Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Treu lig sluier oor destydse drama by WP

’n Sessie met ’n bemiddelaar, nie ’n interne drama wat oor meer as ’n jaar gestrek het nie, was wat Paul Treu destyds by die Westelike Provinsie Rugbyunie gesoek het om sy griewe te hanteer.

Paul Treu sê die WP Rugbyunie kon die probleme tussen hom en ander afrigters by die Stormers in 2018 beter hanteer het. Foto: Gallo Images

Die sweer van ’n swak verhouding tussen Treu, wat een van die Stormers se hulpafrigters was, met Robbie Fleck, toe die hoofafrigter, en Paul Feeney, een van die ander hulpafrigters, het in 2018 oopgebars voor ’n hersiening van ’n teleurstellende Superrugby-veldtog.

Treu het later in 'n verslag die sluier gelig oor voorvalle wat hy as diskriminerend teenoor hom ervaar het. Hy sê nou hy het dit teen sy wil gedoen.

“Al wat ek wou gehad het, is dat ons ’n bemiddelaar moet kry om die proses te fasiliteer, maar dit moes nie Thelo Wakefield (toe die WP Rugbyunie se president) wees nie. Hy was te naby aan die probleem,” sê Treu.

“Dit is hy (Wakefield) wat wou hê dat ek dinge op skrif moes sit en as dit nie daarvoor was nie, was ons nie waar ons vandag is nie.

“Die proses wat ek wou gevolg het, is as volg: Ek gesels met Thelo en Paul Zacks (toe die WPRU se uitvoerende hoof) en hulle gesels dan met die ander afrigters. Wanneer ons mekaar se probleme verstaan, kan ons almal om ’n tafel sit vir iemand om ’n gesprek oor ons verskille te bemiddel.”

Treu sê hy het niemand van rassisme beskuldig nie en sy probleem was eerder met die interne beleid en prosedures.

“Een voorbeeld is dat ek in my drie jaar by die Stormers nie een keer deur ’n uitsaaier gevra is vir ’n onderhoud voor, gedurende of ná ’n wedstryd nie. Jou media-bestuurder moet meriete-beoordelings hê waarvolgens hy seker maak dat daar ordentlike prosesse is waar gelyke geleenthede vir afrigters geskep word om blootstelling te kry,” sê hy.

Dit lyk dan soos ’n rassekwessie, maar dis die gebrek aan ’n beleid wat diskrimineer, nie ’n persoon nie.
Paul Treu

“My standpunt was dat dit die WPRU se gebrek aan ’n beleid was wat sulke dinge veroorsaak. Dit lyk dan soos ’n rassekwessie, maar dis die gebrek aan ’n beleid wat diskrimineer, nie ’n persoon nie. Die verslag het met baie voorstelle vorendag gekom oor hoe om daardie dinge reg te stel. Ek dink die WP is nou besig om daardie proses aan te pak.”

Treu, wat vandeesweek as die Universiteit van Wes-Kaapland se hoofafrigter aangestel is, sê dit skep ook baie probleme wanneer ’n hoofafrigter, soos die geval was toe Fleck die Stormers gebrei het, nie sy eie bestuurspan kan aanstel nie.

“Toe Paul Zacks op ’n feitesending Argentinië toe gekom het (toe die Stormers daar teen die Jaguares gespeel het), het ek vir hom gesê dat Robbie Fleck toegelaat moet word om sy eie bestuurspan te kies, omdat hy met mense moet werk wat hy vertrou.

Paul Feeney

“Hy (Fleck) het my geërf, Russell Winter het bygekom en Paul Feeney is aangestel, waarin hy waarskynlik geken was. Ek het gesê ek is meer as bereid om terug te staan en by ’n ander span betrokke te wees en iets anders te doen eerder as wat jy ’n hoofafrigter het wat nie sy eie bestuurspan kan kies nie.

“Tweedens het ek gesê dat Russell Winter een van die beste afrigters is met wie ek gewerk het, en dat hy selfs beter kan wees as hy ruimte gegun word.

“Laastens het ek gesê dat ek nie gepla is met Paul Feeney nie. Ek het dit geniet om saam met hom te werk, want hy het my uitgedaag met sy manier van dinge doen en hoe hy oor die spel dink. Ek kan hom nie op sy persoonlikheid beoordeel nie. So ek het positiewe dinge oor elke persoon binne die struktuur gesê.

“Dis nie dat ek agteraf was en gesê het dat ek nie met die of daai persoon kan saamwerk nie, so ek is jammer dat dinge so uitgewerk het.”

Meer oor:  Robbie Fleck  |  Paul Treu  |  John Dobson  |  Kaapstad  |  Afrigter  |  Rugby  |  Wpru  |  Uwk  |  Politiek  |  Diskriminasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.