Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tiaan is terug
Tiaan Liebenberg het besluit om weer sy rugbystewels nader te trek. Hy kan vanjaar ’n staatmaker vir die Cheetahs wees. | YUNUS MOHAMED

Sy boesemvriend Duane Vermeulen se telefoonoproep en ’n onderhoud van Jean de Villiers het Tiaan Liebenberg finaal oortuig om sy terugkeer tot die rugbyveld te maak.

’n Rugbesering het die 34-jarige Springbokhaker in 2014 ná ’n Curriebekerwedstryd vir die Westelike Provinsie laat besluit om uit eie wil, en nie op enige mediese aanbeveling nie, sy uittrede aan te kondig.

’n Vernoude senuweekanaal in sy rug het hom probleme gegee en hy was nie bereid om langer met die groot pyn te speel nie.

Sy pa, Henning, bestuur ’n suksesvolle onderneming in Bloemfontein, wat sy besluit vergemaklik het.

Hy en die WP het toe ’n gesamentlike ooreenkoms bereik en op ’n “mooi wyse” gegroet.

Kortom het Liebenberg besluit dis nie regverdig teenoor die WP dat hy weens sy besering net vyf of ses wedstryde in ’n seisoen speel en boonop steeds ’n mededingende salaris ontvang nie.

Maar toe kry hy verlede jaar ’n telefoonoproep van Vermeulen, nadat die Bok-agtsteman ’n nekoperasie voor die Wêreldbekertoernooi ondergaan het.

Vermeulen het sy voormalige Stormer-spanmaat aangemoedig om dieselfde spesialis wat hy in Durban besoek het, dr. Stephan Joubert, te bel.

Joubert het vroeër onder meer Willem Alberts se rugoperasie en Bismarck du Plessis se nekoperasies suksesvol uitgevoer.

Liebenberg het op pad na ’n sake-afspraak in Kimberley na ’n onderhoud op SuperSport met De Villiers geluister. Die voormalige Bokkaptein sê toe dat hy nie ’n jaar of twee te vroeg wou uittree nie en daarom besluit het om ’n kontrak met Leicester Tigers te sluit.

Liebenberg is eindelik in Oktober verlede jaar in Durban geopereer en oefen die laaste tyd voluit. Die voormalige Vrystaat-vleuel Jan du Toit, wat as een van die voorste sportwetenskaplikes in die land beskou word, laat hom deesdae by die Vrystaatse Sportinstituut in Bloemfontein sweet.

Sy herstelproses verloop baie goed en sy fisieke toestand word as die beste van sy loopbaan bestempel.

Sou hy die volgende vier weke se toetse slaag – wat fisieke kontak en skrumwerk insluit – bestaan daar ’n groot kans dat Liebenberg voor die begin van die Superreeks beskikbaar sal wees.

Hy sal ook dan eers ’n amptelike aankondiging oor sy beplande terugkeer maak.

Hy het al ’n slag of wat saam met die Varsitybekerspan, die Ixias, geskrum – en daardie ruskans sedert 2014 het hom duidelik uitgehonger en sy lyf ­goeie herstelkans gebied.

Die Cheetahs, wat ook by die Vrystaatse Sportinstituut oefen, sou beslis kennis van sy goeie fisieke toestand geneem het.

Dit sal geensins verbaas as Corniel van Zyl, voorspeler-afrigter van die Cheetahs, sy hoofafrigter, Franco Smith, se arm draai om Liebenberg te kontrakteer nie.

Die Cheetahs se haker-spens sal juis kan doen met sy ervaring, fisieke inklimspel en leierskap. Hy kan as ’n mentor ook van groot waarde vir ’n jong ster soos die Junior Bok Joseph Dweba wees.

Sedert verlede jaar se Superreeks is Martin Bezuidenhout en Stephan Coetzee as hakers deur die Cheetahs vrygestel. Torsten van Jaarsveld, Neil Rautenbach, Elandré Huggett en Jacques du Toit sal vanjaar van die vernaamste aanspraakmakers op die Cheetahs se nommer twee-trui wees.

Liebenberg se kontraktering sal as ’n waardevolle toevoeging tot die Cheetah-groep beskou word; terwyl spanne soos die Sharks, Southern Kings, Leeus en selfs oorsese klubs ook groot belangstelling in sy terugkeer sal hê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.