Dié Haaie-voorryman het Dinsdag in Durban gesê vanjaar was ’n seisoen met verskeie uitdagings én ligpunte vir hom.

“Dit was ’n wipplank-seisoen. Aan die begin het ek geknor in die skrums, totdat ek my voete gevind het op vaskop,” sê Du Toit.

“Ek vind nog steeds my voete. Ek dink ek het nog so twee jaar nodig om regtig my stempel af te druk as ’n vaskopstut in Suid-Afrika.”

Ek vind nog steeds my voete. Ek dink ek het nog so twee jaar nodig om regtig my stempel af te druk as ’n vaskopstut in Suid-Afrika.
Thomas du Toit

Een van die ligpunte van sy seisoen was om sy toetsbuiging te maak.

“My tyd saam met die Springbokke was baie spesiaal. Ek is baie dankbaar teenoor Rassie (Erasmus, Bok-breier) dat hy vir my speelkans gegee het. Dit is ’n droom wat waar geword het.”

Du Toit was die vaskopstut op die plaasvervangersbank in die reeks teen Engeland en in die eerste toets in die Rugbykampioenskap teen Argentinië.

Daarna was hy slegs ’n toeskouer in die wegwedstryde teen die Poemas, die Wallabies en die All Blacks, voordat hy uit die groep vrygestel is vir die tuistoetse teen Australië en Nieu-Seeland.

Coenie Oosthuizen (Getty)

Frans Malherbe, Wilco Louw en Vincent Koch is toe bo hom verkies. As Coenie Oosthuizen se naam by dié lys gevoeg word, blyk daar baie aanspraakmakers vir die Bokke se nr. 3-trui te wees.

“Ons het vir lank ’n tekort aan vaskoppe gehad, maar nou het ons ’n oorvloed. Dit is ’n goeie ding, want dan moet jy op jou beste wees,” sê Du Toit.

Hy moes ook sy speelstyl so ietwat aanpas nadat hy van loskop- na vaskopstut geskuif het.

“Dit is moeilik om ’n plek te bereik waar jy op vaskopstut dieselfde op die veld en in algemene spel kan doen as op loskop, want dit is ’n nuwe posisie en jy moet jou energie bestuur.

“Die deel van my spel waaraan ek die hardste moes werk, was hoe ek energie bespaar.”

Intussen is hy dankbaar vir die speelkans wat hy by die Haaie in die Curriebeker-reeks kry. Die Durbaniete kan Saterdag in Kimberley teen Griekwas met ’n sege verseker hulle bied ’n tuishalfeindstryd aan.

“Griekwas het dalk niks om te verloor nie, maar ons het alles om te wen. As ons hierdie wedstryd wen, sit dit ons goed op koers vir die uitklopwedstryde.”

As ons hierdie wedstryd wen, sit dit ons goed op koers vir die uitklopwedstryde.
Thomas du Toit

Volgens hom was die nederlaag teen die Westelike Provinsie twee weke gelede net die skop op die agterent wat die Haaie nodig gehad het om weer met volle krag te werk.

“Die nederlaag teen die WP was beslis ’n wekroep vir ons. Ons is nou nader as ’n span en die gevoel in die kamp is ook beter as in die verlede.

“Ons het gesien waar ons foute maak en ons kan dit nou regstel.”

Meer oor:  Wilco Louw  |  Frans Malherbe  |  Thomas Du Toit  |  Durban  |  Rugby  |  Springbokke  |  Stut  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.