Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Top-Bokke storm saam teen Leeus
Die tyd vir kospakkies pak is vir eers verby vir die Bok-kaptein, Siya Kolisi (regs), en sy fokus moet nou daarna verskuif om die nasionale afrigter, Jacques Nienaber, op die speelveld te beïndruk. Foto: Gallo Images

Terwyl die bepalings nog nie amptelik bekend is nie, het die Stormers glo ’n loslootjie in die eerste ronde van die Suid-Afrikaanse rugbyreeks, wat op 10 Oktober afskop.

Daarmee saam is daar steeds ’n kans dat Suid-Afrika tussen November en Desember in die Rugbykampioenskap gaan speel, wat dit belangrik maak dat senior plaaslike Springbokke tussen nou en dán soveel as moontlik speel.

So hoe onfiks ook al – nadat die meeste van hulle ’n stewige porsie van die staat van inperking aan die rehabilitasie van hul beserings moes afstaan – is die verwagting dat al die Stormers se Bokke, met die uitsondering van Pieter-Steph du Toit, Saterdag op Loftus teen die Leeus in aksie gaan wees.

Buiten vir Du Toit, is dié van hulle wat verlede jaar by die Wêreldbeker-toernooi was Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi, Frans Malherbe, Siya Kolisi, Herschel Jantjies, Damian Willemse en Warrick Gelant.

Toe die inperkingstyd in Maart begin het, was Kitshoff, Mbonambi, Kolisi, Du Toit en Jantjies almal op die krukkelys en die opskorting het dalk op ’n goeie tyd vir die Kapenaars gekom. Gelant was toe nog by die Bulle.

Nou is dit van kritieke belang dat die Bokke vaart kry.

“Ons sal geleenthede aan ’n paar jong spelers gee Saterdag, maar al die ouens saamneem wat speelkans nodig het om hulle gereed te kry vir die Groen en Goud-wedstryd (die nie-amptelike Bok-proewe op 3 Oktober),” sê John Dobson, die Stormers se afrigter.

“Met die uitsondering van Pieter-Steph, kan almal speel. Hy het die afgelope week goeie vordering gemaak, so ons hoop om hom ’n bietjie gouer terug te hê as wat ons aanvanklik gedink het.”

Du Toit sal met ’n bietjie geluk deur die loop van aanstaande maand volkome van ’n ernstige beenbesering herstel het.

Die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff het baie skerp gelyk in die oefenwedstryd wat die Stormers Vrydag op Nuweland gespeel het. Foto: Gallo Images

Dobson-hulle sal graag ook dinge waaraan gewerk is – veral skopwerk en hul spel om beter veldgebied te kry – in werking wil stel. Hy het ’n groot pak voorspelers tot sy beskikking, maar dis juis belangrik dat hulle op die voorvoet is.

Intussen is Mahlatse Mashua, wat ’n kultuurkamp met die nasionale krieketspan gefasiliteer het, ook by die Stormers betrek vir die netelige gesprek oor Black Lives Matter.

“Die spelers het dit baie stimulerend gevind. Hopelik sal ons daardeur ’n hegter span word. Ons hou van ons diversiteit en vier dit,” sê Dobson.

“As ons divers wil wees, kan ons ook nie van almal verwag om dieselfde standpunt te hê nie. Mahlatse was ’n briljante fasiliteerder.”

Mashua en die sportsielkundige Ruan Botha het verlede maand ’n kamp met 32 Proteas in Skukuza in die Krugerwildtuin gehou, waar daar op ’n nuwe spankultuur en -waardes ooreengekom is.

Dis nog nie bekend of daar voor afskop op Loftus enige gebaar in die stryd teen rassisme gaan wees nie.

Meer oor:  Stormers  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.