Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Trengove se moue opgerol om VS te red
Adv. WimTrengove is in Vrystaat se hoek vir ’n moontlike regstryd.

Die Cheetahs het ’n swaargewig in regskringe, adv. Wim Trengove SC, gevra om hulle te help om hul franchise-status te beskerm.

Die land se rugbybase stem Dinsdag op ’n vergadering van SA Rugby se hoofraad oor watter vier Suid-Afrikaanse franchises in volgende jaar se vergrote Pro16-reeks speel.

Val die Cheetahs saam met die Kings uit die reeks in die Noordelike Halfrond om vir die Bulle, Leeus, Haaie en Stormers plek te maak, sal Trengove volgens Rapport se inligting die Vrystaters se regstryd met SA Rugby lei.

“Die Cheetahs se standpunt is dat hulle die kontraktuele reg het om Pro-rugby te speel,” het ’n rugbyadministrateur gesê.

Hulle probeer nietemin steeds om ’n oplossing sonder ’n moontlike regstryd te vind om hul franchise-status te behou. Hulle sal tot R30 miljoen per jaar in borgskappe en TV-regte verloor as hulle hul status kwyt is en nie in ’n internasionale kompetisie speel nie.

Volgens hom sal die Cheetahs nie tevrede wees om volgende jaar in ’n moontlike Super-agt-toernooi in Australië of Nieu-Seeland te speel en hul plek in die Pro16 te verloor nie.

Die twee voorste Suid-Afrikaanse spanne ná die voltooiing van ’n SA Beker-toernooi, wat vroeg volgende jaar aangebied word, sal vir die beplande Super-agt kwalifiseer. Die Super-agt sal net oor ’n tydperk van ’n maand gespeel word.

Die land se rugbybase verwag dat Dinsdag se stemmery baie gelykop sal verloop. Van hulle het die week die telefoonlyne warm gebel om stemme te werf aangesien ’n meerderheid van 75% verlang word om SA Rugby se nuwe internasionale kompetisie-strukture van vier plaaslike franchises in ’n Pro16-reeks te bekragtig.

Veral die land se klein unies sal ’n yslike invloed hê op die stemmery oor wie die vier franchises moet wees. Hulle kan SA Rugby se planne dwarsboom as hulle nie hul sin met jaarlikse toelae kry nie.

Die Griffons, Valke, Luiperds, Boland en SWD-Arende het reeds ’n skrywe aan SA Rugby gerig waarin hulle elkeen ’n jaarlikse bedrag van nagenoeg R15 miljoen in TV-regte en borge van die beheerliggaam versoek.

Tydens die hoofraad se vorige vergadering het SA Rugby voorgestel dat die klein unies slegs R10 miljoen elk per jaar ontvang.

Verbeter SA Rugby nie daarop nie, beskik die klein unies oor die mag om die spreekwoordelike appelkar op die vergadering om te gooi. Hulle stemme tel Dinsdag net soveel soos die groot unies s’n.

Dit word verwag dat SA Rugby hul voorgestelde toelaag tot minstens R12,4 miljoen elk per jaar sal opskuif in die hoop dat die klein unies ten gunste van hul voorstelle stem.

Verskeie van die rugbybase met wie Rapport die week gepraat het en in die hoofraad dien, het egter gesê hulle is ten gunste van ’n voorstel van SA Rugby dat die Bulle, Leeus, Haaie en Stormers volgende jaar in die Pro16 speel.

“Om eerlik te wees, nie SuperSport of die Pro14 dring daarop aan dat die Cheetahs in die Pro16 moet speel nie,” het ’n rugbybeampte gesê.

“Die Cheetahs moet eerder na oplossings soek soos om in die toekoms gereeld teen die huidige Superspanne te speel en moontlik teen Nieu-Seelandse spanne.”

Nog ’n rugbybaas het aan Rapport gesê volgens die kriteria wat tydens die hoofraad se vorige vergadering einde Augustus bekend gemaak is, is dit duidelik dat die Superspanne in die Pro16 moet speel.

“Voorstelle dat promosie-en-relegasiestryde jaarliks gespeel word om te bepaal wie die vierde Suid-Afrikaanse span is wat in die Pro16 speel, moenie eens as ’n opsie oorweeg word nie,” het dié rugbybaas gesê.

“Hoe kan jy vir jou borge en losiehouers sê dat jy net vir ’n jaar van deelname in die Pro16 verseker is? Dit sal nooit werk nie. Ek is seker SA Rugby sal iewers ’n plan met die Cheetahs maak.”

Die stemmery oor wie die vier plaaslike Pro16-franchises is en ’n nuwe befondsingmodel vir die volgende vyf jaar is twee van die belangrikste punte op Dinsdag se vergadering.

Harold Verster Foto: Getty Images

Harold Verster, besturende direkteur van die Cheetahs, het intussen gesê hy kan hom nie Suid-Afrikaanse rugby indink sonder een van die Cheetahs, Bulle, Leeus, Haaie en Stormers nie.

“Na my mening is dit nie ’n oplossing om een van die vyf uit te skop nie,” het Verster gesê.

Die Cheetahs se standpunt is egter volgens Verster eenvoudig: SA Rugby moet bepaal watter drie franchises saam met die Vrystaters aan die Pro16 deelneem.

“Die Cheetahs het destyds uit eie inisiatief met Celtic Rugby begin onderhandel om aan die Pro-reeks deel te neem.

“Dit maak nie sin dat die baanbrekers moet veg vir insluiting en oorlewing nie.”

“Afhangende uit watter hoek ‘n mens dit beskou, is die Toyota Cheetahs soms tweede, soms derde en soms vierde. Die punt is dat ons in elke kategorie of maatstaf altyd onder die top vier is.

“My standpunt en benadering was nog altyd dat ons probleme moet omdraai in uitdagings en dit moet aanpak as ‘n groep. Ek dink daar is ander moontlikhede en oplossings.

“Ek dink die vyf franchises moet om ‘n tafel gaan sit en ‘n oplossing probeer vind wat al vyf se toekoms sal verseker.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.