Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Toetsdebuut wink vir Elstadt, Jantjies
Herschel Jantjies, skrumskakel van die Stormers, kan op 20 Julie sy eerste toets vir die Springbokke speel. Foto: Gallo Images

Ja, daar sal ’n voorkeurspan en ’n naasbeste span wees, maar geen teenstander sal by die Wêreldbeker-toernooi gering geskat word nie, verseker die Springbok-breier, Rassie Erasmus.

Om twee spanne by ’n WB-toernooi in te span, is nie ’n nuwe verskynsel nie en dit is ook Erasmus se plan met die oog op dié skouspel, wat in September in Japan afskop.

“Dit is nie ’n geheim nie. Ons speel teen Japan (in ’n losmaker op 6 September) en dan ons eerste wedstryd in die toernooi teen Nieu-Seeland (21 September).

“Daarna kom ons teen Namibië, Italië en Kanada te staan.

“Ons sal ons beste span teen die All Blacks en Italië laat speel.

“Ons kan egter nie in die ander wedstryde disrespekvol wees teen ons teenstanders nie,” het Erasmus gesê.

Jake White se Springbokke het in die 2007-toernooi in Frankryk so byna teen Tonga verloor toe hy sy naasbestes gekies het.

Die Bokke se “B-span” moes diep delf om ’n hoogs begeesterde Tonga met 30-25 in Lens te verslaan.

White moes in die tweede helfte staatmakers soos Bryan Habana, Percy Montgomery, Juan Smith, Victor Matfield en John Smit van die plaasvervangersbank af ontplooi om die toets te red.

Erasmus sê hy weet die sogenaamde naasbestes het senior en ervare spelers nodig in sy midde.

Veral op losskakel, binnesenter en heelagter moet jy ervaring hê en spelers wat kalm is onder druk.
Rassie Erasmus

“Veral op losskakel, binnesenter en heelagter moet jy ervaring hê en spelers wat kalm is onder druk.

“Ons moet daarna kyk en sal die balans reg moet kry in die Rugbykampioenskap.”

’n Speler soos Frans Steyn, wat die Springbokke in 2007 en 2011 by die WB-toernooi verteenwoordig het, kan ’n groot bate wees in dié opsig.

Sy ervaring en veelsydigheid kan uiteindelik in sy guns tel.

Rassie Erasmus

Die aanduiding is dat Erasmus vir Steyn en nuwelinge soos Herschel Jantjies, Rynhardt Elstadt en Marcell Coetzee speelkans sal gee wanneer Suid-Afrika op 20 Julie die Wallabies op Ellispark in die Rugbykampioenskap aandurf.

“Ek dink ’n ou moet aanvaar dat ons weens die nuwe kombinasies nie baie ritme sal hê nie.

“Daar sal ’n groeipyn of twee wees. Daar is 19 weke oor voordat die WB-eindstryd gespeel word en ons moet almal in die groep ’n billike kans gee.

“Die groot uitdaging is om die balans in die groep reg te kry.”

Erasmus het verlede seisoen, in sy eerste toets as hoofbreier, ook ’n naasbeste span gekies vir die ontmoeting met Wallis in Washington, in die VSA.

Die Rooi Drake, wat ook erg verswak was vir dié kragmeting, het met 22-20 gewen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.