Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Treu loof ramkatflank Tinotenda

Tinotenda Mavesere, stormramflank van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), sal in “enige span instap”.

Dit is die mening van Paul Treu, afrigter van UWK, wat homself tevrede verklaar het met die span se vertonings in drie Varsitybeker-rugbywedstryde teen die Shimlas, Maties en Madibaz.

Tinotenda Mavesere in 2020 in aksie teen die Ikeys. Foto: Gallo Images

UWK het byna vir ’n opskudding teen die Shimlas gesorg, maar moes met ’n gelykopuitslag van 28-28 tevrede wees, het daarna met 21-43 teen die Maties verloor, en het toe Sondag die Madibaz met 47-40 verslaan.

In die proses het ’n paar talentvolle spelers hul hande opgesteek.

Vir Mavesere, wat ’n driekuns aan drieë teen die Madibaz aangeteken het, het Treu die hoogste lof gehad.

“Behalwe vir die feit dat hy balle kan steel bring hy vaart na die pak toe wat jy nie maklik in losvoorspelers gaan kry nie,” sê Treu.

“Sy vaart en vrag is sy grootste bates. Hy’s ’n ongelooflike harde werker en hy hou tot die 80ste minuut vol met die intensiteit waarmee hy die wedstryd begin het. Hy speel met absolute oorgawe.”

Tinotenda Mavesere spog Sondag met sy prys as Speler van die Wedstryd ná sy driekuns aan drieë vir UWK teen die Madibaz. Foto: Varsity Cup

Ander spelers wat vir Treu uitgestaan het, is Gilroy Lee Philander (heelagter), Mikyle Vraagom (losskakel), Tasriq Mynhardt (vleuel), Jacques van Zyl (haker), Branden de Kock (skrumskakel), Justin Theys (vaskopstut) en Mauritz Swart (haker-flank).

“Gilroy het baie potensiaal. As hy vir ’n provinsiale span of franchise wil speel, sal hy wel moet wys dat hy ook takties kan skop,” sê Treu.

“Mikyle is net in sy eerste jaar van Varsitybeker en op universiteit. Dit was verblydend om te sien dat hy met die laaste doelskop teen die Madibaz die selfvertroue gehad het om pale toe te skop, en hy het die voor- en agterspelers goed op die veld bestuur.

“Tasriq het nie die lyf van ’n speler wat jy sal verwag om op franchise-vlak kan speel nie, maar is baie goed in die lug. Hy het ’n ongelooflike groot hart en is ’n slim speler.

“Jacques se harde werk in die vaste los is ongelooflik. Brandon skop baie goed. Hy kan met sy linker- of regtervoet skop. Dis veral ’n bate om ’n skrumskakel te hê wat links kan skop as jy spelers op losskakel en heelagter het wat van hul regtervoet af skop.

“Justin het ook na die partytjie toe gekom met sy kraglopies en skrumwerk.

“Mauritz is maar nog jonk. Hy sal wanneer hy haker speel iets spesiaal na die partytjie toe kan bring, maar moet nog leer.”

Treu meen sy span het origens goed gevaar.

“As iemand my voor die bioborrel gesê het dat ons agt punte gaan insamel, sou ek dit gevat het. Ons kon netsowel die eerste wedstryd teen Shimlas gewen het, maar ek is tevrede met die uitkoms,” sê hy.

“Ons lê sesde, maar ek dink die taaier wedstryde begin nou. Ons speel volgende teen Pukke, Tuks en UJ. Als sal afhang van hoe ons planne kan beraam om seker te maak dat ons in die wedloop kan bly.”

Die span se groei en aanpasbaarheid oor die eerste drie wedstryde was vir Treu ’n riem onder die hart.

“Dis verblydend om te sien dat ons drieë van rolmaalbewegings kan aanteken, takties kan skop en van teenaanvalle af kan toeslaan. Ons kan die wedstryd dus oop maak of ’n bietjie struktuur gee deur ons voorspelers.

“Maar daar’s steeds baie om aan te werk.”

Meer oor:  Uwk  |  Varsitybeker  |  Varsitybeker-Reeks  |  Paul Treu  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.