Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Toutrekkery oor Marx kan lank aanhou

Die toutrekkery oor die rugbyloopbaan van die Springbok-haker Malcolm Marx kan ’n lang en uitgerekte affêre word.

Malcolm Marx (middel) vroeër vanjaar vir die Shining Arcs in Japan in aksie. Foto: Getty Images

Die 25-jarige Marx se kontrak met die Leeus is drie weke gelede beëindig toe hy die 21-dae-klousule gebruik het, wat van toepassing was in Suid-Afrikaanse rugby.

Ingevolge dié toegewing kon spelers of afrigters hul bestaande kontrakte opsê ten gunste van ’n beter aanbod oorsee.

Slegs enkele dae nadat die Leeus dit in ’n verklaring aangekondig het dat Marx een van ’n handvol spelers en ’n afrigter was wat hul bande met die unie verbreek het (en hom boonop vir sy bydrae tot die unie bedank en hom ook sterkte toegewens het met sy rugbyloopbaan), het hulle ’n ommekeer gemaak en vasgeskop oor sy kontrakbreuk wat hulle reken ongeldig is.

Volgens die Leeus het Marx ’n kontrak met die unie gesluit wat eers in Julie in werking sou tree en hulle glo dié kontrak is steeds bindend.

Die een aspek waaroor die Leeus en Marx se agent, BC du Plessis, dit vandeesweek wel eens was, is dat hulle niks oor hierdie saak wil bespreek nie.

Rudolf Straeuli, die Leeus se uitvoerende hoof, sê weens die neteligheid van die saak kan hy nou niks daaroor sê nie, terwyl dieselfde antwoord van Du Plessis gekry is.

Hy het wel toegegee dat dit ’n uitgerekte saak kan word voordat finaliteit bereik word.

Dit blyk dat nie een van die partye sommer bereid gaan wees om die handdoek in te gooi nie.

Marx het glo ’n kontrak met ’n Japannese klub gesluit.

Hy is nog nie vanjaar in ’n Leeus-trui gesien nie, nadat hy verlede jaar ná die Wêreldbeker-toernooi in Japan daar vir die Shining Arcs gespeel het.

Dis onseker of hy weer deur dié span ’n kontrak aangebied is.

Ander Japannese Topliga-klubs, soos die Docomo Red Hurricanes (Johan Ackermann) en Kubuto Spears (Frans Ludeke), wat deur Suid-Afrikaners afgerig word, sal oor hul voete val om ’n speler van Marx se kaliber te bekom.

Marx bevind hom egter nou tussen twee vure met die toutrekkery oor sy dienste en sy eie rugbyloopbaan word nou uitgestel. Dit sal beslis tot sy nadeel wees as dit ’n lang, uitgerekte saak word, wat in ’n regsgeding eindig.

Straeuli het juis vroeër in ’n onderhoud gesê die Leeus hoop die saak kan gou besleg word en dat dit nie uitloop op ’n regsaak nie.

Aangesien daar fyn, tegniese aspekte ter sprake kan wees, is die kans egter daar dat dit nie sommer net in ’n oogwink sal verdwyn nie.

By die Leeus is daar intussen vandeesweek ná die verslapping van die inperkingsmaatreëls mediese toetse op die spelers gedoen. Volgens ’n woordvoerder van die unie sal daar Maandag inligting beskikbaar wees oor die beseringstatus van spelers in die gekontrakteerde groep.

Meer oor:  Kontrak  |  Leeus  |  Rudolf Straeuli  |  Superrugby  |  Malcolm Marx
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.