Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tietjens gekritiseer oor taal en salaris
Gordon Tietjens (middel) hou kajuitraad met sy Samoaanse spelers in die Londen-sewestoernooi wat in 2019 op Twickenham aangebied is. Foto: Getty Images

Die seëvierende sewesafrigter Gordon Tietjens se skynbare onvermoë om Samoaans te praat en so met sy spelers te kommunikeer, is een van die redes hoekom hy nou as Samoa se vrotste sewesafrigter tot op hede beskou word.

Tietjens (64), ’n Nieu-Seelander, het verlede week die leisels as Samoa se sewesafrigter neergelê nadat hy sy geboorteland voorheen van 1994 tot 2016 gebrei het.

In sy tyd by die Kiwi’s het sy vernaamste prestasie ingesluit dat hy hulle 12 seisoene na die titel van Wêreldrugby se sewesreeks gebrei het. Dit maak hom loshande die suksesvolste breier tot op hede in die formaat van die spel.

Reeds toe Tietjens in 2016 as Samoa se breier aangestel is, het Eliota Fuimaono-Sapolu, ’n Samoaanse vyftienman-speler, hom op sosiale media teen die Kiwi se aanstelling uitgespreek.

“Hy het 12 van die 17 titels in die Wêreldreeks gewen. Maak nie saak op watter manier jy daarna kyk nie, jy kan nie help om opgewonde oor sy aanstelling te wees nie, maar Tietjens praat nie Samoaans nie.

“Jy kan die beste planne ter wêreld hê, maar as jy dit nie aan mense wat jou taal praat, kan oordra nie, kan jy net sowel met ’n toilet praat,” het Fuimaono-Sapolu aan die Samoa Observer gesê.

Samoaans en Engels is albei amptelike tale in dié land, hoewel daar meer moedertaalsprekers van eersgenoemde is.

Dit was nie net Tietjens se onvermoë om Samoaans te praat wat Fuimaono-Sapolu gegrief het nie, maar ook die kultuurverskille tussen Nieu-Seeland en Samoa, asook die salaris wat die Kiwi verdien het.

“Tietjens is besig om die swakste afrigter te word wat Samoa nog ooit gehad het. Sy vertoonlys is onpeilbaar. Dit is byna onmoontlik om te glo dat hy meer as al die vorige Samoaanse breiers saam betaal word,” het Fuimaono-Sapolu al vroeg in 2019 op Twitter gesê.

Hy het ook aan Planet Rugby Tietjens se vermoë bevraagteken.

Eliota Fuimaono-Sapolu toe hy vir die Engelse klubspan Bath gespeel het. Foto: Getty Images

“Laat ons eerlik wees, Nieu-Seeland bestee meer geld aan rugby as aan armoede. Om af te rig in Nieu-Seeland, waar jy onbeperkte hulpbronne het, is wêrelde verwyder van Samoa of Fidji, waar daar nie eens altyd ’n rugbybal is nie,” het hy gesê.

Die uitgesproke speler is egter ’n effens omstrede figuur wat al voorheen mense met uitsprake op sosiale media omgekrap het.

Toe Suid-Afrika Samoa in 2011 in die Wêreldbeker-toernooi geklop het, het hy op Twitter uitgevaar teen Nigel Owens wat die wedstryde beheer het en onder meer na hom as ’n rassis verwys.

Tietjens kon weliswaar in sy tyd nie veel welslae met Samoa behaal nie. Die Samoane het verlede jaar sesde in die Wêreldreeks geëindig, maar hul grootste probleem die afgelope jaar of so is straks hul onbestendigheid.

Die Kiwi, wie se kontrak met Samoa aan die einde van Augustus sou verval, het in die lig van die onsekerheid oor die res van die seisoen besluit om halt te roep.

Die laaste vier sewestoernooie van die Wêreldreeks is vroeër uitgestel tot September en Oktober, maar daar is onsekerheid of dit weens die Covid-19-pandemie wel beslis sal word. – Sportredaksie

Meer oor:  Sewes  |  Eliota Fuimaono-Sapolu  |  Gordon Tietjens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.