Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat het geword van . . .
Chavhanga: ‘Basta met kwotas’

Hy hou die rekord vir die meeste drieë deur ’n Springbok in ’n toets. Maar ondanks dié trotse rekord – ses drieë wat al 15 jaar agter sy naam staan – het Tonderai Chavhanga uiteindelik maar net in vier toetse gespeel.

Tonderai Chavhanga in ’n Curriebekerwedstryd vir die WP in 2007. Foto: Gallo

Deesdae bedryf dié vriendelike Zimbabwiër sy eie konsultasie-agentskap, wat onder meer sy dienste verleen aan S-Group, ’n netwerk-maatskappy wat oor ’n eksklusiewe lidmaatskap van meer as 2 000 sakeleiers en sportmense van oor die wêreld heen beskik.

“Die aanpassing wanneer ’n mens se rugbyloopbaan verby is, is nie maklik nie,” erken Cha­vhanga (36).

“Rugby het my geleer dat die voorseisoen die belangrikste aspek van ’n seisoen is. As ’n mens nie al die ure van bloedsweet deurmaak nie, kan jy nie verwag om sukses te behaal en drieë te druk wanneer die werklike seisoen aanbreek nie.

“Dieselfde geld vir die lewe ná rugby. Omdat baie seuns direk ná skool professionele rugbykontrakte aangebied word, studeer die meeste van hulle nie verder nie en is hulle nie voorbereid op wat vir hulle wag die dag wanneer hulle ophou speel nie.

“Om hierdie aanpassing te help vergemaklik, het S-Group ’n netwerk geskep waardeur van ons beste rugbyspelers in kontak geplaas word met top-sakelui, asook voormalige spelers wat suksesvol is in die sakewêreld, om die spelers te mentor in die oorskakeling van rugby na die beroepswêreld.”

Chavhanga woon deesdae in die pragtige vissersdorp Houtbaai saam met sy vrou, Megon, met wie hy 11 jaar getroud is, en hul kinders, Eva (10) en Eli (8).

Chavhanga is op Oukersdag 1983 in die Zimbabwiese stad Masvingo, voorheen Fort Victoria, gebore. Sy ma moes in die stad gaan werk soek, en dus is hy aanvanklik deur sy ouma op die platteland grootgemaak.

“Ek het nie met geld grootgeword nie,” onthou hy, “maar het nooit honger gaan slaap nie en gelukkige kinderjare beleef.

Ek het gedroom daarvan om ’n Springbok te word, al het ek nog nooit eens ’n rugbybal vasgehou nie.

“Ek het myself nooit as arm beskou nie, en was geseënd om ’n goeie opvoeding te kon ontvang en my drome te kon verwesenlik.”

Op 11-jarige ouderdom het Chavhanga by sy oom in die stad gaan woon, waar hy die eerste keer aan rugby blootgestel is.

“Hoewel ek niks van rugby geweet het nie, het ek die Wêreldbeker-toernooi van 1995 dopgehou en was ek eenvoudig meegevoer deur die vertonings van Chester Williams en daardie All Black-fenomeen, Jonah Lomu.

“Ek het gedroom daarvan om ’n Springbok te word, al het ek nog nooit eens ’n rugbybal vasgehou nie.”

Tonderai Chavhanga saam met sy vrou, Megon, en hul kinders, Eva en Eli. Foto: Verskaf

Met sy natuurlike spoed het Chavhanga homself blitsig onderskei as ’n uitsonderlike rugbyspeler, en ’n sportbeurs het hom die geleentheid gebied om te matrikuleer aan die gesogte Prince Edward-skool in Harare.

“Daar was ek bevoorreg om deur die oud-Springbok Ian Robertson afgerig te kon word,” onthou hy.

“Ian het ons soos professionele spelers afgerig, en selfs, wanneer ons na Suid-Afrika getoer het, vir ‘n Bok-legende soos Ray Mordt nadergetrek om ons verder touwys te maak.

“Ons het ’n uitstekende span gehad, en ek spog altyd dat ons in 2000 vir Hoër Jongenskool Paarl geklop het by die jaarlikse St. John’s-fees.”

Ná skool is Chavhanga deur die Cheetahs opgeraap, waar hy deur Rassie Erasmus gebrei is en in 2003 sy Superrugby-debuut gemaak het.

“Kort daarna het die Stormers ’n tekort op vleuel gehad, en is ek Kaap toe ontbied as ’n leenspeler,” vertel Chavhanga.

“Hoewel ek moes meeding met Bok-sterre soos Breyton Paulse en Pieter Rossouw, het dinge so goed verloop dat die Stormers my permanent wou kontrakteer.

Nadat ek die vierde drie gedruk het, het Jake ’n boodskap gestuur dat hy wou hê ek moet die rekord breek.

“Rassie wou my behou en hy was selfs bereid om my Cheetah-kontrak uit sy eie sak te betaal. Die onderhandelinge met die Stormers was egter reeds te ver gevorderd.”

By die Stormers is Chavhanga onder hande geneem deur Carel du Plessis, “wat ’n plesier was om voor te speel, aangesien hy ons agterspelers vrye teuels gegee het”.

