Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Treu ‘voel soos ’n verstoteling by Stormers’

Paul Treu se gevoel van isolasie en uitsluiting is een van die vername redes waarom hy die afgelope week van die Stormers-skip afgespring het.

Die buitestander. Paul Treu, assistentafrigter van die Stormers, tydens ’n oefening van dié Kaapse streekspan. Foto: gallo

Dié voormalige afrigter van die Blitsbokke en een van die Stormers se hulpafrigters, het ’n bom in Suid-Afrikaanse rugby laat bars toe hy uit ’n hersieningsvergadering met sy werkgewer gestorm het.

Ingeligtes na aan Treu sê hy het uitgesluit en geïsoleerd gevoel in ’n omgewing waar verskonings glo gereeld vir gebreke voorgehou is eerder as om gebreke met die oog op verbetering reg te stel.

Midde-in dié aantyging staan die Stormers se hoofafrigter, Robbie Fleck.

Rapport verneem betroubaar dat Treu al geruime tyd gefrustreerd was omdat sy insette glo meestal op dowe ore geval het.

Die rugbybase van die WP skarrel nou om vure dood te slaan, met Gert Smal, WP se direkteur van rugby, wat gister aan Rapport gesê het hulle “bestuur die storie”.

Een ingeligte met wie Rapport gepraat het, sê Treu kom uit ’n omgewing van hoë prestasie. “Hy is daarop ingestel om dinge heeltyd te bly verbeter. Maar al wat jy van Fleck sien, is verskonings.”

Fleck wou nie kommentaar
lewer nie en het alle navrae na Smal verwys.

Paul Feeney
Robbie Fleck

Na verneem word, voel Treu dat sy mening dikwels nie by die res van die afrigtingspan getel het nie.

Volgens ’n ingeligte was Treu tydens die Stormers se besoek aan Hongkong vir hul wedstryd teen die Sunwolves erg omgekrap oor hoe sy insette geïgnoreer is. Die Stormers het onverwags in die stryd slae gekry.

Treu, wat vroeër in beheer was van die Springbok-sewesspan asook dié van Kenia, het langer as tien jaar in Hongkong en Singapoer afgerig met die twee blitsspanne wat jaarliks in die Ooste in toernooie gespeel het.

Hy het dus oor goeie kennis van die oefenvelde, omstandighede en humiditeit beskik.

Daarbenewens het die Stormers in Hongkong op ’n veld met ’n kunsmatige oppervlak geoefen en ná tien minute het sommige spelers oor blase onder hul voete gekla. Ná 20 minute in die hoë humiditeit het die span ook nie meer water gehad nie. Al dié probleme kon met beter beplanning vermy gewees het, maar Treu se raad is glo geïgnoreer. Die Stormers het die stryd verloor met verskeie spelers wat hitte-uitputting opgedoen en siek van Hongkong af teruggekeer het.

Terwyl Treu aanvanklik die verdedigingsportefeulje in sy eerste twee jaar saam met Fleck gehanteer het, het dinge taamlik goed verloop. Maar met die aanstelling van die Nieu-Seelander Paul Feeney, en Fleck se veranderinge aan die afrigtingsportefeuljes, het dinge glo drasties verander. Feeney en Treu het albei sterk persoonlikhede en dit is straks die grootste rede waarom hulle koppe gestamp het. Daar word gesê die twee was so onlangs as toe die Haaie Nuweland twee weke gelede besoek het in ’n onderonsie betrokke.

Treu was vanjaar die “hulpafrigter vir gestruktureerde spel”. Sy pligte sluit in om die span tot die derde fase op die aanval af te rig en op verdediging van die eerste fase tot ná vaste fasette. Feeney het die ongestruktureerde verdediging onder sy vlerk gehad, terwyl hy ook verantwoordelik was vir aanvalle van gebroke spel af. Maar telkens in die afgelope seisoen, die Stormers se swakste in etlike jare, het die twee se pligte oorvleuel.

Treu is glo ook die enigste afrigter in die bestuurspan wat by die o.21’s betrokke is. Verlede jaar is hy gevra om die verdediging vir die suksesvolle Curriebeker-span te hanteer en vanjaar help hy weer by die o.21’s uit. Daar word nie van Feeney en Fleck vereis om by ander spanne betrokke te raak nie.

Treu het blykbaar ook sy misnoeë met die voorseisoense oefenplan van die Stormers uitgespreek, maar is glo geïgnoreer.

Hy het Fleck blykbaar gemaan dat die werklading te hoog is en dat dit probleme sou veroorsaak.

Die Stormers het ’n klomp voorseisoense beserings opgedoen – iets wat hulle vroeg al op die agtervoet geplaas het.

Daar is ook vrae oor hoekom Treu al bestuurslid is wat vir sy eie persoonlike ontwikkeling as ’n afrigter moes betaal, terwyl Fleck en ander bestuurslede al oorsee gereis het op die Stormers se begroting. Treu het na verneem word vroeër vanjaar op eie koste tyd by Eddie Jones, Engelse afrigter, deurgebring.

Die Stormers vergader Woensdag met Fleck, Treu en die bestuurspan.

Meer oor:  Stormers  |  Paul Treu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.