Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Treu ‘politieke speelbal’ in WP-magstryd

’n Magstryd tussen amateur-administrateurs van die Westelike Provinsie en sy sakevleuel, nie Paul Treu nie, is die wortel van die onmin wat hom tans in die Kaapse rugbyunie afspeel.

Paul Treu. Foto: Gallo Images

Treu het wel ’n speelbal in die groter bakleiery geword omdat die verdeeldheid oor sy toekomstige rol in die unie diep lê. Die sakevleuel se direksie wil glo hê dat sy paaie met die van die WP skei, terwyl die meerderheid van die lede van die uitvoerende raad meen daar vir hom vorentoe ’n rol behoort te wees.

’n Gevolg van sy vertrouensbreuk met die Stormers se hoofafrigter, Robbie Fleck, en die Nieu-Seelandse hulpafrigter, Paul Feeney, is dat elke lid van die Kaapse Superrugby-span se afrigtingspan soos sake tans staan wit sal wees. Treu en Feeney se rolle as hulpafrigters verlede jaar het oorvleuel.

Die rasse-samestelling is ’n bron van verleentheid vir die uitvoerende raad, met die gevolg dat die spanbestuur twee weke voor afskop in vanjaar se Superreeks nog nie bevestig is nie.

Van die lede van die uitvoerende raad meen die mag lê by hulle om afrigters aan te stel. Die direksie, wat afgevaardigdes van borge insluit, beskou dit egter as ’n flagrante breuk van gesonde korporatiewe bestuur.

Die sprake van Gert Smal se afdanking as direkteur van rugby en Peter de Villiers as ’n moontlike afrigter van die Stormers aanstaande jaar, is egter eers nie op die uitvoerende raad se agenda nie.

“Daar is nie ’n besluit geneem vir Paul Treu om vir Gert Smal te vervang of oor Peter de Villiers nie,” het die WPRU se president, Zelt Marais, Vrydag in ’n SMS aan Die Burger gesê.

Smal se kontrak loop wel later vanjaar uit en daar was sprake dat Treu vanjaar as ’n hoë-prestasie bestuurder onder hom sou werk. Daardie rol vir Treu is glo selfs deur die direksie goedgekeur, maar die gevaar dat hy Smal se terrein kon betree het dit later laat sneuwel.

Spelers was nietemin diep onrustig oor gerugte van Treu en De Villiers se moontlike aanstellings. Hulle het Maandag met senior bestuurslede van die unie vergader. Die kwessie dreig om oor te spoel na spelers se besluite oor waar hulle vorentoe gaan speel.

Zelt Marais. Foto: Gallo Images

Met etlike Springbokke en ander gevestigde senior spelers wat vir klubs in die Noordelike Halfrond geteken het, is daar glo tans net ’n klein groep onder kontrak vir aanstaande jaar.

Dit gis ook dat die sakevleuel moontlik ontbind kan word, wat die mag in die unie ten volle by die uitvoerende raad sal plaas.

Die nuwe uitvoerende raad, wat in November verlede jaar verkies is, kies eersdaags sy verteenwoordigers vir die sakevleuel se direksie. Dit kan straks insiggewend wees vir die pad vorentoe.

Nóg die uitvoerende raad se adjunkpresident, Moneeb Levy, nóg die vise-president, Spencer King, was deel van Marais se kandidatelys vir die verkiesing.

King is onbestrede verkies nadat sy teenstander, Ronald Bantom, die Vrydag voor die verkiesing vir ’n beweerde oortreding van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se gedragskode voorlopig deur die WP geskors is.

Bantom het hard baklei om Marais bo Peter Jooste verkies te kry en word as die sogenaamde “koningmaker” beskou.

Die meerderheid van die lede van die uitvoerende raad staan bankvas agter Marais, wat hom in staat sal stel om sy wil af te dwing in terme van die koers wat die WP inslaan.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Zelt Marais  |  Paul Treu  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.