Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Marizanne Kok gesels met Handré Pollard
Pollard: Toe glimlag ons . . . en wéét

Wanneer Handré Pollard eendag ’n ou man is en terugkyk op 2 November 2019, sal hy nie onthou hoe sag of skril die eindfluitjie was, hoe warm of koud die Webb Ellis-trofee in sy hande gevoel het of hoeveel handdrukke van gelukwensing hy gekry het nie.

Wanneer Handré Pollard eendag ’n ou man is, sal hy die oorweldigende ekstase onthou toe hy drie minute voor die einde agter ’n Bok-skrum in Engeland se 22 staan en besef hy is ’n Wêreldbeker-wenner. Hy sal onthou hoe breed sy spanmaats begin glimlag het, hoe blink hul oë geraak het, hoe regop hul skouers.

Handré Pollard baai saam met sy vrou, Marise, in die euforie van die Springbokke se Wêreldbeker-sukses in Japan. Pollard, wat 22 punte tot die span se totaal bygedra het, het kort daarna eers besef hy het ’n gebreekte wangbeen.Foto: Getty Images

Natuurlik sal hy ook onthou hy het 22 punte in sy eerste Wêreldbeker-eindstryd aangeteken, en kan verduidelik hoekom sy wang so bol gestaan het onder sy opgeswelde linkeroog. Maar uit ’n veldtog wat regeer is deur die onsigbare – die staal en geloof wat binne hom en sy spanmaats gekweek is – en deur die wense van miljoene mense wat hy nog nooit ontmoet het nie, is dit sy emosies wat hom sal bybly.

“Ek was so vyf, ses toe ek begin rugby speel het, en 13 toe die Bokke in 2007 die Wêreldbeker gewen het. Dit het ’n vuur in my, soos sekerlik in baie ander, aangesteek en van daar af sou ek altyd in die agterplaas oefen en my verbeel ek moet ’n skop oorsit in ’n Wêreldbeker-eindstryd,” vertel Pollard die afgelope week.

“Om nou presies dit te kon doen, en te vermag het wat daardie ouens van 2007 vermag het, is net ongelooflik. Dis waarvan ek gedroom het vandat ek besluit het ek wil professionele rugby speel, waarvoor ek soveel ure van my lewe gegee het. Om dan daar te staan, drie minute voor die eindfluitjie, en jy weet die droom het waar geword . . . jy kyk om jou rond en almal glimlag. Dis moeilik om te beskryf hoe dit voel. Dis ’n ongelooflike voorreg en hopelik iets wat mense inspireer.”

Ek het dit voel gebeur, die stamp teen die wang, maar ek het nie gedink dis gebreek nie. Later, ná ons al die medaljes en die beker gekry het, het ek my neus geblaas en toe blaas my hele gesig op, soos dit mos maar gebeur as jy iets gebreek het. Voor dit het ek my nie eintlik daaraan gesteur nie,

Wat geen van die miljoene Suid-Afrikaners wat verlede Saterdag in hul eie ekstase verdrink het (en inderdaad geïnspireer is), geweet het nie, is dat Pollard die Wêreldbeker-eindstryd met ’n gebreekte wangbeen afgesluit het.

Hyself het dit ook nie dadelik besef nie, sê hy.

“Ek het dit voel gebeur, die stamp teen die wang, maar ek het nie gedink dis gebreek nie. Later, ná ons al die medaljes en die beker gekry het, het ek my neus geblaas en toe blaas my hele gesig op, soos dit mos maar gebeur as jy iets gebreek het. Voor dit het ek my nie eintlik daaraan gesteur nie,” sê hy.

Vir Pollard het sy pad na die Webb Ellis-trofee egter meer ingesluit as ’n af wangbeen of jare van droom.

Omtrent elke man wat die Groen-en-goud by die WB-toernooi gedra het, het ’n storie om te vertel. Sommige onthou leë mae, sommige onthou toe deure.

In die geval van Pollard was sy rugbypad aanvanklik geplavei en sonder bulte. Hy het die Westelike Provinsie op o.13-, o.16- en o.18-vlak verteenwoordig. Hy was nog ’n skoolseun toe hy drie strafskoppe en ’n doelskop deur die pale gejaag het om Suid-Afrika die Junior Wêreldbeker te help wen.

