Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Treu: Tietjens het Blitsbokke ‘vlerke gegee’
Die destydse Blitsbok-kaptein Philip Snyman (middel) saam met sy spanmaats toe hulle in 2017 die tweede keer daarin kon slaag om Wêreldrugby se sewesreeks te wen. Foto: Getty Images

Dit was die strewe om die legendariese Nieu-Seelandse sewesafrigter Gordon Tietjens en sy span op die rugbyveld uit te oorlê, wat tot die Blitsbokke se sukses in onlangse jare aanleiding gegee het.

Dít is die mening van Paul Treu, voormalige afrigter van die Suid-Afrikaanse sewesspan, nadat Tietjens die week aangekondig het dat hy weens die Covid-19-pandemie nie sy kontrak met Samoa gaan verleng nie.

Gordon Tietjens het die doelpale as’t ware in sewesrugby verskuif. Foto: Getty Images

Tietjens (64) het die Kiwi’s se sewesspan van 1994 tot 2016 gebrei, waarna hy Samoa se afrigter geword het.

Van sy vernaamste prestasies sluit in 12 algehele Wêreldreeks-seges, wat hom verreweg die suksesvolste sewesafrigter tot op hede maak.

Dié reeks is in die 1999/’00-seisoen begin en die Blitsbokke kon eers in 2002, met Chester Williams as afrigter en Treu wat deel van die span was, die eerste keer daarin slaag om Nieu-Seeland in die reeks te klop. Dié oorwinning was boonop in die Nieu-Seelanders se agterplaas in Wellington, met Suid-Afrika wat voortgegaan het om sy eerste toernooi-oorwinning in die reeks te behaal.

“Meer as ’n dekade lank het Gordon Tietjens die maatstaf in sewesrugby gestel. Hy het ’n hoë premie op fiksheid geplaas,” sê Treu.

“As jy teen Nieu-Seeland gespeel het, was dit asof hulle jou in die tonnel, nog voordat jy op die veld gehardloop het, reeds sielkundig ore aangesit het. Dit is eintlik waar dit vir die Blitsbokke begin het. Dit was daardie begeerte om Nieu-Seeland te klop en hy (Tietjens) was in die pad daarvan.”

Volgens Treu het Williams (wat die Blitsbokke van 2001 tot 2003 afgerig het) dinge na ’n volgende vlak geneem.

Paul Treu by die Suid-Afrikaanse sewestoernooi in 2012 in Port Elizabeth. Foto: Gallo Images

“Daardie eerste oorwinning in ’n toernooi – boonop in Nieu-Seeland – het as boustene vir die Blitsbokke gedien.”

Treu, wat die Blitsbokke tussen 1999 en 2002 op die veld verteenwoordig en ook by geleentheid aangevoer het, het later as afrigter (tussen 2004 en 2013) ook met Tietjens swaarde gekruis. In hierdie tyd het die Blitsbokke die eerste keer die Wêreldreeks (2009) gewen en hulle as een van die voorste sewesspanne ter wêreld gevestig en ook die Kiwi’s op ’n gereelde grondslag begin klop.

“Die ding van Tietjens was dat sy spelers sielkundig sterk was en dat hy hulle laat glo het dat hulle onoorwinlik is. Dit het harde werk gekos om teen hulle te speel en ons het geweet dat ons op ons allerbeste moes wees as ons wou wen,” sê Treu.

“Ek dink Tietjens was voor sy tyd, want hy het stelsels en die wetenskap agter dinge soos spesifieke diëte wat spelers moet volg, ontwikkel. Juis daarom het hy die grense verskuif van wat moontlik is, asook sy vermoë om die regte mense te identifiseer.”

Van die grootste geeste van Nieu-Seelandse rugby, wat veral in die 15-man-spel naam gemaak het, soos Jonah Lomu, Rieko Ioane en Ben Smith, het almal ook vroeër in hul loopbaan sewesrugby onder Tietjens se afrigting vir die Kiwi’s gespeel.

Gordon Tietjens (middel) hou kajuitraad met sy spelers in 2016 toe hy nog Nieu-Seeland se afrigter was. Foto: Getty Images

“Hy het in sy tyd baie goeie ondersteuning van die Nieu-Seelandse Rugbyunie en die afrigters van die land se Superrugby-spanne gekry, wat van hul beste spelers tot sy beskikking gestel het,” sê hy.

“Hy is ’n ongelooflik mededingende mens, of hy nou tennis speel of rugby afrig en hy het dit na sy spelers toe oorgedra. Om hóm te klop, moes jy jouself met kennis bemagtig.”

Meer oor:  Chester Williams  |  Paul Treu  |  Blitsbokke  |  Gordon Tietjens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.