Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tian Schoeman nie ‘swak skakel’ nie
Tian Schoeman in aksie.Foto: GALLO IMAGES

Die flaters wat hy teen die Westelike Provinsie gemaak het, kan in Saterdag se Curriebekereindstryd teen die Cheetahs die verskil tussen wen en verloor wees.

Maar nee, hy beskou Tian Schoeman, die Bulle-losskakel, nie as ’n swakplek in die Ligbloues se mondering nie, sê Naas Botha, oud-Springbok-losskakel.

Die Bulle se blondekop-nr. 10 het Saterdag op Loftus Versfeld in die tweede helfte in die bestek van tien minute 14 punte op ’n skinkbord aan die WP gegee.

Eers is ’n wilde binne-aangee van Schoeman onderskep wat op die WP-vleuel Werner Kok se drie uitgeloop het.

’n Paar minute later het die Streeptruie hul derde drie gedruk, ’n fase of wat nadat Schoeman nie ’n afskop in sy kwartgebied kon bemeester nie.

Daar was tereg ook regmerkies op Schoeman se rapport.

Die voorste puntemaker in die Curriebekerreeks het met al agt sy stelskoppe geslaag en die 21 punte wat hy bygedra het, is nie te versmaai nie.

Sy algemene spel was, afgesien van die twee blapse wat uitstaan, bo verdenking.

Dit is wel nie die eerste keer die seisoen dat Schoeman se bedrewenheid in druksituasies bevraagteken word nie.

“Ek dink nie daar kan te veel kritiek teen hom wees nie. Die twee foute wat hy gemaak het, het ek nie verwag nie, maar dit sal onbillik wees om net op grond daarvan ’n oordeel te vel,” sê Botha.

Dié Ligblou-legende van weleer was in die 11 Curriebekereindstryde wat hy destyds vir Noord-Transvaal gespeel het net twee keer aan die verloorkant.

Botha sê die losskakels se vertonings is gewoonlik “nege uit tien keer” deurslaggewend in Curriebekereindstryde.

“Jy kry soms in ’n eindstryd net een kans. En dit kan maklik ook jou laaste een (eindstryd) wees.

“Daar is altyd bykomende druk en Tian sal dit beter moet hanteer.”

Hy sê die losskakels in die eindstryd – Schoeman en die Cheetahs se Niel Marais – is albei belowend.

Marais het self 21 punte met die skopstewel aangeteken in sy span se oortuigende halfeindsege van 55-17 oor die Leeus.

Dit is egter sy besluitneming en verspreiding wat Botha beïndruk het.

“Marais het my aangenaam verras. Hy het werklik goeie rugby gespeel en het baie ontwikkel sedert hy Varsitybekerrugby gespeel het.”

* Die Bulle sal sonder die heelagter Ulrich Beyers, wat sy skouer teen die WP ontwrig het, wees. Die Springbok Bjorn Basson behoort die laaste vesting in Bloemfontein te beman.

Herman Rossouw, die Bulle se spandokter, sê in ’n verrassende wending daar is ’n geringe kans dat die slot RG Snyman wel teen die Vrystaters kan speel. Snyman het ’n skedelfraktuur en harsingskudding opgedoen en het, volgens Rossouw, Maandag ’n klein operasie ondergaan.

“Die kans is baie skraal dat hy beskikbaar sal wees, maar ons sal môre ’n besluit neem.”

Die goeie nuus is dat die skrumskakel Piet van Zyl, wat onlangs harsingskudding opgedoen het, slaggereed is om teen sy ou span te speel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.