Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saru skop vas: Top-agent ge-Kelder

Die Suid Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het vir die eerste keer in sy geskiedenis tande gewys vir spelersagente, toe hulle die afgelope week een van dié beroep se groot honde geskors het.

Eduard Kelder

Eduard Kelder – ’n spelersagent wat die sake van Springbokke soos Franco Mostert, Willie le Roux, Warren Whiteley en Kwagga Smith gehanteer het – is drie jaar geskors deur Saru se dissiplinêre komitee weens finansiële ongerymdhede.

Kelder het onder meer sy persoonlike bankbesonderhede aan spelers en kliënte gegee.

Hy het dan nie die kommissie of ander gelde wat daarna deur dié mense in sy persoonlike rekening inbetaal is, na die regte rekening oorgeplaas nie.

Kelder is verbied om vir die volgende drie jaar enige transaksies as ’n agent te beding nadat hy skuld beken het in sy dissiplinêre verhoor.

Volgens Rapport se inligting het Smith in ’n stadium sy kommissie vir Kelder se werkgewer, CMS Sport and Entertainment, in die agent se persoonlike rekening inbetaal, eerder as aan CMS, omdat Kelder vir hom die verkeerde bankbesonderhede gegee het.

Dit het vir ’n jaar gebeur sonder dat Kelder ooit die geld aan CMS oorbetaal het.

Kelder het ook sy persoonlike bankbesonderhede verskaf aan ’n maatskappy wat die voormalige Bok-kaptein Whiteley vir ’n optrede gehuur het.

Die R30 000 wat dit gekos het, is inbetaal in Kelder se rekening, eerder as in Whiteley s’n. Whiteley het die geld glo eers op die dag van Kelder se verhoor gekry.

Ook R19 000 in kommissiegeld van die heelagter Andries Coetzee het in Kelder se rekening beland, eerder as by CMS.

Boonop was daar ’n klag van wanvoorstelling teen Kelder nadat hy vir Reniel Hugo gesê het hy is vir die Barbarians gekies – blykbaar in ’n poging om hom te oortuig om ’n kontrak met CMS te sluit.

Die Barbarians het egter van geen sout of water geweet nie en Hugo nooit gekies nie.

Kelder is uiteindelik skuldig bevind aan die oortreding van vier klousules in Saru se regulasies vir spelersagente.

Dié klousules is:

Klousule 4: Die agent sal ten alle tye optree in die beste belang van elke speler wat hy verteenwoordig en sal ten alle tye eerlik, regverdig en ywerig optree.

Klousule 8: Die agent sal nie misleidende of vals inligting aan enige speler, rugbyunie of direksie voorlê ten einde ’n speler te werf nie.

Klousule 27: Die agent mag nie fondse misbruik of betrokke wees by die wanaanwending van geld, korrupsie, diewery, bedrog, omkopery of enige ander onwettige aktiwiteite nie.

Klousule 28: ’n Agent mag hom nie skuldig maak aan gedrag wat twyfel laat ontstaan oor sy geloofwaardigheid, sy integriteit of sy bevoegdheid om as vertrouenspersoon vir ’n speler op te tree nie.

Rapport verstaan dat Kelder se probleme nog nie verby is nie.

Kelder het reeds sy werk by CMS verloor ná ’n dissiplinêre proses. Stefan Weyers, een van CMS se direkteure, het hom juis by Saru gaan verkla.

Hy kan moontlik ook strafregtelik aangekla word.

Volgens die Saru-uitspraak het Kelder tot dusver R37 580 van die kommissiegeld wat Smith in sy persoonlike rekening inbetaal het, aan CMS terugbetaal. Hy het ook onderneem om binne sewe dae nog R1 066 te betaal.

Kelder het op 5 September die R30 000 wat hy Whiteley vir die voorafgemelde optrede geskuld het, aan die Leeus-kaptein betaal. Daar is ook R19 001,52 van die agent se laaste salarisstrokie by CMS afgetrek om die kommissie, wat an Coetzee verskuldig was, te verhaal.

Kelder mag eers ná sy skorsing van drie jaar weer aansoek doen om as ’n spelersagent op te tree.

Rapport het Kelder om kommentaar genader. Hy het die WhatsApp-boodskap gelees, maar nie daarop gereageer nie.

Hy het ná sy afdanking by CMS begin werk vir Esportif, ’n ander spelersagentskap. Rapport het Esportif se besturende direkteur, Hilton Houghton, gevra of Kelder ná die Saru-uitspraak nog in diens van Esportif is, maar het geen antwoord gekry nie.

Meer oor:  Kwagga Smith  |  Warren Whiteley  |  Franco Mostert  |  Willie Le Roux  |  Geskors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.