Op 21 het hy homself as eerstekeuse-losskakel by 2015 se Wêreldbeker bevind.

Dit was skrikwekkend, maar ek het ook geweet ek is in goeie hande en bly glo daar is ’n lig aan die einde van die tonnel. En daar was; kyk waar sit ek no

Maar minder as ’n jaar later het daar van nêrens ’n monster verskyn wat gedreig het om al sy drome te verydel.

Vroeg in 2016 het Pollard ’n ernstige kniebesering opgedoen wat hom byna ’n jaar van die veld sou hou. Hy het besluit om te laat sny aan ’n seer skouer wat hom al ’n ruk gepla het.

Ses weke ná die skoueroperasie het Pollard besef iets is fout. Sy skouer het seer gebly, het hy aan sy dokter gesê – net om te hoor hy het bloedvergiftiging en kan sy arm verloor as daar nie gou opgetree word nie.

“Dis ’n bietjie van ’n skok om dit te hoor, maar, snaaks genoeg, as jy in daardie situasie is, dink jy nie aan die ergste nie, jy probeer maar positief bly,” sê Pollard.

“Dit was skrikwekkend, maar ek het geglo daar is lig aan die einde van die tonnel en seker gemaak ek doen wat ek kon om die ergste te verhoed.

“As so iets jou oorkom, het jy beslis ’n groter dankbaarheid vir al die goeie dinge wat later oor jou pad kom. Voor dit was ek ’n jong man wat baie bereik het en sakke vol geluk gehad het. Maar dit sit jou half in ’n borrel, jy raak uit voeling met die res van die wêreld.

“Dan kom so iets oor jou pad en dit laat jou terugsit en kyk na waar jy is in jou lewe. Wat het jy, wie het jy – dit gee jou perspektief.

“Dit was skrikwekkend, maar ek het ook geweet ek is in goeie hande en bly glo daar is ’n lig aan die einde van die tonnel. En daar was; kyk waar sit ek nou!”

Waar hy en sy spanmaats nou sit – op die kruin van wêreldrugby, ná ’n haas perfekte eindstryd-vertoning – is iets wat vele mense so onlangs soos nege dae gelede nie vir hulle sou voorspel nie.

In die Bok-kamp was hulle natuurlik bewus daarvan dat ’n groot deel van die rugbywêreld hulle nie ’n kans in die eindstryd gegee het nie, sê Pollard.

Hulle het dit omarm.

“Ons het verstaan hoekom mense dit gedink het, ná die manier wat Engeland die All Blacks in die halfeindstryd oorrompel het, maar vir ons was dit motivering. Dit was petrol op die vuur. Jy kon sien hoe die ouens elke dag, elke dag ’n bietjie meer kwaad raak. Ek dink dit was ’n blessing in disguise, want ons het besluit ons gaan net stilbly en alles inneem en Saterdag vir 80 minute al ons aggressie en woede laat uitkom,” sê Pollard.

Met die Wêreldbeker gewen is Pollard net dae weg van sy volgende groot uitdaging.

Ná sewe jaar by die Bulle gaan hy nou vir Montpellier in Frank­ryk speel. Hy klim reeds komende Sondag op ’n vliegtuig daarheen.

“Ek is regtig opgewonde daaroor. Dit gee my nou nuwe dinge om voor te werk, goed soos die Top14-titel of die Kampioenebeker wen. Daar wag ’n ander tipe rugby, ’n ander omgewing, ander skares, ’n ander atmosfeer, en ek sien verskriklik daarna uit.”

Maar, benadruk hy, die Bokke sal steeds eerste kom.

“Ons spat dalk nou uitmekaar, maar die meerderheid van ons kan maklik vir die volgende vier jaar die kern van die span bly. Ek dink dis ’n goeie ding dat baie van ons oorsee gaan, want ons sal nuwe dinge leer wat ons kan terugbring na die Bokke.

“Vir ons is dit belangrik dat die Bok-span nou aanhou wen. Jy gaan nie elke wedstryd wen nie, dis onrealisties, maar as ons oor die volgende vier jaar sê maar twee keer die Rugbykampioenskap wen en met die Britse en Ierse Leeus afreken (in 2021) sal ons weet ons staan sterk vir die volgende Wêreldbeker.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.