Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Treviso-ramp ‘wekroep vir SA rugby’

Daar was 15 maande laas oorsese teenstand en die vraag is nou, ná die Bulle se rampspoedige misoes in Treviso, of daar dalk in dié tydperk ’n oordrewe wanopvatting van die krag in Suid-Afrikaanse rugby posgevat het.

Jake White, afrigter van die Bulle, is ná sy span Saterdagaand met 35-8 deur Benetton in die Reënboogbeker-eindstryd verneder is, gevra of dié verrassende nederlaag tot ’n mate vergelyk kan word met die Springbokke se hertoetrede tot toetsrugby in 1992.

Spelers van die Bulle stap moedeloos kleedkamer toe nadat Benetton hulle met 35-8 in die Reënboogbeker-eindstryd slae gegee het. Foto: Getty Images

Die Bokke het hul terugkeer ná die isolasiejare daardie seisoen met tuistoetse teen die All Blacks en die Wallabies gevier.

Suid-Afrika het met 24-27 teen Nieu-Seeland verloor, maar dit was in die nederlaag van 3-26 op ’n nat Nuweland teen die Aussies, dat die Bokke se stagnasie duidelik was.

Dit is nie jou reg om op enige plek op te daag en te verwag jy gaan wen nie.
Jake White

Het die impak wat die Covid-19-pandemie op Suid-Afrikaanse rugby gehad het, Saterdag in ’n Italiaanse klubspan se algehele oorheersing oor die Bulle gemanifesteer?

“Ek dink nie dit is onverwags nie. Om eerlik te wees, ek het oorsee afgerig en weet dit is ’n heel ander uitdaging hier in die noorde.

“Dit is nie jou reg om op enige plek op te daag en te verwag jy gaan wen nie.

“Dit is wat ervaring doen en hoewel hulle spelers nie huishoudelike name in ons rugby is nie, is dit spelers wat toetsrugby speel, teen Engeland op Twickenham en teen Frankryk in Frankryk.

“Dit was arrogant van Suid-Afrikaanse rugby om te dink jy daag net op in Italië om die beker te wen,” sê White.

Hy het hulde gebring aan Benetton, ’n span wat verlede seisoen in die Pro14-reeks (2020-’21) nie een van sy 16 wedstryde kon wen nie.

Irné Herbst, voormalige Bulle-slot van Benetton, en ’n spanmaat sak op Ivan van Zyl, skrumskakel van die Bulle, toe in Saterdag se eindstryd om die Reënboogbeker in Treviso. Foto: Getty Images

White het ’n waarskuwing aan die ander Suid-Afrikaanse spanne gerig wat van September in die nuwe Verenigde Rugbykampioenskap sal meeding.

“Hulle is goed afgerig en baie van hulle spelers het die laaste paar maande vir Italië gespeel.

“Hierdie is ’n heel ander uitdaging. Ons het teen mekaar gespeel (in Suid-Afrikaanse derbies) en om nou hier in die onbekende so te verloor, is ’n waarskuwing.

“Ek is ’n realis. Baie van die jong spelers in ons span het vir ’n eerste keer onder sulke druk gespeel. Ek geniet dit nie en hulle ook nie, maar dit is hoe jy leer.

“Ek het vooraf vir die spelers gesê as dit Leinster of die Crusaders was wat sonder hulle voorste spelers teen Benetton kom speel het, sal hulle steeds goed genoeg wees om te wen.

“Dit is deel van my werk as direkteur van rugby om nie net een groep spelers te hê nie. Ons diepte is nog nie voldoende nie.”

White sê “dit is niemand se skuld nie”, maar die onus is nou op almal in die groep om reg te wees om aan te beweeg wanneer hulle by die huis kom.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, sê die besoekers was dalk naïef.

“Hulle was drie weke af en ons het verlede Saterdag in Durban teen die Haaie gespeel, wat vir ons ’n eindstryd was.

“Die reis na Italië het sy tol geëis en ons ouens se fut was uit. Ons het ook gesukkel om by die skeidsregter aan te pas.”

Hoogtepunte van die wedstryd: 

Meer oor:  Jake White  |  Willem Strauss  |  Benetton  |  Bulle  |  Rugby  |  Treviso
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.