Skaars twee jaar ná sy Superrugby-debuut het Jake White die 21-jarige Chavhanga ingesluit in die Springbokspan wat Uruguay met 134-3 afgeransel het in Oos-Londen. Die Zimbabwiese spoedvraat het daardie dag ’n rekord-ses drieë ingeryg.

“Interessant genoeg, nadat ek die vierde drie gedruk het, het Jake ’n boodskap gestuur dat hy wou hê ek moet die rekord breek, so die ouens het my heeltyd bly voer. Dit was ’n absolute spanpoging.”

Ongelukkig is Chavhanga se loopbaan daarna erg in die wiele gery deur ’n rits beserings, en kon hy slegs ’n verdere drie keer vir die Bokke uitdraf.

Hy was teen 2011 redelik desperaat, toe ‘n geleentheid by die Newport Dragons hom weer nuwe moed laat skep het.

“Ek het ’n punt bereik waar ek my passie vir rugby verloor het weens eindelose beserings en ‘n paar ander uitdagings. Maar om in 2011 na Wallis te verhuis en vir die Newport Gwent Dragons te speel het my ‘n nuwe begin gegee en het my passie vir rugby hernu. “

Tonderai Chavhanga

Terug in Suid-Afrika het Chavhanga sy loopbaan in 2014-’15 by die Haaie afgesluit.

Chavhanga het onlangs uitgehelp as hulpafrigter van Zimbabwe se nasionale rugbyspan, maar moes vroeër vanjaar bedank weens sy werksverpligtinge.

“Zimbabwiërs soos ek, Brian Mujati en Kennedy Tsimba was in staat om die paal te haal as professionele spelers, terwyl Beast (Mtawarira) dit na ’n totaal ander vlak geneem het,” sê Chavhanga.

BLM is ’n ernstige kwessie, net soos plaasmoorde.

“Daar is egter nog heelparty Mujati’s, Tsimba’s en Mtawarira’s in Zimbabwe, en daarom wou ek graag terugploeg.

“Buitendien is dit uiters bevredigend om met jong, talentvolle spelers te werk.

“Ongelukkig is daar heelwat eksterne kwessies wat die vooruitgang van rugby in Zimbabwe kniehalter.

“Ek en ouens soos Brian, Kennedy en Beast was gelukkig om Zimbabwe te kon verlaat op soek na groener weivelde, maar die oorgrote meerderheid het nie ’n ander keuse as om agter te bly nie.

“Meeste regerings in Afrika onderdruk die bevolking, aangesien ons as Afrikane hulle nie aanspreeklik hou nie. Ons bid vir ’n beter lewe, maar dit sal nie realiseer tensy ons as stemgeregtiges daarop aandring nie.”

Chavhanga het ook ’n gebalanseerde siening oor die Black Lives Matter-beweging wat wêreldwyd opslae maak.

“BLM gaan oor gelykheid,” meen hy. “ ’n Mens kan nie wegskram van die feit dat almal dieselfde behandel en gelyke geleenthede gebied moet word nie.

“Vanuit ’n Afrika-perspektief is daar nog steeds baie ongelykheid in terme van ekonomiese insluiting; daar is miljoene wat steeds gebuk gaan onder armoede en dit bly ‘n groot uitdaging.

“Op baie maniere het die regering ons in die steek gelaat; nie genoeg is gedoen om gehalte-onderwys te bevorder en meer werk te skep nie.”

“Verder is rassisme steeds ’n realiteit, maar dis nie bloot wit teenoor swart nie; as ’n swart man behoort ek ook nooit rassisties teenoor iemand van ’n ander kleur te wees nie.

“BLM is ’n ernstige kwessie, net soos plaasmoorde. Misdaad is oor die algemeen ’n ontsaglike probleem. My vrou is as ’n tiener gekaap, en die sielkundige letsels daarvan is steeds sigbaar.

Myns insiens het spelers van kleur lank reeds bewys dat ons op die hoogste vlak kan meeding, as ons gelyke geleenthede gebied word, en behoort daar nie iets soos kwotas te wees nie.

“Ek kan egter nie verstaan hoe dieselfde persoon wat in opstand is oor misdaad, en spesifiek plaasmoorde, gekant kan wees teen iets soos BLM nie.

“Wat sport betref, kyk net hoe uitstekend het die Springbokke verlede jaar gevaar by die Wêreldbeker. En dit was die mees verteenwoordigende Bokspan nóg.

“Myns insiens het spelers van kleur lank reeds bewys dat ons op die hoogste vlak kan meeding, as ons gelyke geleenthede gebied word, en behoort daar nie iets soos kwotas te wees nie. Inteendeel, as ons nie spanne op meriete kies nie, sal ons nie ons wêreldkampioen-status kan handhaaf nie.

“Dit is ’n ingewikkelde situasie, en ek het nie al die antwoorde nie. Maar een ding is seker: Niemand wil ooit as ’n kwotaspeler gebrandmerk word nie. Ek wil beslis nie hê my seun moet grootword met die wete dat hy ’n span sal haal of ’n pos aangebied sal word bloot op grond van sy velkleur nie . . .”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.