Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Trekvoël Bart wil Maties wéér tem
Bart le Roux vroeër vanjaar in aksie vir Tuks in die Varsitybeker-reeks. Foto: Gallo Images

Tuks se voorryman Bart le Roux kan seker met reg as een van die grootste trekvoëls van studenterugby in die land beskou word.

Wanneer dié 25-jarige boorling van Pretoria Maandag vir Tuks teen Maties in Stellenbosch die eindstryd van die Varsitybeker-reeks op die veld draf, sal dit sy derde eindstryd, vir drie verskillende universiteite, wees.

Hy was ’n lid van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) wat in 2014 teen die Ixias (26-35) in die eindstryd van die Varsityskild-reeks in Bloemfontein vasgeval het.

Twee jaar later, in 2016, was hy ’n lid van die Puk-span wat die Maties met 7-6 in die doodsnikke van die eindstryd in Stellenbosch geklop het.

“Dit voel soos déjà-vu veral omdat dit weer by Maties is. Ons het ’n bietjie wraakgedagtes, veral omdat hulle ons in die reeks met twee punte (26-24 in Pretoria) geklop het,” sê Le Roux, wat deesdae onderwys studeer nadat hy aanvanklik BCom geswot het.

Bart le Roux in 2016 as deel van die Puk-span wat die Varsitybeker verower het. Foto: Facebook/Bart le Roux

Hy is vol vertroue dat Tuks die Varsitybeker-trofee weer staanplek in Pretoria kan gee, nadat die Pretorianers ook in 2012, 2013 en 2017 die kampioen was.

“Aan die begin van die seisoen is ons veral in die media afgeskryf en geen kans gegun om te wen nie, nou is ons in die eindstryd.”

Le Roux was in 2016 in die nuus toe daar sprake was dat die Pukke hul Varsitybeker-titel kwyt kan wees, omdat hy as ’n eerstejaarstudent vir die Potchefstromers deelgeneem het. Dit omdat hy in 2014 vir die UKZN ook as eerstejaarstudent deelgeneem het.

Dié oudskolier van Framesby in Port Elizabeth wat ook al vir die Luiperds, Kings en die Italiaanse klubspan Zebre uitgedraf het, glo nie hy hoef as senior speler sy spanmaats veel te motiveer vir Maandag nie.

“Dit is ’n eindstryd, so dit spreek vanself. Ons is soos broers wat vir mekaar speel en het die geleentheid om die talente wat ons gekry het, te gebruik,” sê Le Roux.

En hoewel hy die seisoen meestal as plaasvervanger diens gedoen het, sê hy dit maak hom nie minder deel van die span as diegene in die opdrafspan nie.

“Plaasvervangers is nie meer soos in die ou dae nie, jy is ’n impakspeler. Ander ouens maak sag en jy gee die doodskoot. Elke span het ouens met nuwe energie nodig wat later in die wedstryd kan oorneem,” sê Le Roux.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Maties  |  Tuks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.