Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tiaan en Morné kelder die Pumas

Daar gaan ’n dag kom wanneer die Pumas nie meer die knie buig voor swak besluitneming en bottervingers nie. En daardie dag gaan die sogenaamde groter spanne lang trane huil.

Die Leeus-skrumskakel Morné van den Berg duik laat in die eerste helfte van sy span se wedstryd teen die Pumas op Ellispark oor vir sy span se eerste drie. Van den Berg was deurgaans bedrywig en een van die uitstaande spelers in ’n goeie toets vir die Johannesburgers.Foto: Gallo Images

Maar daardie dag het ongelukkig vir Jimmy Stonehouse se Pumas nog nie aangebreek nie. Vrydagaand moes hulle nogeens van ’n groot stadion wegry met vrae oor wat kon gewees het, ná ’n naelskraapse nederlaag van 32-28 teen die Leeus op Ellispark.

Aan intensiteit en planne het die Pumas geen tekort gehad nie, en veral in die eerste helfte het hulle veel gevaarliker as hul meer geroemde teenstanders gelyk. Die Leeus het die deur boonop vir hulle oopgemaak deur veral in die eerste helfte knaend op die grond te oortree en klei te trap by die vaste fasette.

Ten spyte daarvan het die spanne gaan water drink met die telling gelyk op 13-13, ná die enkele duikslag wat die Pumas in die helfte gemis het, die skrumskakel Morné van den Berg die ruimte gegee het om deur te wals doellyn toe. Dit was ’n drie wat die verskil tussen die spanne eindelik mooi opgesom het: die Leeus het een geleentheid gekry en dit met albei hande aangegryp, ná die Pumas talle belowende posisies met swak hanteerwerk of ondeurdagte skoppe verspeel het.

Ná ’n merendeels vergeetbare eerste helfte het die Leeus met veel meer vasberadenheid uitgedraf vir die tweede 40. Hulle het met meer direktheid aangeval, aansienlik minder foute by die afbreekpunte gemaak en groter waarde uit die vaste fasette geput.

Dit alles het groter druk op die Pumas geplaas, en Tiaan Swanepoel het die Laevelders se foute lustig van die skopkegel af bestraf.

Met sy voorspelers in die tweede helfte meer op die voorvoet het Swanepoel ook meer na vore getree en sy rol as generaal omarm. Die bepalende oomblik van die wedstryd is juis deur hom gelewer, toe hy ’n haas perfekte afskop geloods het wat 10 meter van die Pumas-doellyn deur MJ Pelser bemeester is. ’n Minuut later is Pelser beloon vir sy vasberadenheid om daardie bal te jaag, toe hy van ’n skrum af deurgebars het vir die Leeus se tweede drie.

Daardie vyfpunter het die gety gedraai nadat die Pumas met drieë deur AJ le Roux en Ali Mgijima beheer van sake begin neem het. Maar die Pelser-drie het die telling na 29-28 gevoer en die Pumas geskud.

Eers het Ginter Smuts ’n strafdoel wat hulle die voortou sou teruggee gemis, en toe gun die Pumas die Leeus weer genoeg ruimte om ’n strafdoel van hul eie af te dwing.

In die Leeus se kleedkamer sou daar gisteraand baie breed geglimlag word oor ’n uitslag wat net sowel anderkant toe kon gegaan het. Dit was ’n goeie toets vir die jongelinge wat kans kry terwyl die senior spelers voorseisoen hou, en niemand het hulself in die skande gesteek nie.

Nietemin is die kollig gesteel deur die meer ‘bekende’ spelers: Van den Berg, wat vir heelwat vuurwerk gesorg het wanneer hy aan die hardloop gegaan het; Manuel Rass, wat ook lus gelyk het vir hardloop, en Swanepoel het almal hul salarisse verdien, en Jannie du Plessis het boonop ’n onmiddellike impak in die skrums gehad toe hy opgestuur is.

Waaroor die Leeus egter blyer sal wees, is dat hulle ’n goeie toets gegee is, in die soort toestande waaraan hulle oor ’n paar maande in Europa blootgestel gaan word.

Puntemakers:

Leeus 32 (13): Drieë: Morné van den Berg, MJ Pelser. Doelskoppe: Tiaan Swanepoel (2). Strafdoele: Swanepoel (6).

Pumas 28 (13): Drieë: Simon Westraadt, AJ le Roux, Ali Mgijima. Doelskoppe: Eddie Fouché, Ginter Smuts. Strafdoele: Fouché (3).

Meer oor:  Pumas  |  Leeus  |  Voorbereidingsreeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.