Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie-hulle betrek tiener-losskakel

Rassie Erasmus het Suid-Afrikaanse ondersteuners ’n blik op die toekoms van Springbok-rugby gegee toe hy die 19-jarige oud-Paul Roos-losskakel Kade Wolhuter, en verskeie ander jonges, in ’n groep van 93 spelers vir die wedstryd tussen die Groen- en die Goudspan ingesluit het.

Verlede jaar se kaptein van die Junior Springbokke, die 21-jarige Phepsi Buthelezi, tel onder die Jong Turke wat op een of ander wyse by 3 Oktober se wedstryd in die Kaap betrokke sal wees.

Fez Mbatha, Celimpilo Gumede, Jaden Hendrikse, David Kriel, Elrigh Louw, Sanele Nohamba, Rikus Pretorius, Dylan Richardson en Emile van Heerden is van Buthelezi se spanmaats in 2019 wat ook deur Erasmus gekies is.

Erasmus het gister aangekondig dat hy volgende Vrydag tydens die spelerloting van die spanne op SuperSport, 14 jonges vir die kragmeting in die Kaap sal betrek. Die jonges sal volgende Sondag saam met die Groen- en die Goud-span in Kaapstad saamtrek.

“Om dit ’n sinvolle oefening te maak, sal die groepe vir die wedstryddag uit net 25 spelers bestaan, maar ons het om verskeie redes besluit om elke groep met sewe Jong Turke te vergroot,” het Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, verduidelik.

“Vir eers moet ons voorsiening maak vir ingeval lede van die groep beserings opdoen of siek word en vervang moet word, in ooreenstemming met die Covid-19-regulasies.

Kade Wolhuter

“Die wedstryd bied ook ’n wonderlike geleentheid aan ons jonger spelers om skouers te skuur met meer ervare Springbokke, veral omdat baie van hulle vanjaar die Junior Springbok-verteenwoordiging misgeloop het. Ons het die net baie wyd gegooi vir die wedstryd, wat ’n baie opwindende vooruitsig is. As Springbok-afrigters kan ons nie wag om met die spelers te begin werk nie.”

Wolhuter is een van die ongelukkiges wat vanjaar in die Junior Bokke se planne was, maar deur Covid-19 gepootjie is toe die Ju­nior Wêreldtoernooi, wat in Italië moes plaasvind, afgestel is.

Wolhuter, wat nog verlede jaar op Paul Roos se skoolbanke gesit het, was die week deel van die Stormers se oefenwedstryd op Nuweland nadat hy vroeër vanjaar ná ’n kort besoek aan die Franse klubspan Montpellier na Suid-Afrika teruggekeer het.

Hy het die afgelope tyd gereeld saam met Damian Willemse op die Kaapse strande gesweet. Die Bok-keurders beskou Wolhuter ook as een van die Jong Turke wat dit fisiek nou reeds op senior vlak kan maak.

Erasmus het gister verduidelik dat die groep van 93 spelers vroeër die jaar tydens Superrugby, die Pro14-reeks en verlede jaar se Curriebekerreeks geïdentifiseer is. Die jonger spelers op die lys was ook deel van SA Rugby se Elite-ontwikkelingsprogram (EPD). 

32 spelers in die groep van 93 was tussen 2016 en 2019 deel van die Junior Springbokke, iets waaroor Erasmus baie bly is.“Selfs al haal hulle nie die finale groep nie, wys dit dat ons pad van junior tot senior vlak baie goed werk.”

32 Bokke, waarvan 13 in die Wêreldbeker gespeel het, is in die vergrote groep van 93. 

Terugkerende Bokke soos die Bulle se Duane Vermeulen, Marcel van der Merwe, Arno Botha, Jason Jenkins, Nizaam Carr en Travis Ismaiel, die Cheetahs se Frans Steyn asook die Leeus se Jaco Kriel en Ruan Dreyer is in die vergrote groep. Ouer Bokke soos Jannie du Plessis, Willem Alberts, Juandré Kruger, Morné Steyn en Gio Aplon sal net in die geval van beserings betrek word. 

Die Groenspan sal deur Mzwandile Stick afgerig word, met Erasmus as sy spankommissaris. Deon Davids en Jacques Nienaber is aan die stuur van die Goudspan.

Pieter-Steph du Toit, S’bu Nkosi en Aphelele Fassi is van die spelers wat weens beserings nie oorweeg is nie. 

Só lyk groep

Stutte: Frans Malherbe, Thomas du Toit, Steven Kitshoff, Trevor Nyakane, Lizo Gqoboka, Ox Nche, Marcel van der Merwe, Ruan Dreyer, Dylan Smith, Carlu Sadie, Gerhard Steenekamp, Luan de Bruin, Sti Sithole, Nathan McBeth, Mzamo Majola, Johannes Jonker, John-Hubert Meyer.

Hakers: Bongi Mbonambi, Scarra Ntubeni, Dylan Richardson, Johan Grobbelaar, Schalk Erasmus, Fez Mbatha, Dan Jooste.

Slotte: Jason Jen­kins, Marvin Orie, Oupa Mohoje, JD Schickerling, Emile van Heerden, Le Roux Roets, Hyron Andrews, Ruben van Heerden, Salmaan Moerat, Sintu Manjezi, Walt Steenkamp, Reinhard Nothnagel, Ruan Vermaak, Ruben Schoeman.

Losvoorspelers: Siya Kolisi, Duane Vermeulen, Sikhumbuzo Notshe, Arno Botha, Marco van Staden, Nizaam Carr, Jaco Kriel, Ernst van Rhyn, Celimpilo Gumede, Jaco Coetzee, James Venter, Junior Pokomela, Phepsi Buthelezi, Thembelani Bholi, Vincent Tshituka, Elrigh Louw, Jeandré Rudolph, Juarno Augustus, Muller Uys, Len Massyn.

Skrumskakels: Herschel Jantjies, Embrose Papier, Ivan van Zyl, Jaden Hendrikse, Sanele Nohamba.

Losskakels: Elton Jantjies (foto), Damian Willemse, Curwin Bosch, George Whitehead, Kade Wolhuter, Manie Libbok.

Senters: Frans Steyn, Lukhanyo Am, Burger Odendaal, Jeremy Ward, Clinton Swart, Manuel Rass, Marius Louw, Rikus Pretorius, Wandisile Simelane, Werner Kok, Dan du Plessis, Ruhan Nel.

Buite-agterspelers: Warrick Gelant, Travis Ismaiel, Cornal Hendricks, Courtnall Skosan, Rabz Maxwane, Rosko Specman, Seabelo Senatla, Sergeal Petersen, Yaw Penxe, David Kriel, Gianni Lombard, Malcolm Jaer.

Meer oor:  Kade Wolhuter  |  Rassie Erasmus  |  Span
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.