Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Tranedal wag in Groep A in Kaapstad

Die Blitsbokke kan hulle maar vet smeer vir ’n “uitgeruste” Fidji en Amerika wanneer hulle Saterdag teen dié twee brekers in die Kaapstad-sewestoernooi te staan kom.

Chris Dry die afgelope naweek in aksie vir die Suid-Afrikaanse sewesspan by die Doebai-sewestoernooi. Foto: Getty Images

Suid-Afrika het waarskynlik die mees ongunstige loting denkbaar gekry vir die tweede toernooi van die nuwe seisoen van Wêreldrugby se sewesreeks, wat Vrydag in Kaapstad begin.

Suid-Afrika bevind hom saam met Fidji, Amerika en Japan in Groep A. Met slegs twee spanne van elke groep wat tot die uitspeelrondes deurdring, beteken dit dat een van die wêreld se voorste sewesspanne ’n tranedal in Kaapstad gaan hê.

Fidji is die Olimpiese kampioen en het verlede seisoen Wêreldrugby se sewesreeks gewen, terwyl Amerika die naaswenners was.

Asof dit nie genoeg is nie, is die Fidjiane die verdedigende kampioen in Kaapstad, terwyl die Amerikaners in 2018 die strooijonker was.

Die loting vir toernooi word bepaal deur spanne se vertoning in die voorafgaande toernooi. Terwyl die Blitsbokke die afgelope naweek in Dubai gewen het, is Amerika in die kwarteind uitgeskakel, terwyl die Fidjiane nie eens die uitspeelrondes gehaal het nie.

Die Blitsbokke gaan ’n bondgenoot in die Kaapstad-stadion hê wat na verwagting volgepak gaan wees. Foto: Gallo Images

Die voormalige Blitsbok-kaptein Philip Snyman, onder wie se leiding Suid-Afrika twee keer die wêreldtitel gewen het, sê dit gaan allermins maklik wees.

“Dit gaan taai wees, ek bedoel Fidji en Amerika het verlede seisoen in die eerste en tweede plek afgesluit.

“Maar ek dink ons kan presteer as die ouens hul beste lewer en as hulle volgens die potensiaal waaroor hulle beskik speel.

“Dit sal egter dom wees om slegs op Fidji en Amerika te fokus, want Japan (teen wie die Blitsbokke Vrydag te staan kom) kan ons ook verras,” sê die 32-jarige Snyman wat vroeër vanjaar sy uittrede aangekondig het.

Dat die Japannese nie onderskat durf word nie, sal Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, maar te goed weet.

In April in die Hongkong-toernooi moes Suid-Afrika spook om hom met 22-7 te klop, nadat hy met rustyd nog met 5-7 agter was.

Behalwe dat die Fidjiane en Amerikaners oorgehaal sal wees om te vergoed vir hul blapse in Dubai, sal hulle ook meer uitgerus wees.

Dit sal egter dom wees om slegs op Fidji en Amerika te fokus.
Philip Snyman

Die Blitsbokke het ses wedstryde in die Verenigde Arabiese Emirate gespeel, terwyl dié twee slegs vier gespeel het.

Daar sal boonop hoë verwagtinge van die Suid-Afrikaners gekoester word ná hul skittervertoning die afgelope naweek. Maar die werklikheid is dat die Blitsbokke se enigste oorwinning in Kaapstad in 2015 was.

In 2016 en 2017 het Suid-Afrika albei kere ook soos vanjaar die seisoen op ’n hoogtepunt in dié Woestynstad begin deur te wen, net om daarna in Kaapstad vas te val.

“Die atmosfeer is ongelooflik in Kaapstad. Ek dink in die verlede het ons te veel daarop gefokus dat dit voor ons tuisskare is en ons daarom moet goed moet vaar.

“Dan het ons te veel daarop gefokus, eerder as op ons eie spel,” sê Snyman.

Groepe vir Kaapstad:

Groep A: Suid-Afrika, Amerika, Fidji, Japan

Groep B: Nieu-Seeland, Argentinië, Kanada, Wallis

Groep C: Engeland, Frankryk, Spanje, Skotland

Groep D: Samoa, Australië, Ierland, Kenia

* Die Imbokodo, die Suid-Afrikaanse vrouespan, het ook ’n redelike ongunstige loting gekry.

Hy bevind hom in dieselfde groep as Nieu-Seeland, wat die afgelope naweek in Dubai koning gekraai het. Dié twee spanne is Vrydag slaags.

Groepe vir Kaapstad:

Groep A: Nieu-Seeland, Rusland, Fidji, Suid-Afrika

Groep B: Kanada, Frankryk, Spanje, Brasilië

Groep C: Amerika, Australië, Engeland, Ierland

* Daar is steeds kaartjies beskikbaar vir die eerste twee dae van die Kaapstad-toernooi. Sondag s’n is egter reeds uitverkoop.

Meer oor:  Kaapstad  |  Imbokodo  |  Philip Snyman  |  Sewesrugby  |  Neil Powell  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.