Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat het geword van...
Tuks-Bok Kruger moes studente ‘vang’
Albert Heenop gesels met Piet Kruger

As ’n dienspligtige in die ou bedeling het Piet Kruger in 1976 as jong polisieman rumoerige studente tydens die Tukkies se intervarsity-stryd met Maties op Loftus Versfeld van die veld help verwyder.

Enkele jare later was hy in Tukkies se “rugbyuniform” in die voorry wat Maties aangevat het.

Kruger, wat lank vir Tukkies en die Blou Bulle in die skrum as stut gesak het, onthou sy dienspligdae as ’n tyd wat sy rugbyloopbaan op Loftus voorafgegaan het.

Flink vir ’n voorryman. Die Springbok-vaskopstut Piet Kruger bemeester ’n hoë bal in die vierde en laaste “toets” teen die rebelle-Kavaliers-span van Nieu-Seeland in 1986. Die ander spelers van links is Gert Smal (nr. 7), Andrew Donald, Murray Mexted en Craig Green. Foto: Jan Hamman

As die Hoërskool Brits se heel eerste Springbok in rugby het hy ná matriek in 1976 sy jaar van nasionale diensplig in die polisie begin.

“Ons was ‘lotelinge’ – outjies wat net vier in plaas van die gewoonlik ses maande opleiding gekry het. Daarna is ses weke na Maleos­kop, buite Groblersdal, oorgeplaas vir spesiale opleiding in skarebeheer.

“Ons het op 9 Junie uitgeklaar, op 12 Junie moes ons by die intervarsity tussen Tuks en Maties op Loftus Versfeld die studente van die veld verwyder voor die afskop, en op 16 Junie het die Soweto-onluste uitgebreek.

“Ons is by Atteridgeville ontplooi. Daar was egter net optogte; niks erg nie.”

Kruger het die jaar ná sy diensplig ingenieurswese begin studeer aan die Universiteit van Pretoria.

“Ek het verslaap vir my eerste wedstryd vir Tuks,” onthou hy, “en Wynand (Claassen) het gesorg dat ek behoorlik pak slae kry op die bus!”

Sy 21ste verjaardag het hy saam met Tukkies se span in Durban by die Toyota-klubkampioenskap gevier, onthou Kruger. Dit was tydens die Paasnaweek van 1979.

Tuks het die eindstryd met 11-27 teen Maties verloor, maar die 21-jarige het een van Tuks se twee drieë aangeteken.

“Die klubkampioenskap was intens – op en van die veld af,” lag hy.

Hy het sy buiging vir Noord-Transvaal in 1981 gemaak, met die Ligbloues se gereelde vaskop, wyle Ockie Oosthuizen, wat saam met die Springbokke op toer in Nieu-Seeland was.

“My eerste wedstryd was teen SWD op Oudtshoorn, en ek het teen Frans ‘Domkrag’ Erasmus geskrum . . .”

Vyf jaar later sou Kruger en Erasmus saam sak in die Springbok-skrum teen die Kavaliers!

In 1982 het Kruger in sy eerste Curriebeker-eindstryd gespeel, teen WP op Nuweland.

Dit was die eerste van vier waarin hy in die tagtigerjare gespeel het, twee keer vir Noord-Transvaal en twee keer vir Transvaal.

“Ek was ongelukkig nie in een van die wedstryde aan die wenkant nie,” sê hy.

Piet Kruger en Leanne
Piet Kruger en Leanne op hul troudag in 2013.

“Die 1987-finaal was veral ontmoedigend. Transvaal het twee drieë teen Noord-Transvaal se geen gedruk, maar steeds met 18-24 verloor weens Naas Botha wat ondanks die gietende reën in die kol was met vier strafskoppe en vier skepskoppe.

“Naas was ’n meester, en om teen hom te speel was aaklig.”

Kruger se kans om vir die Bokke te speel het in 1986 gekom toe die Nieu-Seelandse rebellespan vier toetse in Suid-Afrika kom speel het.

Hy het Flippie van der Merwe vir die derde “toets” teen die Kavaliers vervang.

All Black-legendes soos Gary Knight, Andy Haden, Mark “Cowboy” Shaw en Murray Mexted was destyds sy teenstanders en Loftus was met 70 000 toeskouers volgepak.

“Gelukkig het ek vir amper 10 jaar gereeld op Loftus gespeel, so ek was geensins geïntimideer deur Loftus óf die skare nie. Inteendeel, dit was lekker om my eerste toets daar te speel – en te wen!”

Die Springbokke het die Kavaliers met 33-18 geklop. “Voorlangs was sake gelykop, maar ons agterlyn was ons eenvoudig fenomenaal.”

Oor sy oudspanmaats kan Kruger nie uitgepraat raak nie.

“Soos Burger Geldenhuys se oom, oom Boy Oosthuizen, altyd gesê het: ‘Manne, julle moet memories maak, want daar gaan ’n ’n dag kom dat jy op daai memories moet leef.”

Name soos wyle Louis Moolman en Schalk Burger sr. duik onmiddellik op.

“Mools het my altyd sy ‘laaitie’ genoem. In ’n klubwedstryd tussen Tuks en Pretoria het ek op ’n kol die bal in die hande gekry en woes begin woeker met my elmboë.

“Dis toe dat Mools van hom laat hoor: ‘Hei, laaitie!’

“Ek en Groot Schalk het mekaar goed geroer as Noord-Transvaal teen WP gespeel het; ons was aartsvyande. Maar ek gaan kuier nog gereeld vir hom as ek in die Kaap kom.

“En as Schalk eers sy kitaar uittrek, dan raak dit lekker – met daai stewige vingers en al!

“Ek het sulke goeie vriende gemaak. Selfs ek en (Shaun) Povey, wat mekaar ook lekker geroer het, kon ewe lekker ’n biertjie geniet.

“Wonderlike memories!”

Deesdae is Kruger (61) projekbestuurder by die maatskappy Crown Bag, wat deel uitmaak van die VKB Landbou-groep.

“Ek werk sedert 2014 by VKB, en die afgelope paar jaar by Crown Bag spesifiek,” vertel hy.

Die maatskappy se fabriek is op Harrismith in die skilderagtige Oos-Vrystaat geleë, en Kruger woon sedert 2016 daar.

“Ek is bevoorreg om ongeveer 30 km uit die dorp, in die rigting van die Sterkfonteindam, te bly – in ’n idilliese sandsteenhuis wat ek huur by oom Jannie Campher (93), en sy dogter, dr. Elsie Campher, wat die Brangus-stoet in Suid-Afrika gevestig het,” sê hy.

Kruger is ses jaar gelede met Leanne Koekemoer getroud, en sy het onlangs ook die stadslewe vir die landelikheid van die Oos-Vrystaatse platteland verruil.

Kruger het twee kinders van sy eie. Stephan (26) het ’n graad in logistiek en werk vir die Genet-myngroep in Mpumalanga. Bianca (22) het gasvryheid gestudeer, bedryf haar eie sakeonderneming, Black Moon Bakery, in Centurion en het ’n ses maande oue dogtertjie, Ella.

“Ja, Ella word taamlik voorgetrek en stout grootgemaak deur haar oupa,” skerts Kruger.

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Tukkies  |  Springbok  |  Stut  |  Blou Bulle  |  Wat Het Geword Van
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.