Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Trokkie se oeps ‘iets wat bestes kan oorkom’
Die oomblik: Juarno Augustus, agsteman van die Stormers, duik oor die doellyn terwyl hy die bal verloor voor hy kon druk. Foto: Gallo Images

Toe die Stormers se Trokkie Vrydagaand sy “vrag” oor die doellyn verloor deur die bal aan te slaan pleks van te druk, en ’n moontlike sege oor die Bulle daarmee in sy peetjie was, het Kaapse ondersteuners dalk onwillekeurig terugflitse gekry van Robbie Fleck se oepsie-oomblik in die Stormers-trui.

Fleck het destyds in ’n Super12-wedstryd gedink sy drie is blote formaliteit toe die Haaie se Deon Kayser soos ’n spook agter hom verskyn en die bal uit sy hand duik.

Vir Juarno “Trokkie” Augustus, die Stormers se agtsteman, was die aanslaan, wat sy span van ’n drie beroof het, een van die min swak oomblikke wat hy Vrydagaand op Loftus beleef het. Maar dit was terselfdertyd ook ’n oomblik waaroor hy nog baie nagte gaan rondrol.

Dié woelwater-agsteman was stewig agter die skrums, het die bal goed opgedra in kontak en sy verdediging was ook puik. Was dit nie vir daai “Fleckie” wat hy oorgekom het nie, sou hy as ’n doodtevrede ou van die veld kon stap.

Maar sy mistas om agter die pale te druk, het sy span ’n moontlike sewepunter gekos wat die stryd in die doodsnikke sou beklink het.

Die Bulle het uiteindelik met 34-29 gewen in ’n stryd wat hope belofte getoon het en anders as die Curriebeker-wedstryde baie opwindend was.

Labeeb Levy, wat as hoofafrigter diens gedoen het, het Vrydagaand gesê die Augustus-oomblik het al met baie wêreldklasspelers gebeur.

“Jislaaik. Ek het vir Trokkie ’n drukkie gegee en vir hom gesê jy vat die goed saam met die sleg en jy sterf met jou tokse aan,” het Levy oor sy raad aan Augustus ná die wedstryd gesê.

“Dis nie die eerste keer dat so iets gebeur nie. Dit het ook al met Jeff Wilson gebeur, met Robbie Fleck ook. Dit is iets wat ek gaan onthou.

Die pyn: Augustus gryp sy kop ná hy die bal oor die doellyn verloor het. Foto: Gallo Images

“As ek ’n 85-jarige is wat om ’n braaivuur sit, sal ek kan terugdink aan wat kon gebeur of dalk moes gebeur het. Maar dis belangrik vir ons as afrigters om hom te ondersteun. Hy is jonk en het gewys hy wil die werk doen.

“Dié wedstryd was een van sy beter vertonings die afgelope tyd.”

Jake White, afrigter van die Bulle, was gegrief oor die afskopreël van 30 sekondes van die kompetisie wat so byna sy span in die doodsnikke gesink het.

“Daar is geen reël in rugby wat sê as die strafskop oorgeskop word met 36 sekondes oor, moet jy tot by die middellyn hardloop en afskop nie,” het White gesê.

“Geen wet sê dit nie. As ons voorberei om Munster en Leinster te gaan speel, is daar geen manier dat hulle met 30 sekondes se speeltyd oor middellyn toe gaan hardloop en die bal na jou toe terugskop vir jou om weer te hardloop nie.

“Ek verstaan ons wil meer met die bal in spel speel en ’n produk vind. Maar dis ook voorbereiding vir ons en ons gaan nie topspanne kry wat dit doen nie.

“Wat dié kwessie betref, wil ek net sê ons was teen die einde onder druk, maar dit was nie nodig om vinnig af te skop nie.

“Ons kon gewag het tot die sirene loei. Ons moet dit sien as voorbereiding vir almal.

“Dit gaan nie net oor hardloop vir 38 minute nie om dit soos ’n sewes-stryd te laat lyk nie.”

Ondanks die afskopreël wat hom dwars in die krop steek, was White tog in sy noppies met hoe sy jong Bulle gevaar het.

Hy was vol lof vir Nizaam Carr, wat die kaptein was, en hoe hy die span gelei het.

Carr het beslissings van die blaser pal bevraagteken, maar die skeidsregter, anders as ander kapteins, as meneer aangespreek en nie op sy naam nie.

“Jy kan nie goeie kapteinskap afrig nie en ek is baie tevrede met waar hy (Nizaam) is as ’n speler en met die groep.

“Met die telling op 20-7 (in die Stormers se guns) sou jy met ’n swak kaptein, wat na sy eie belange kyk en nie die span s’n nie en wie se kop hang, dalk nie kon terugkom om te wen nie.”

  • Bulle (34) Drieë: Richard Kriel, Joe van Zyl, Marco Jansen van Vuren, Ruan Nortjé, strafdrie. Doelskoppe: Chris Smith (3). Strafdoel: Morné Steyn.
  • Stormers (29) Drieë: Leolin Zas (2). Doelskoppe: Kade Wolhuter (2). Strafdoele: Wolhuter (3), Tim Swiel (2).
Meer oor:  Blou Bulle  |  Juarno Augustus  |  Loftus Versfeld  |  Stormers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.