Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Transformasie: Raak SA rugby kleurblind?

Tensy hy dit raaklees, sien hy nie meer velkleur wanneer hy rugbywedstryde waarin Suid-Afrikaanse spanne speel kyk nie, sê Mark Alexander.

“Ons begin nou die vrugte pluk van die programme wat ons ingestel het. Jy kan sien dat die spelers nou besig is om natuurlik deur die stelsel te kom,” het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se president vandeesweek in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê.

Aphelele Fassi gaan waarskynlik vanjaar ’n Springbok word indien die Covid-19-pandemie hokgeslaan kan word. Foto: Gallo Images

Interessant is dat Suid-Afrika se twee voorste spanne in die Superreeks – die Haaie en Stormers – ook die mees diverse onder hulle is.

Tot op hede is die Stormers se gemiddeld van gekleurde spelers in hul 23-talle 10.7. En dít boonop met hul kaptein, Siya Kolisi, en die Springbok-haker Bongi Mbonambi, wat slegs in die eerste wedstryd gespeel het voordat hulle langtermynbeserings opgedoen het.

Die Haaie, wat tot met die opskorting van die reeks op sewe een meer wedstryd as die ander Suid-Afrikaanse spanne gespeel het, se gemiddeld in hul 23-talle is 9.7. Hul gemiddeld vir die beginspan is 7.7 en die Stormers s’n 7.5. Was Kolisi en Mbonambi fiks, sou die Stormers in meeste van hul wedstryde verlede jaar se teiken van gemiddeld 50% gekleurde spelers in 23-talle oortref het.

Die Bulle en Leeus se gemiddeld in hul 23-talle is albei 7.3, maar in beginspanne onderskeidelik 5.8 en 4.8. Om hulle van ’n gebrek aan toewyding te beskuldig sal egter ’n oorvereenvoudiging wees, want daar is nie in Gauteng só ’n sterk rugbytradisie onder gekleurde gemeenskappe as byvoorbeeld in die Wes-Kaap nie.

In ieder geval meen Alexander dat Suid-Afrikaanse rugby, tot voor die Superreeks weens Covid-19 opgeskort is, besig was om voort te bou op dít wat by verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan bereik is. ’n Swart kaptein in Siya Kolisi het die Webb Ellis-trofee dáár gelig en die span het baie meer agting onder die breër Suid-Afrikaanse bevolking gekry.

Die feit dat die Springbokke ’n swart kaptein in Siya Kolisi het, het baie angel uit die transformasie-druk op Suid-Afrikaanse rugby gehaal. Foto: Gallo Images

“As jy net gekyk het na die interaksie tussen die spelers by die WB-toernooi, was dit ongelooflik. Ons het as nasie wasdom bereik en by ’n punt gekom waar hierdie dinge vanself gebeur,” sê Alexander.

“Rassie (Erasmus, die Bok-afrigter verlede jaar) het puik werk gedoen en sy mandaat begryp. Dis belangrik dat die persoon wat jy in ’n pos aanstel ’n begrip het van die omgewing waarin hy werk.

“Ons Superrugby-afrigters is toegewyd. Daar is nou vir hulle ’n groter spelerpoel om uit te kies.”

Om te dink nommers is nie meer ter sprake nie, is egter naïef. Alexander meen Suid-Afrikaanse rugby se langtermynwelstand hang af van sy vermoë om sy poel etnies swart spelers te ontgin.

“Dit gaan oor oorlewing, want die wit en bruin gemeenskappe raak ouer. As ons nie die ander 80% ontgin nie, sal ons teen 2030 nie meer relevant wees nie. Om daardie rede moet ons aanhou om transformasie te dryf, maar dit gaan oor oorlewing eerder as syfers. En die kinders vorder deur die stelsel.”

Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, meen die strukture in Suid-Afrikaanse rugby het nou van transformasie ’n natuurlike proses gemaak. Foto: Gallo Images

Alexander sê die natuurlike proses word onderskraag deur goeie junior strukture. Met die uitsondering van die Cravenweek vir o.13-spelers, beplan Saru om voort te gaan met sy jeugweke.

“Behalwe vir die o.13’s het ons borge vir al ons jeugweke. Ons besluit om die o.13-week te skrap, want kinders van daardie ouderdom moet vir pret speel,” sê hy.

Alexander voeg wel by dat Saru se hande weens die Covid-19-pandemie afgekap is. Daar kan gevolglik nie datums vasgestel word nie.

* Saru en beheerliggame wêreldwyd het nie gras onder hul voete laat groei wat beplanning vir die pad vorentoe ná Covid-19 betref nie.

“Daar is vier taakspanne – Wêreldrugby, Superrugby, Pro14 en plaaslik. Ons kyk na verskillende scenario’s, wat almal afhanklik is van wanneer hierdie ding (Covid-19) eindig,” sê Alexander.

“Wêreldrugby se kalender moet ook in berekening gebring word. Ons doen ons bes om seker te maak dat ons na normaal kan terugkeer. Kom ons bid en vertrou net dat hierdie ding kan wyk met die minste moontlike uitwerking op ons land en sy mense.”

Transformasie
Meer oor:  Transformasie  |  Mark Alexander  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.