Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Trekvoël’ Davids maak GW sy tuiste
Ashlon Davids laat die bal loop in ’n Superrugby-wedstryd vir die Leeus teen die Hurricanes in 2018 in Wellington, Nieu-Seeland. Foto: Getty Images

Die laaste paar jaar het Ashlon Davids – een van die nuwe aanwinste by Griekwas se rugbyspan – gesukkel om sy voete te vind, maar hy is oortuig daarvan dat 2020 sy jaar gaan wees.

Davids (26), ’n veelsydige agterspeler, is een van die nuwelinge wat voortaan rugby vir die Poubloues gaan speel. Dié boorling van Malmesbury het die afgelope paar seisoene draaie by die Pumas, Leeus en Luiperds gemaak en ook Superrugby vir die Johannesburgers gespeel.

“Ek is baie opgewonde en sien uit na die uitdaging en sal myself graag in een posisie wil vestig. Ek sal myself graag wil uitdaag,” sê Davids.

Ek is baie opgewonde en sien uit na die uitdaging en sal myself graag in een posisie wil vestig. Ek sal myself graag wil uitdaag.
Ashlon Davids

In die verlede het hy skrumskakel, losskakel en heelagter gespeel, maar wil homself in die nr.10-trui vestig. Hy besef dit gaan moeilik wees om George Whitehead, wat die afgelope seisoen skitterend op losskakel vertoon het, uit die kussings te lig.

“Hy (Whitehead) het ’n baie goeie jaar gehad, maar dit sal goed wees as ons mekaar uitdaag. Ek wil beslis in die komende jaar myself motiveer om harder te werk, of dit nou op die verdediging of met my skopwerk is,” sê Davids.

Van die ander nuwe gesigte is twee senters, Berton Klaasen en Harlon Klaasen, wat nog verlede seisoen vir die Southern Kings in die Pro14-reeks gespeel het.

James Verity-Amm in aksie vir die Western Force teen die Haaie in ’n Superrugby-wedstryd in 2017 in Durban. Foto: Getty Images

Griekwas het ook die dienste van ’n “Aussie” James Verity-Amm (25) bekom. Dié veelsydige agterspeler is in Kroonstad gebore en het vir die Universiteit van Wes-Kaapland in die Varsityskild-reeks gespeel voordat hy sy heil by die Western Force in Australië gaan soek het.

Onder die voorspelers is Andrew Beerwinkel, wat die afgelope twee seisoene vir die Pumas gespeel het, straks die grootste aanwins. Dié voormalige Junior Bok kan ewe gemaklik op vaskop- en loskopstut sak.

Ook John-Roy Jenkinson, ’n stut wat tevore rugbydraaie in onder meer Pretoria, Potchefstroom en Bloemfontein gemaak het, gaan hom nou in Kimberley vestig.

Dan is die slot Mzwanele Zito nie ’n onbekende by Griekwas nie. Hy was tot 2017 ’n Poubloue voordat hy vir Carcassonne in Frankryk gaan speel het.

Scott Mathie, nuwe afrigter van die Griekwas, sê die aanwinste gaan die volgende paar dae aan die span se stelsels en strukture bekendgestel word.

“Ons wil verseker dat hulle tuis voel by ons.”

Die Poubloues het reeds met hul voorseisoen begin en sal tot 13 Desember oefen, waarna hulle in die nuwe jaar weer saamtrek.

Die Griekwas-groep is:

Agterspelers: Ederies Arendse, Bjorn Basson, Enver Brandt, Zak Burger, Tinus de Beer, Ashlon Davids, Earll Douwrie, Johnathan Francke, Berton Klaasen, Harlon Klaasen, Eduan Keyter, Theo Maree, Christiaan Meyer, Chriswill September, James Verity-Amm, Anthony Volmink, George Whitehead.

Voorspelers: Andrew Beerwinkel, CJ Conradie, Fred Eksteen, John-Roy Jenkinson, Niell Jordaan, Zandré Jordaan, Sias Koen, HJ Luus, Ian Groenewald, Khwezi Mkhafu, Johan Momsen, Khwezi Mona, Mox Mxoli, Nicholas Oosthuizen, Shaine Orderson, Victor Sekekete, Gideon van der Merwe, Ewald van der Westhuizen, Wendal Wehr, Mzwanele Zito.


Meer oor:  Kimberley  |  Poubloues  |  Superrugby  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.