Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tier verruil Cheetahs glo vir Bulle

Nóg twee Cheetahs gaan dié rugbyspan ná sy debuutseisoen in die Pro14-reeks verlaat.

Tier Schoeman, hier in aksie vir die Cheetahs teen die Glasgow Warriors, word binnekort ’n Bul. Foto: Gallo Images

Die flank Tier Schoeman en die losvoorspeler Rynier Bernardo gaan die Cheetahs ook groet. Dít beteken dat 13 Cheetahs groener weivelde gaan soek.

Schoeman, ’n derduiwel in die skrums en losgemale, word met ’n skuif na die Bulle verbind, terwyl Bernardo bevestig het dat hy op pad Japan toe is.

Schoeman was die laaste drie seisoene ’n sleutelspeler in die agttal. Trombose het hom verlede jaar tydens die Superrugby-reeks van die veld gehou.

Die Bulle, asook Schoeman se agent, het Dinsdag by navraag bevestig dat ’n kontrak nog onderteken moet word.

Bernardo is die vyfde Cheetah in vanjaar se span wat nou in Japan gaan speel. Hy wou egter nog nie sy nuwe klub bekend maak nie aangesien die onderhandelinge nog afgehandel word.

Die Cheetahs moes reeds die voorste slot en lynstaanspringer in die huidige Pro14-reeks, Reniel Hugo, en sy slotmaat Carl Wegner aan die Japanse klubspan Verblitz afstaan. Dié span word deur die voormalige Springbok-afrigter Jake White gebrei.

Bernardo het hom verlede jaar by die Cheetahs aangesluit met ervaring in die ou Pro12-reeks, waar hy vir die Ospreys en Scarlets gespeel het.

Rynier Bernardo gaan sy rugbyvaardighede nou in Japan ten toon stel. Foto: Gallo Images

“In rugby is die geleenthede maar yl gesaai en dié was een wat ek eenvoudig nie kon laat verbygaan nie.

“Die laaste jaar by die Cheetahs was die beste rugbyjaar van my lewe.

“Ons het die Pro14 die naweek teen die Scarlets afgesluit en dit het nie geëindig soos ons graag sou wou hê nie, maar wat ’n ongelooflike seisoen was dit nie,” sê Bernardo.

“Ek het nie net my rugby by die Cheetahs geniet nie, maar ook lewenslange vriende hier gemaak. Elke afrigter, van Rory (Duncan) tot Dave (Williams), het ’n invloed op my loopbaan gehad,” sê Bernardo.

Sy vertrek laat die Cheetahs in ietwat van ’n penarie met bitter min slotte tot hul beskikking.

Die hoop word nou gevestig op die koms van die Pukke en Luiperds se Walt Steenkamp, wat saam met Justin Basson voor in die tou sal staan om die nuwe slotpaar te wees.

* Die Cheetahs se oorblywende Pro14-spelers kry nou ’n blaaskans en trek op 11 Junie weer saam.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.