Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tier terug in Japan ná ‘uitspan’ in SA

In April vanjaar het die vuurvreter-flank Tier Schoeman hom tot die Suid-Afrikaanse parlement gewend in ’n poging om hom en sy vrou, Kendall, te help om uit Japan te kon terugkeer te midde die Covid-19-krisis.

Tier Schoeman druk vir die Honda Heat in Februarie vanjaar teen die Canon Eagles, waarna sy gespook begin het om in Suid-Afrika te kom. Hy is egter weer terug in Japan en kan wag om te begin speel nie. Foto: Getty Images

Nou, bykans vyf maande later en ná al die drama om na sy geboorteland terug te keer, is Schoeman en sy vrou weer sak en pak terug in Japan.

Schoeman moes terugkeer om by sy klubspan, die Honda Heat, wat in Japan se Topliga speel, aan te meld.

“Ons is tans in selfisolasie vir die volgende twee weke en ek sal dan weer saam met my spanmaats kan begin oefen. Ek kan nie wag nie. Ek het rugby gemis,” laat weet Schoeman uit Japan.

Hy het hom vir ’n seisoen aangesluit by sy ou span en as daar na hom geluister word, is hy nie van plan om binnekort op Suid-Afrikaanse rugbyvelde sy brood en botter te verdien nie, hoewel hy dit nie heeltemaal uitsluit nie.

En dink hy die gespook om na Suid-Afrika te kon terugkeer om nader aan hul families te wees, was die moeite werd?

“Ja, om terug in Suid-Afrika te kom was omtrent ’n storie. Die proses het baie makliker verloop hierdie kant toe. Ons het net lank in Doha vertoef onderweg na Japan.

Schoeman (27) is ’n groot buitelewemens en ’n geharde jagter. Hy het vir die eerste maand (vanaf die middel van Mei) terug in sy geboorteland net uitgespan op hul familieplaas in die Oos-Kaap en daarna begin oefen.

“Om eerlik te wees, het ek vir die eerste maand niks gedoen behalwe die plaaslewe te geniet en bietjie af te skakel nie. Ons kondisioneringsafrigter het toe vir my ’n program gestuur en ek het dit getrou gevolg. Die program het meestal uit hardloopwerk bestaan en dit het my goed gepas,” sê Schoeman.

Hy sê hy kan nie wag om weer op die veld te kom nie, want dit is een ding om te oefen, maar om nie te speel nie, was vir hom baie erg.

“Ek sien die meeste uit na die rugby. Die vorige seisoen was maar kort, net ses wedstryde. Ek hoop om ’n goeie seisoen te hê en my stempel af te druk. Ek glo egter dit gaan ’n baie lekker seisoen wees.

“Ons het nogal heelwat Suid-Afrikaners in ons span en dis wat altyd lekker is. Dis net jammer dat RG Snyman nou by die Ierse Pro14-span Munster aangesluit het. Hy is ’n goeie speler en ons gaan hom hier mis.”

Schoeman glo dit is lank nie meer ongewoon vir Suid-Afrikaanse spelers om groener weivelde buite die grense van hul eie land te soek nie en dit is waarskynlik die roete wat baie spelers in die toekoms nog sal volg. Hy sê spelers neem so ’n besluit nie ligtelik op nie.

“Daar is baie faktore wat in ag geneem word, beter kontrakte, om ander kulture te ervaar en om die wêreld te sien en dan nog politieke inmenging in Suid-Afrikaanse rugby.”

Hy sê dis nog te vroeg om te kan sê of hy weer sy rugby in Suid-Afrika gaan speel, maar gee toe dat dit lekker sal wees.

Meer oor:  Japan  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.