Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Trevor se toetsplek hang af of knie reg is

Die Springbokke het Trevor Nya­kane se naam net in potlood vir die toets teen die All Blacks neergeskryf.

Hy moet eers sy fiksheid op die oefenveld bewys ná ’n kniebesering alvorens sy naam in pen as deel van die 23-tal vir Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd teen Nieu-Seeland in Jokohama geskryf word.

Trevor Nyakane

“Sy knie lyk reg, maar ons wil hom net eers self sien hardloop,” het Rassie Erasmus, afrigter van die Bokke, gesê.

Twyfel oor Nyakane se besering bestaan omdat hy net ná die toets teen Japan huis toe gevlieg het en die Bok-kamp hom eers van gister kon behandel. Die Bok-stut het met spesiale verlof sy vrou bygestaan met die geboorte van hul eersteling, ’n dogtertjie.

Nyakane het Donderdag uit Johannesburg teruggevlieg en het Vrydagaand, ná ’n vlug van sowat 23 uur via Hongkong, op Tokio se Narita-lughawe aangekom.

As Nyakane fiks verklaar word, sal Erasmus nie aan die 23-tal verander wat Japan voorverlede Vrydag met 41-7 geklop het nie. Hy kan wel posisionele skuiwe in sy 23-tal oorweeg.

Nyakane het teen Japan in Koemagaja 14 minute as Frans Malherbe se plaasvervanger gespeel voordat hy die veld weens ’n kniebesering verlaat het. Malherbe moes toe terugkeer om die wedstryd te voltooi.

Nyakane, Malherbe en Vincent Koch is die vaskoppe in die Bokke se Wêreldbekergroep.

Koch sal betrek word as Nyakane se knie wel langer ruskans benodig.

Die Bokke sal egter hoop dat Nyakane se kniebesering iets van die verlede is omdat hy vanjaar deurentyd goeie vorm toon.

Sy skitterspel word onder meer toegeskryf aan die feit dat hy een van enkele Suid-Afrikaanse spelers is wat vanjaar nog in al sy span se Superrugby-wedstryde gespeel het.

Nyakane het met sy aankoms sonder ongerief geloop.

Erasmus is intussen tevrede met sy span se voorbereiding vir die kragmeting met die All Blacks.

“ ’n Mens sou dalk wou hê die span moet langer saamgespeel het en dat daar minder proefnemings oor die laaste ses of sewe toetse was.

“Ongelukkig is dit die situasie waarin ons was. Omdat ons sedert verlede jaar net 18 toetse gehad het, moes ons noodgedwonge proefnemings maak.

“Maar ek reken alles wat in ons voorbereiding in ons beheer was, het ons gedoen.

“Ons het deeglik beplan en sal goed voorberei wees vir Saterdag se openingswedstryd teen Nieu-Seeland en vir die wedstryde wat daarna volg.

“Ons het bestendigheid gekry met die span wat in die wegtoets in Wellington teen die All Blacks, en nou hier teen Japan gespeel het. Niks is aan toeval oorgelaat nie, maar in Wêreldbekerrugby kan die spring van die bal of ’n besluit van die skeidsregter die verskil tussen ’n oorwinning en rampspoed wees.”

Meer oor:  Springbokke  |  All Blacks  |  Nieu-Seeland  |  Jokohama  |  Fiksheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.